Historiese ooreenkoms vir UP

Die verteenwoordigers van die onderskeie organisasies. Foto: Reint Dykema

Die verteenwoordigers van die onderskeie organisasies. Foto: Reint Dykema

Verteenwoordigers van die ANC-alliansie en die Solidariteit Beweging het Sondag ʼn historiese ooreenkoms voorgelê vir die herstel van ’n vreedsame, stabiele en volhoubare akademiese program aan die Universiteit van Pretoria (UP).

Die ooreenkoms kom nadat verteenwoordigers van onder meer die ANC in Gauteng, die SAKP, Cosatu, Sanco, Solidariteit en AfriForum Woensdag ʼn hoëvlak-vergadering in Pretoria gehou het oor die reeks gewelddadige gebeure wat verlede week tot die sluiting van UP gelei het.

“Veelpartygesprekke het ons land histories as beste praktyk gedien om komplekse sake van gemeenskaplike belang tussen verskeie belanghebbendes en partye op te los,” het die betrokke partye in ʼn gesamentlike verklaring gesê.

Die partye het op die volgende ooreengekom: Om intimidasie, ontwrigting, geweld en pogings om die universiteitsgemeenskap op grond van rassegrondslag te polariseer onvoorwaardelik te veroordeel; die transformasie van die universiteit en die taalbeleid asook die heropening van die universiteit. (Lees die volledige ooreenkoms hier)

’n Nuwe veelpartykomitee sal intussen ʼn nuwe taalbeleid vir die UP ontwikkel. Maroela Media het vroeër die week berig dat die wysigings wat aan die taalbeleid voorgestel is, nie dié van die taalbeleid-taakspan of die senaat was nie.

Flip Buys. Foto: Reint Dykema

Flip Buys. Foto: Reint Dykema

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het tydens Sondag se mediakonferensie die hoop uitgespreek dat die ooreenkoms gebruik kan word om die situasies op ander kampusse te stabiliseer. “Kwaliteitonderrig is die enigste manier om uit armoede uit te kom.”

Hope Papo, provinsiale sekretaris van die ANC in Gauteng, het gesê indien daar probleme op kampusse in die land is, dat daar oplossings deur alle partye en belanghebbendes gevind moet word. “Elke universiteit moet ʼn institusionele forum hê waar alle brandende kwessies bespreek kan word soos taalbeleid en transformasie. Afrikaans, Engels en ander Afrika-tale word deur die grondwet erken en ons moet daartoe werk om al die tale te ontwikkel.”

Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het gesê dit is kommerwekkend dat die boodskap wat van kampusse regoor die land gestuur word, dié is dat die land in ʼn toestand van geweld is en dat daar spanning tussen wit en swart is. “Daar is ʼn ander Suid-Afrika waar mense met groot verskille mekaar in die middel vind en waar daar aan die grondwet voldoen word.”

Jacob Mamabolo, sekretaris van die SAKP in Gauteng, het gesê dié party sal nie geweld en intimidasie toelaat nie. “Ons het ʼn stabiele akademiese omgewing nodig. Geweld moet veroordeel word.”

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê die #FeesMustFall-beweging is gekaap deur radikale studente wat van geweld en intimidasie gebruik maak om hul eise te stel. “Die meerderheid studente – swart en wit – wil vreedsaam studeer. Hierdie is ʼn geskiedkundige ooreenkoms wat ʼn duidelike boodskap aan Suid-Afrikaners stuur dat die oorgrote meerderheid opstaan teen geweld en intimidasie en oplossings wil vind.”

Volgens Kriel het die bestuur van UP die onderneming gegee dat daar streng opgetree sal word teen studente wat gewelddadig is en akademiese bedrywighede by die universiteit ontwrig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

35 Kommentare

Leendert van Oostrum ·

Goeie werk, Afriforum en Solidariteit.

As mens dan magsentrums moet hê, moet hulle hul mag wyslik aanwend. Ek meen dit het hier gebeur.

Liewe heksie ·

Kom ons hou almal hande vas dat dit iets vir die toekoms inhou maar hoe gaan hul daai massa barbare in toom hou Ek kry net n rilling in my rug af

Michael ·

Eerstens is daar nie ‘n plek soos die stad Tshwane nie dit is die Metro van Tshwane en die stad Pretoria en tweedens is die eff die moeilikheid makers,hoekom is daar nie met hulle ook onderhandel as ‘n redelike mens met hulle kan onderhandel.Hoekom was die polisie nie deel van die onderhandelinge nie hulle bly in gebreke om wet en orde te handhaaf.

