Highveld-afleggings: Vakbonde dring aan op ingryping

Argieffoto

Argieffoto

Solidariteit en die National Union of Mineworkers (Numsa) het aangekondig hulle sal alles in hul vermoë doen om ʼn dringende vergadering met pres. Jacob Zuma te reël sodat die regering kan ingryp om Highveld Steel se ineenstorting te voorkom.

Die vakbonde het in ʼn gesamentlike verklaring gesê die land sal ‘n strategiese industriële rolspeler en 1 800 geskoolde werksgeleenthede verloor as die regering nie dringend ingryp nie.

“Highveld Steel, die eens suksesvolle staalreus in Emalahleni (Witbank), het op 15 Februarie artikel 189-kennisgewings aan 1 800 van sy werknemers gegee omdat die departement van arbeid versuim het om die ooreengekome Opleiding-Afleggingskema (“Training Layoff Scheme of TLS”) uit te betaal en die NOK nie daarin kon slaag om addisionele befondsing van R150 miljoen te verskaf nie,” het die vakbonde in die verklaring gesê.

“Die gebrek aan hierdie befondsing, wat vir Highveld gebiedend noodsaaklik is om as ʼn lopende onderneming voort te gaan, kan tot gevolg hê dat die sakebedrywighede heeltemal beëindig word en al die werknemers afgelê word. Dit sal verwoestende gevolge inhou, nie slegs vir die plaaslike ekonomie nie, maar die hele staalbedryf in Suid-Afrika. As verteenwoordigers van die Highveld-arbeidsmag, doen Solidariteit en NUMSA ʼn beroep op die regering om nie toe te laat dat dit gebeur nie.”

Die vakbonde het gesê Highveld Steel is ʼn duidelike gevallestudie van die regering se vermoë en bereidwilligheid om sy eie strategiese doelwitte gestand te doen. Hierdie prioriteite is duidelik uiteengesit, met president Zuma wat dit so onlangs soos verlede week in sy staatsrede herhaal het. In die besonder is die kernpunte van die regering se ekonomiese agenda om:

  • werksgeleenthede te skep en te behou, met besonderse klem op geskoolde werk in die vervaardigingsektor;
  • industriële kapasiteit in Suid-Afrika te bewaar of te herbou;
  • die diversifisering van plaaslike verskaffingskettings te bevorder en plaaslike vaslegging van inkomste te verbeter.

“Die regering se ingryping by Highveld Steel sal ten minste 1 750 geskoolde en goed besoldigde poste behoue laat bly. Die redding van hierdie onderneming sal verseker dat unieke struktuurstaalkapasiteit in Suid-Afrika behou word en deïndustrialisasie verminder word. Verder sal dit plaaslike vaardighede, kapasiteit en binnelandse verskaffingskettings ondersteun. Dit is ook belangrik omdat dit ook invoere en druk op die lopende rekening sal verminder deur middel van plaaslike staalvervaardiging.

“Die NOK, wat ʼn mandaat het om Suid-Afrikaanse nywerheidskapasiteit te bewaar, hetdit ten doel gestel om in die toekoms R450 000 per werksgeleentheid te investeer. Daarteenoor sal dit net R85 000 per werksgeleentheid by Highveld kos, minder as 20% van hierdie doelwit in huidige terme. Hierdie geskoolde poste betaal ordentlike lone.  Voorts dra Highveld nagenoeg R200 miljoen tot die staatskas by deur inkomstebelasting en verskaf hy staal aan plaaslike verskaffingskettings ten bedrae van R4 miljard per jaar. Om Highveld te red, is duidelik ʼn wen-wen-situasie.”

Die vakbonde herhaal dat die ineenstorting van Highveld onaanvaarbaar is, omdat dit verreikende nasionale en strategiese implikasies het. Daar is ʼn lewensvatbare plan wat, met die regte vlak van befondsing op kommersiële terme, die onderneming kan red.

Lees meer oor Highveld Steel op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Rudi ·

Die regering sal liewers miljarde mors om iets soos SAA aan die gang te hou ipv om ‘n werklike noodsaaklike industrie soos Highveld te red.

GES ·

SAA bied meer gesigwaarde vir die ANC. En dink nou, hoe sou hulle oorsee kon reis as SAA nie daar is nie? Geen ander redery sal toelaat dat hulle misbruik word nie.

GES ·

Emalagleni (Witbank) se ekokonomie gaan ‘n baie ernstige knou kry as die val van High Veld Steel nie gestuit word nie. Die regering sal duidelike leierskap moet toon in ingryp. Emalahleni se ekonomie is gebaseer op industriële aktiwiteite. Die hoop word uitgespreek dat die ANC regering nie die selfde houding gaan inneem nie soos met die droogtehulp die geval is.

DPJ ·

Die regime verstaan niks van ekonomie nie anders as om hul sakke te vul met korruosie nie.

Arym ·

And yet it is the Unions who demand higher wages when the companies clearly cannot afford it and now there will be thousands without any income at all. Such a sorry state of affairs.

Uys ·

Die verkoop van HVS aan China bewys net weer hoe die ANC inmeng.
Wat was op die tafel om n HVS te koop wat werkend was en wat sal nou betaal word vir HVS wat sy deure gesluit het.

BLOMMETJIE ·

EERS WORD DAAR GESTAAK OOR LONE DAN KRY HULLE DIT NOU DAT DIE MYN DIT NIE MEER KAN BEKOSTIG NIE NOU MOET DIE REGERING INGRYP OM TE VOORKOM DAT DIE MYN SLUIT. DIE KOEI KAN NET SOVEEL GEMELK WORD.

Chris W ·

Die anc president gaan hom aan niks en niemand steur nie want HY SKEP MOS WERK!Wat is 1800 verlose poste vir hom?Hy leef lekker op ander se geld.

Nita ·

N universiteit is dalk gebou om 10000studente op te lei en te huisves. Nou wil 30000 studente die plek toestroom en verwag behuising boonop. Meer Engelse universiteite moet gebou word.

Johannes Meintjes ·

Betreurenswaardige situasie inderdaad. Toenemend-ernstige simptome van 21 jaar se sosio-ekonomiese verval in die Nuwe SA.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.