Hillside, Tarlton loop deur onder verwoestende brande

Brande in Tarlton buite Krugersdorp (Oktober 2019) (Foto: Verskaf)

Veeweiding en landerye is Maandag in Tarlton buite Krugersdorp in Gauteng vernietig en die gemeenskap moes inspring en help om die brand te blus wat deur sterk wind aangeblaas is.

Die skade wat die aangerig het, kon verhinder gewees het indien mense versigtigheid aan die dag lê en keer dat oop vure buite beheer raak, het Tjaart Steenkamp, VF Plus-raadslid in die Mogale City- plaaslike munisipaliteit, gesê.

Kleinboere wat reeds gebuk gaan onder droogtetoestande is die ergste getref. Daar is nog nie ʼn amptelike vee-verliessyfer beskikbaar nie. Watertrokke kon nie gevul word nie omdat brandende kragpale omgeval het en groot gebiede sonder elektrisiteit was.

“Hoewel daar streng wetgewing geld vir die voorkoming van veldbrande, steur min hulle daaraan. Die VF Plus doen ʼn dringende beroep op die inwoners van Mogale City om versigtig te wees om oop vure sonder toesig te laat, nie sigaretstompies by motorvensters uit te gooi nie en om aan te sluit by plaaslike gemeenskappolisiëringforums om brande sodoende onmiddellik aan te meld,” het Steenkamp gesê.

“Gemeenskappe moet verantwoordelikheid vir hul eie welstand begin neem en voorsorg tref om gevaarlike situasies te verhinder. Elkeen, hoe groot of klein, kan met die regte gesindheid ʼn betekenisvolle bydrae lewer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Amanda ·

Hier is in ons omgewing, Millvale en Wysfontein, Rustenburg distrik, ook vir 3 dae nou al brande, wildsplase het deurgeloop. Dankie vir almal, wat gehelp vuurslaan het. Wil voorkom of die veld op verskeie plekke aan die brand gesteek is. Brandpaaie het absoluut niks gehelp nie. Vuur spring oor teerpad. Wat ek ook met my eie oë gesien het is hope bome en aalwyne wat op n hoop gestoot is om brandpaaie te maak en lyndrade te span, en net so gelos is, en dit was oorsaak dat vuur oor die pad spring. Dit maak n groot vuur. Boere sal sulke hope so gou moontlik moet verwyder.

Phil ·

Leë bottels en blikkies in die veld kan ook die gras of veld aan die brand steek, veral met die hitte en son wat ons in die laaste paar dae ervaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.