Historiese plaashuis in Paarl brand af

Die plaasopstal in vlamme gehul (Foto: Drakenstein Farm Watch, Facebook)

ʼn Historiese plaashuis op die Eben-Haëzer-plaas in die Paarl is Donderdag in die vroeë oggendure in vlamme gehul.

Die Drakenstein-plaaswag se brandweerdienste is omstreeks 04:00 ontbied deur ʼn sekuriteitswag wat vlamme in die veld gewaar het. Daan van Leeuwen Boomkamp, die plaaswag se bevelvoerder, sê met hulle aankoms op die toneel het die grasdak van die plaasopstal reeds vlam gevat.

Die plaaswag het binne minute 4×4-brandweerwaens en ʼn 700 L-bakkie-eenheid laat kom om die brand te blus. Ander nooddienste soos Fidelity Adt, Paarl K9-polisie en die plaaslike brandweer het hulle so gou moontlik na die toneel gehaas.

“Ons het als in ons vermoë gedoen om die vlamme te blus, maar ons kon ongelukkig nie die historiese gebou red nie. Die huis is tot op die grond afgebrand,” vertel Van Leeuwen, wat steeds op die toneel is om die brand heeltemal uit te wis.

Die plaasopstal in vlamme gehul (Foto: Drakenstein Farm Watch, Facebook)

Van Leeuwen het Donderdagoggend aan Maroela Media vertel hulle moes van die brandweerwaens en waterkanonne van die huis terugtrek weens die erge hitte van die vlamme en sterk winde wat woed.

Die Drakenstein-plaaswag kon daarin slaag om al die inwoners van die plaashuis betyds uit die huis te red. Die nooddienste het geskarrel om die brand te onderdruk en te verhoed dat die brand na die plaasskure versprei. Die diere in die skuur is nie deur die brand geraak nie.

Van Leeuwen vertel hulle het probeer om te keer dat die brand verder na die omliggende plase, soos die aangrensende Ashia Cheetah-plaas, versprei.

Die oorsaak van die brand is nog nie bekend nie.

“Ons wil ons innige meegevoel betuig met die eienaars wat hul kosbare familieplaas verloor het.”

Die Eben-Haëzer-plaas behoort aan die Breugem-familie, wat hulle in 1976 vanuit Nederland in die Drakensteinvallei in die Paarl kom vestig het. Die plaasopstal dateer uit 1837.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Jakkie ·

Hannes hoe kan jy sommer summier die EFF blameer. Daar is verskeie faktore wat hier ter sprake kan wees. Onder andere beleef die Paarl tans ‘n ekstreme hittegolf, gister was dit 42°C in die Paarl – absoluut onleefbaar ‘n mens kon nie asemhaal nie. ‘n Stukkie glas wat rondgelê het kon ‘n graspol aan die brand gesteek het, wat die brand aangewakker het. Daar is ook iets soos spontanious combustion – hierdie is ‘n grasdak en die hitte kon die dak spontaan laat brand het. Ek glo nie ons moet alewig op die politieke wa spring en ander partye beskuldig nie.

Kootjie ·

Nee! Een vurhoutjie… en daar gaan die dak!! Mens kan maar alles toe skryf aan poletiek!! Want dit is waaroor die hele spul draai! Die nag is ook nie so warm dat die dak sommer vanself aan die brand sal kan raak nie!! Word wakker my maat…en wees bedag wat rondom jou aangaan!! En moenie met jou broek om jou knie gevang word nie!! Wees versigtig!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.