Zach Coetzee ·

Hierdie nuus is geweldig! Mooi gedoen. Dit kan tot oplossings vir dooiepunte lei. Veels geluk Solidariteit/Afriforum

kobu ·

Die woord “destabiliseer” in die berig hierbo moes seker “stabiliseer” gewees het. Of hoe?

Nico Strydom ·

Dagsê Kobu
Jy is reg. Dankie die berig is gewysig.
Vriendelike groete
Nico strydom nms Maroela Media

Veritas ·

Baie goeie idees maar dit alles beteken niks sonder daadwerklike optrede teen die sondebokke nie. Hoeveel van die moeilikheidmakers wat gearresteer was, gaan vervolg word? Indien die roete gevolg en swaar strawwe nie uitgedeel word nie, is dit so doeltreffend as om ‘n gebarste ballon te probeer opblaas. Studente wat hulle skuldig gemaak het aan vandalisme moet summier geskors en verantwoordelik gehou word vir die skade. Nie-studente moet met die volle geweld van die wet te doen kry.

Bruno Stef ·

Dit is in elk geval n ooreenkoms wat deur volwasse gesprek tot stand gebring is deur mense wat van mekaar verskil maar die teenoorgestelde van die ooreenkoms goed begryp.Wees net voorbereid op die bevooroordeeldes wat die ooreenkoms sal wil kaap vir hulle gewin “Die Liberaliste” en die seunse weenkoor hulle verdien eintlik net n warm klap so in die verbygang.

FM ·

My vraag:Wat is besluit mbt die kwessie van Afrikaans by die universiteit. Laat weet my asb.

Poplap ·

Hoekom loop vra jy nie die owerhede wat in beheer van sulke kwessies by die Universiteit is nie???

Flippie ·

Sien is glo –
6 Feb 1838 Die Dingane Retief traktaat
11Okt 1996 Die hrondwet van SA

Beide hierdie ooreenkomste is deur die swartmense van Suid Afrika geskend om witmense te na te kom.

En nou word ‘n ooreenkoms bereik waar daar alreeds vir 20 jaar ‘n ooreenkoms in plek is.

Rooijan ·

Ag nee man Flippie is niks dan goed genoeg nie. Verstaan jy dat 80% van ons land se bevolking swart is? Dink jy nie dat ons moet ewe veel rug styfmaak en praat nie. Nee man klim uit jou pessimistiese swartgalligheid uit of hou dit ten minste vir jouself. Daar is ń spreukwooord wat lui dat “what you believe will happen , will happen” ons moet glo ons kan dit maak werk, maar glo my daar is geen maar geen manier wat die Afrikaner dit in isolasie kan doen hier in Suid Afrika nie. Ek is ongelooflik trots op Flip, Kallie, Dirk en die span afriforum studente by Tuks. Ulle het groot volwassenheid en vasberadenheid aan die dag gelê. En ek moet sê ek verwelkom die feit dat die minister, die ANC en selfs die SAKP uit hul kop omlaag modus gebreek het en besluit het om met Flip, Kallie en kie te praat. Hier kan iets van kom. Natuurlik moet ons op ons hoede bly en ek is 100% seker die EFF is nog lank nie klaar met hulle strooi nie.

Gerda ·

Dit is ‘n wonderwerk en die gevolg van al die gebede die afgelope tyd op kampus.

Henry ·

Uiteindelik en baie dankie!!!
Gesprekke wat tot verdere oplossings kan lei vir al die probleme wat die voorbestaan van Tukkies ernstig bedreig.
Groot dankie aan Solidariteit en Afriforum se ysters wat ons Afrikanerbelange verteenwoordig en help beskerm.
Hopelik sal dit ook nuwe momentum verskaf aan soortgelyke gesprekke en oplossings wat in Bloemfontein en Potjiesdorp gevind moet word.

Ansie ·

Baie geluk uit die Kaap! Stap in die regte rigting deur Afrikaanse instellings wat weet wie hulle is en nie heeltyd verskoning vra nie. Ek was neerslagtig, so blootgestel aan Afrikaner-bashing deur Max en Kie en universiteite se toegewings aan duidelik misdadige elemente. Selfs as daar nie dadelik sukses volg nie, bly dit strate beter as enigiets anders wat gedoen is (of nie). Sterkte aan Solidariteit en Afriforum. En sommer ook Maroela Media vir deurlopende betroubare dekking en kommentaar. Saam met julle bly ek trots Afrikaans.

