Hiervoor gaan jy hoes – maar daar ís goeie nuus

(Foto: Maroela Media)

Tito Mboweni, minister van finansies, se begrotingsrede gaan gewone Suid-Afrikaners geld kos, maar dit was eindelik veel minder van ʼn ramp as wat moontlik verwag is.

Mboweni het Woensdag waarskynlik een van die moeilikste begrotings tot dusver voorgelê – en die kombinasie van hoë skuldvlakke en groeiende werkloosheid het beteken dat Suid-Afrika reeds voor die Covid-19-pandemie op ʼn onvolhoubare ekonomiese pad was.

Sondebelasting

Drank en sigarette gaan jou oudergewoonte meer uit die sak jaag.

Mboweni het aangekondig aksynsbelasting op alkohol- en tabakprodukte styg met 8%, veel meer as die huidige inflasiekoers van 3,2%.

“Dit is duidelik dat uitermatige drankgebruik kan lei tot negatiewe maatskaplike en gesondheidsgevolge. Verbruikers reageer wel op prysstygings en hoër pryse behoort te lei tot minder gebruik van alkoholprodukte en positiewe nagevolge,” sê Mboweni.

Inkomstebelasting

Daar is goeie nuus rakende persoonlike inkomstebelasting.

Die begroting bied belastingverligting van 5% in persoonlike inkomstebelastingvlakke en -kortings wat bo die inflasiekoers is.

Die bedrag wat ʼn individu kan verdien voordat belasting betaalbaar word, word só vir die belastingjaar van 1 Maart tot 28 Februarie aanstaande jaar aangepas.

Brandstof

Die algemene brandstofheffing gaan met 15c/liter toeneem en die heffing vir die Padongelukkefonds (POF) styg op 7 April met 11 sent.

Dit verhoog die algemene brandstofheffing tot R3,85 per liter petrol, R3,70 per liter diesel en die POF-heffing tot R2,18 vir petrol en diesel.

Die koolstofheffing is onverander op 1 sent.

Die heffings tree op 7 April in werking.

Maatskaplike toelae

Mboweni het ook ʼn verhoging in maatskaplike toelae aangekondig, maar dit is nie veel om oor huis toe te skryf nie.

Ouderdom-, ongeskiktheid- en afhanklikheidstoelae is nou R30 meer en beloop R1 890. Oorlogsveterane kry voortaan ook R30 en ontvang nou ʼn toelaag van R1 910, kindertoelae verhoog met R10 tot R460, terwyl ʼn pleegsorgtoelaag ook met R10 tot R1 050 toeneem.

Mediesefondskrediete

Daar is heelwat bespiegel oor die moontlike skrapping van mediesefondskrediete.

Mboweni het egter aangekondig dat maandelikse bydraes tot mediese fondse (ʼn belastingterugbetaling waarna as ʼn mediesefondskrediet verwys word) deur die persoon wat die bydrae betaal, verhoog word tot R332 vir elk van die eerste twee mense wat deur die fonds gedek word.

Vir elke bykomende afhanklike word die bedrag tot R224 verhoog.

*Grafieke: Nasionale tesourie

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Mad Mike die Rhodesiër ·

Ja nee. Ons oues van dae, gestremdes en ander toelaag-afhanklikes trek alweer aan die kortste end! R30 en R15 is nie eens sakgeld nie!

Corne123 ·

Nou vra ek julle hoekom sit hulle sondebelasting op as hulle dit opskort met covid?

Heinrich ·

Kan iemand vir my verduidelik hoekom daar ‘Oorlogveteranetoelae’ is? Hoeveel jong seuns moes oorlog toe gaan en daarna moes hulle maar net weer kom saamsmelt met die samelewing en hulle deel bring. Is ANC veterane maar net nie in staat nie en na die plant van ‘n paar landmyne heeltemal nutteloos vir die moderne samelewing?

Regverdigheid ·

Janee weet nie wat om te se…. nou wil hul dorpe se name verander in die tyd wat als swaar gaan en dit jos miljoene….. los daai name soos dit was onnodige geld wat gemors word.

Robert ·

Ja so word miljarde rande op onbenullighede verkwis terwyl belangrike dinge agterweë bly!!! Tipies.

Mieke ·

Ek dink as senior persoon is dit bietjie onregverdig dat, nadat ons gewerk en gespaar het vir ons oudag, ons steeds inkomste belasting moet betaal. Met inflasie het jou geldwaarde intussen baie verminder, en dan moet jy nog staan en betalings aan jannie taksman (Sipho taksman?)maak!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.