‘Historiese oorwinning’ vir Pretoria FM

(Foto: Verskaf)

Die Onafhanklike Kommunikasieowerheid van Suid-Afrika (Okosa) se beslissing in die guns van Pretoria FM is die “klimaks” van dié radiostasie se “epiese regstryd vir sy reg om na ʼn kulturele gemeenskap van belang regoor Suid-Afrika uit te saai”.

Só meen Willie Spies, uitvoerende voorsitter van Pretoria FM, oor dié radiostasie se oorwinning oor die mediareus Primedia. Hy het die uitspraak as ʼn mylpaal-beslissing beskryf.

Primedia het Pretoria FM daarvan beskuldig dat hy die regulasies vir programsindikasie oortree en ook nie sy lisensievoorwaardes nagekom het nie.

Dít omdat Pretoria FM ook uitsendings na sy filiaalstasies Radio Wolkberg, Radio Kransberg, Radio Ysterberg, Radio Tafelkop, Radio Dagbreek, Radio Naboom en Radio Magaliesberg doen – iets wat hy byna 30 jaar lank reeds doen.

Volgens Primedia het Pretoria FM versuim om te voldoen aan klousule 3 van sy lisensie wat bepaal dat hy slegs dienste “in die groter Pretoria-streek en sy onmiddellike omliggende gebiede binne die Stad Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit in die Gauteng” sal verskaf soos uiteengesit in die lisensiehouer se radiofrekwensie-spektrumlisensie.

Maroela Media het vroeër berig Pretoria FM het in 2010 die eerste keer ʼn vyf jaar lange gemeenskap-uitsaailisensie vir die groter Pretoria-streek gekry. In 2015 het hy ook die eerste keer lisensies vir sy filiaalstasies ontvang en dié dienste is toe onder die vaandel van Pretoria FM saamgesnoer.

Primedia het aangevoer dat Pretoria FM in wese ʼn enkele diens bedryf deur sy eie lisensies sowel as die lisensies van al sy geaffilieerde stasies te gebruik. Dit doen hy deur die gelyktydige uitsaai op verskille stasies op ʼn manier wat nie aan die toepaslike regulasies voldoen nie.

“Die lisensiehouer se dekkingsgebied is aansienlik uitgebrei as gevolg van die gelyktydige uitsaai van sy programme op al die senders wat aan sy sewe affiliasies gelisensieer is.”

Primedia het voorts aangevoer dat die oortreding van die regulasies en sy lisensievoorwaardes deur Pretoria FM en sy affiliasies onregverdig en teen-mededinging is.

Okosa nié oortuig

Regter Thokozile Masipa was eindelik nie hiervan oortuig nie.

“Die eerste ding wat uitstaan is dat Pretoria FM die lisensiehouer in al die gevalle is. Die tweede is dat die gemeenskap wat deur die lisensie en deur die uitsending bedien moet word, in klousule 4 van die lisensie omskryf word. Dit voorsien dat die lisensie dienste sal verskaf aan ʼn boere Afrikaner-gemeenskap van belang wat woonagtig is binne die geografiese gebiede hierin gespesifiseer.”

Masipa het gevolglik beslis dat die bewering dat Pretoria FM sy lisensievoorwaardes en die regulasies oortree geen grond het nie.

“Pretoria FM is gelisensieer om in die sewe gebiede uit te saai terwyl die distriksmunisipaliteite waar die uitsendings plaasvind duidelik omskryf is.

“Terwyl die luisteraars op verskeie geografiese plekke woon, is hulle in werklikheid een gemeenskap wat ʼn spesifieke belangstelling deel, soos kultuur en boeremusiek. Omdat die aantal mense wat die spesifieke gemeenskap van belange vorm nie groot genoeg is om die senders toe te laat om volwaardige, onafhanklike outonome gemeenskapsuitsaaiers te word nie, het Pretoria FM voortgegaan om 100% van sy programme met sy affiliasies te deel.

Pretoria FM moes hom in sy 28 jaar lange bestaan reeds verskeie kere tot die hof wend om te verseker dat sy stem oor die klankgolwe nie stilgemaak word nie.

Volgens Spies het Pretoria FM opnuut bewys “dat ʼn mens nooit moet tou opgooi in jou stryd om erkenning van jou fundamentele regte nie”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Swerwer ·

Daan na google en tik in “Listen FM Pretoria live” en klik, dan kom dit op. Heerlik om na te luister!

Blikkies ·

Wel Gedaan, ek geniet Pretoria FM. Dit is nou ‘n lekker saampraat en luister stasie.

Swerwer ·

Fantasties! Ek geniet “FM Pretoria” elke dag vir jare lank al.

Phillip ·

Hoop glo en leef in afriekaans Pretoria FM
Phillip Jessen

Alfred E Neuman ·

Dis nie die regering nie. Dit is Primedia/702 wat gekla het. Hulle word besit deur die mynwerkers belegginggsfonds, ou mutual en n bank

Piet Snot ·

Ou Mutual, FirstRand, Mynwerkers = aandeelhouers.
KFM, 702, 947, Cape Talk = hul stasies.
Eyewitness News.
Dis wie Primedia is.

Johan ·

Ek stroom dit sommerso waar ek gaan, van die Kaap tot in Tanzanië.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.