Highveld Steel moet finaal sy deure sluit

staalbedryf seifsa

Argieffoto: Hera.org.nz

Highveld Steel, die eens suksesvolle staalreus in Emalahleni (Witbank), sal binnekort finaal sy deure sluit.

Die maatskappy het die sluiting in ʼn artikel 189-kennisgewing aangekondig nadat werknemers Woensdag huis toe gestuur is omdat die maatskappy nie in staat is om hul salarisse te betaal nie. Sowat 1 753 van die maatskappy se werknemers word deur die sluiting geraak.

Marius Croucamp, adjunk-hoofsekretaris van Solidariteit, het gesê die vakbond het ʼn beroep op die regering gedoen om sy rol in die krisis, asook sy verantwoordelikheid teenoor die maatskappy en sy werknemers, te erken.

Volgens Croucamp sal Highveld Steel se sluiting die plaaslike ekonomie en welvaart van Witbank tot in sy fondamente ruk. “As vakbond sal ons steeds alles in ons vermoë doen om te keer dat Highveld Steel sy deure finaal sluit. Ons sal tydens die afleggingsittings met die werkgewer alle verdere alternatiewe tot afleggings voorstel en ondersoek,” het hy gesê.

Die afleggingsproses volg nadat alternatiewe maatstawwe, waaronder die kooptransaksie met ’n Chinese maatskappy, International Resources Limited (IRL), deur die mat geval het. Boonop is Highveld Steel se ooreenkoms met die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) om sy werknemers op ’n opleiding-afleggingskema te plaas, beëindig. Laasgenoemde hou direk verband met die werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) se niebetaling van noodsaaklike geld aan die maatskappy.

Croucamp het gesê Solidariteit sal, ten einde die uitwerking van die afleggingsproses op sy lede te versag, na sy lede se belange omsien tydens die samesprekings met die maatskappy. “Ons sal onder meer, in samewerking met Solidariteit Helpende Hand, voedselpakkies aan lede en hul gesinne voorsien,” het hy gesê.

Volgens Croucamp het Solidariteit al telkens daarop gewys dat die regering met hoë belasting, ondermyning van eiendomsreg en die daarstel van allerlei administratiewe rompslomp direk daartoe bydra dat ondernemings finansieel sukkel. Hy het ook gesê dit is baie jammer dat die WVF op die laaste nippertjie die betaling van geld aan Highveld Steel weerhou het.

“Daar is verskeie ongerymdhede in die optrede van die departement van arbeid ten opsigte van Highveld Steel en die krisis waarin die maatskappy hom bevind,” het hy gesê. “Die gevolg is dat duisende mense moontlik hul werk kwyt gaan wees. Ons sal tydens afleggingsittings en beraadslaging hierdie kwessies onder die loep neem.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Johann Marx ·

En daar gaan NOG ‘n deurtjie oop vir die Guptas en Zuptas… Hulle gaan een van die dae die hele land besit…

ig ·

Miskien het die WVF saam gewerk sodat die Gupta’s die staalfabriek vir n appel en ui kan opraap.

MCS ·

Ja, ek ken twee gesinne wat daar werksaam was! Als die regering se skuld! Nou wat nou Zuma? Verkoop RSA vir n pot rys aan die ryseters!

Frederiks ·

MCS, Zuma lyk darem gelukkig na ‘n “Hasbeen”. Sy Russiese en Chinese mondelinge ooreenkomste behoort nie te realiseer nie. Wat het in elk geval van Tina Joemat-Petterson geword ? Het sy nie dalk in een van Nkôndla se bunkers haar intrek geneem nie ? Die WVF is bankrot. Na die afgelope jaar se afleggings in RSA moes hul noodwendig vou.

Sputnik ·

Ig, glo dit of nie, maar die uitdrukking is “vir ‘n appel en ‘n ei”. Dif is niè ‘n ui nie.

Sputnik ·

Ig, glo dit of nie, maar die uitdrukking is “vir ‘n appel en ‘n ei”. Dif is niè ‘n ui nie.

Kerneels ·

Heeltemal korrek, en ek sien iemand vra (sarkasties?) wat is ‘n ei. Dit is Hollands vir ‘n eier, want baie van ons spreekwoorde kom uit Nederlands.

Danie du plooy ·

Ons ingeneusmaatskappye is al klaar besig om swaar te trek met staal tekort….wat gaan va SA word as dit so aan gaan…ek is bekomerd…

frans ·

Hul sal ni rus voor da niks is want hule verstaan ni om op de bou ni

Realis ·

Toe ek in 1970 daar begin werk het was Highveld Steel & Vanadium Corporation een van die voorste werkgewers in die land. Wat ‘n tragedie. Ons dink in ons gebede aan die afgelegdes.
Belangriker nog, ons moet ernstig bid dat hierdie klomp despote wat aan hierdie skip se stuur is, spoedig tot hulle sinne sal kom voordat hulle ons almal in ons peetjie in stuur.

Marius du Preez ·

Dis mos omdat daar eerder van Zuma se chinese maatjies se staal ingevoer word en nie van plaaslike produk gebruik gemaak… So is ons nog ‘n tree nader aan ‘n totale welsynstaat..

Elize ·

Wonder wat sal Zuma maak as daar vir tyd en wyl mense by sy spoghuis gaan intrek? Dis agv sy vriendskap met die Gupta’s dat die mense nou gaan swaarkry. Dit is goed om kospakkies uit te deel, maar weereens is die ANC nie die mense wat sorg nie. Hulle skep die soustrein leeg en die mense wat vir jare werk om ‘n Mpy op te bou moet terugstaan. Wat gaan van hulle word? dit is nou maar net die begin, want soveel besighede in die streek gaan ook daaronder ly.

m ·

En so word die werkloosheid net meer en meer . Niks gaan ooit verbeter solank hierdie tipe mense in beheer is nie.

Ben Prinsloo. ·

Frans hierdie is n kompliment. Jy is een van die min mense wat werklik vandag se politikuste en president se denkwyse verstaan. Hoe meer jy gee hoe meer wil hy hê.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.