Sakkie du Plooy ·

Ek stem met Henry: Uiteindelik en baie dankie! En nou kan die PUK en UV dieselfde pad loop en studente en dosente kan mat hulle werk aangaan. Flip is in die kol: Kwaliteitonderrig is die enigste manier om uit armoede te kom.

Rupert Ashford ·

Jy verstaan nie hoe die ouens werk nie ne? Hulle is die meerderheid en sal juis aandring daarop om op Sondag te ontmoet om die Boere kwaad te maak – tydens onderhandelinge probeer jy die botoon voer met alles veral as jou argument die swakker een is. As jou opponent ongemaklik of vies is voor ‘n enkele woord gese is het jy klaar punte op die bord.

Johann Marx ·

Flip is net op een punt verkeerd: “kwaliteitsonderrig is NIE die enigste manier uit armoede nie” Dis maar EEN van baie uitweë, as ‘n man maar net wil. Ek kan ook nie verstaan dat ons nou besig is om die wiel te her-ontdek nie. Hierdie besprekingspunte was mos in 1994 in die grondwet onderhandel, en daarin vervat? Waarom moet dit nou WEER bespreek en “getransformeer” word? Klink bietjie NG kerk, doen dit nie?

Sarie ·

Op die keper beskou het die span van Solidariteit en Afriforum vir my meer integriteit as die onderhandelaars in 1994 wat gou-gou witpens bo gaan lê het en hulle opponente wat deur propaganda van die internasionale wêreld en die seunse weenkoor plaaslik oor hulle laat loop het. Die ANC en hulle meelopers het deur hulle eie vrot regering die skending van die Grondwet hulleself in die voet geskiet. Kom ons gee Flip en sy span ‘n kans.

Hein ·

Interesant dat onderhandelinge met die ANC nou geskied dmv Burgerregtegroepe en nie meer politieke partye nie. Dit is nou meer as duidelik dat minderhede nie meer plek het in die meerderheidspolitiek het nie. Ons kan ons eenvoudig net beroep op die hof om ons regte af te dwing of deur onderhandelinge deur burgerregtegroepe. As Afriforum se jeug nie weerstand gebied het teen die EFF sou daar nog steeds ontwrigting plaasgevind het. Hierdie oproer was die EFF se verkiesingsveltog!

Sarie ·

Ek dink hulle skaar hulle by die EFF en die Seunse weenkoor :))

Joe ·

Hulle ‘skaar’ hulle by die wat geweld teen staan vir seker die eerste keer.

Rooijan ·

By die DA, erens tussen niks en nerens ek is bevrees die DA het my baie teleurgestel in die laaste twee tot drie weke. Eers met die pers gesig insident en toe weer laasweek. So ń paar slapgewrig goedjies gesê maar duidelik probeer hulle so hard om op die draad te sit dat hulle net tyd het vir balanseer en niks anders nie.

een mag maak krag ·

DA????? Sien is glo, dis nou net PRAAT en van die Kant BID BID BID.

Rupert Ashford ·

Wat maak die SAKP daar as hulle alle verkiesings as “ANC in disguise” veg maar die EFF was nie daar nie? EFF is die mense wat hierdie chaos dryf en gaan hulle nie laat stop nie, of hulle gaan ten minste probeer aangaan waar hulle gestop het so hou julle hoede vas. Arme Afriforum/Solidariteit manne moes weer aan alle kante keer vir hulle wickets. Welgedaan onder die omstandighede Flip.

Kobus-N ·

Ons herontdek nie die wiel nie. Afriforum en Solidariteit is net weer besig om die wiel terug te sit aan die wa wat die EFF laat afval het.

Frans ·

Gaan die betogende studente tevrede wees met die ooreenkoms? Wie het hulle verteenwoordig?

Johannes Meintjes ·

Dankbaar vir die ooreenkoms. Hoop dit dring deur tot al die ander universiteite in SA. Daar is egter nog te veel landsburgers van alle kulture wie bloot op die kantlyne van ons samelewing die hande wring en nie elkeen op elke moontlike terrein binne elkeen se bereik op elke vlak, daagliks die regte dinge doen of die regte voorbeelde stel nie.

Connie ·

Ek is bevrees die DA het my stem verloor. Hulle is nie warm nie en ook nie koud nie. Nee wat, DA = Daar Anderkant.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.