Historiese wynplaas op veiling

Morgenhof-wynlandgoed. (Foto: Facebook)

Een van Suid-Afrika se oudste wynplase, Morgenhof-wynlandgoed beland volgende week onder die hamer. Hierdie is ʼn merkwaardige gebeurtenis aangesien dié 329-jaar oue plaas aan die hange van Simonsberg in Stellenbosch vir die eerste keer in die geskiedenis op ʼn veiling sal beland.

Die landgoed is ‘n baanbreker in Suid-Afrikaanse wingerdbou. Die geskiedenis van dié historiese wynmakery dateer terug na 1692, tot by die Franse Hugenote.

“’n Indrukwekkende getal belangstellendes uit meer as 13 lande het reeds vir die veiling geregistreer. Kopers uit Suid-Afrika, Australië, China, Duitsland, België, Lesotho, Indië, Italië, Frankryk, Engeland, Kenia, Kanada en die VSA is van plan om op hierdie geskiedkundige landmerk te bie,” sê Joff van Reenen, direkteur en hoofafslaer van High Street Auctions.

“Daar is selfs verskeie potensiële beleggers uit vier lande, naamlik Suid-Afrika, Engeland, Australië en die VSA.

“Die eerste van twee besigtigings is deur belangstellende kopers uit Suid-Afrika bygewoon, asook verskeie wat uit die buiteland ingevlieg het.”

ʼn Aansienlike hoeveelheid buitelandse valuta sal dus betrokke wees en daar is ook belastingvoordele ter sprake, wat uiters voordelig vir die uiteindelike koper sal wees.

Die landgoed word tans deur Anne Cointreau besit wat dit dertig jaar gelede gekoop het. Die bekende Cointreau-familie vervaardig sedert 1272 wyn, sjampanje en spiritualieë in Frankryk. Anne se oupagrootjie, Adolphe, is bekend vir sy skepping van die beroemde oranje likeur wat die familienaam dra en sy seun die luukse konjak, Remy Martin.

Die eetkamer in die hoofopstal op Morgenhof. (Foto; Verskaf)

Anne het nou ʼn rype ouderdom bereik en besluit om terug te keer Frankryk toe na haar familie en kleinkinders.

Dié waardevolle 210 ha wynlandgoed met sy historiese opstal, geboue en imposante, ondergrondse kelder word as ‘n lopende onderneming verkoop. Al die  meubels en toebehore word by die verkoop ingesluit, asook die inhoud van die wynkelder. Die aanvangsbod is R40 miljoen.

Morgenhof uit die lug (Foto: Verskaf)

“Op Morgenhof is daar twee luukse herehuise met uitstekende afwerkings en pragtige meubels, ‘n wynproelokaal, ‘n troukapel, gastehuisies, funksiekamers, ‘n unieke, argitek-ontwerpte, versinkte, agthoekige wynkelder en ‘n groot bekroonde wynmakery, om net ‘n paar te noem.”

Die Morgenhof-wingerde word droëland verbou, wat laer opbrengste tot gevolg het, maar dit beteken beter sapkonsentrasies in die druiwekorrels. Die landgoed bestaan uit ‘n verskeidenheid grondsoorte, en die terroir word verder aangevul deur hoogtes wat wissel van 40 tot 400 meter bo seespieël.

“Morgenhof se wynportefeulje bestaan uit ʼn mengsel van rooi en wit. Die witwyne wissel van sauvignon blanc tot chenin blanc. Die rooiwynreeks bied ‘n verskeidenheid ikoniese enkelvariëteite, waaronder ‘n merlot en ʼn pinotage, sowel as ‘n versnit in bordeaux-styl wat ook die vlagskip van die Morgenhof-reeks is.

Morgenhof se indrukwekkende kelder. (Foto: Verskaf)

“Hierdie is ‘n gevestigde en goed gediversifiseerde onderneming met verskeie ander inkomstestrome en bied boonop baie potensiaal om verder uit te brei. Dit is ideaal vir ʼn nuwe eienaar met ‘n groot visie,” sê Van Reenen.

Die veiling sal lewendig, asook aanlyn aangebied word deur High Street Auctions, in samewerking met die Amerikaanse veilingsmaatskappy Tranzon, wat  verteenwoordigers reg oor die Verenigde State het. Dit sal ʼn eerste vir Suid-Afrika wees.

“Tranzon ontvang talle navrae van Amerikaanse beleggers wat belangstel om eersteklas wynmakerye in Suid-Afrika te koop. Interessant genoeg het verskeie navrae uit die voorste wynverbouingsgebied, Napa Valley, in Kalifornië gekom. Ander het vanaf die Amerikaanse ooskus, die Washington DC-gebied en Florida gekom.”

Dit vind plaas in die Knightsbridge-konferensiesentrum in Bryanston en skop op 25 Augustus om twaalfuur die middag af.

Daar is ook groot belangstelling onder sosialemedia-gebruikers. Die fotogalery op die veilingsadvertensie is al meer as 500 000 keer gekyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

JohanR ·

Moet lekker wees om die eienaar van, of te leef op ‘n wynplaas. Seker harde werk, maar waaneer daai bottel/s wyn op die rakke is, en pryse wen, dan is al die swoeg en sweet die moeite werd.

Hennie ·

En so word ons land verkoop onder die hammer…stukkie vir stukkie. Ek wonder of die regering nie die plaas gaan benodig vir hul Swart Ekonomiese Beslaglegging nie? Wie in sy regdenkende kop sal een sent spandeer op grond in SA, terwyl die vervloekte ANC en EFFies dryg om ons grond te vat?

Francois Le Cochon ·

Die oorgrote meerderheid wynplase word alreeds deur Duitsers besit. R40 miljoen klink eintlik min vir ‘n wynplaas.

Jaco ·

Gaan Duitsers wat grond in SA besit ook onteiening word? Hulle is immers ook wit en vol wit monopolie kapitaal. Of is onteiening sonder vergoeding net gemik op wit SA burgers? (2 de klas burgers)

annie ·

Afrikaners is ‘n gutlose ondankbare spul. Destyds was die Christen-Franse Hugenote geseën met ‘n gebied mooier as in Frankryk, geskik vir wynbou. Uit niks groei spog landgoed. Kwaad vir die Britte losallesenpakdiewa noord. Die vlugsindroom word ‘n chroniese pes; ‘n slang wat sy stert insluk… Met g’n geloof in die Skepper; Bloedrivier ‘n legende. Werkers op die spogplase en vreemdes word die landhere en Afrikaners drink, ten duurste, bitter aal-wyn as straf. Wat’s volgende? Terug suid? Na?

Danie ·

Ongelooflik dat sekere buitelandse beleggers nog nie weet dat so n belegging zero gaan werd wees binnekort nie.
Maar teen $2.5M is dit seker n bargain vir n lopende saak wat goeie wins kan inbring voor die plek afgebrand word.

Zet ·

En hier sien ons weer die afhandjie. Ek wens daai persoon wil sy mening lug sodat ons ook sy siening kan hoor. Eisj!!

Hannes ·

Sal jammer wees indien die plek in die hande van buite landers beland.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.