Hitte duur voort in noordelike provinsies

Argieffoto

Argieffoto

Warm en bedompige weer word Woensdag in dele van Gauteng, Noordwes, Limpopo en die Vrystaat verwag terwyl erge donderstorms voorspel word vir dele van die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal.

Volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) word uiters hoë brandgevaartoestande oor die sentrale deel van die Karoo verwag. Erge donderstorms word intussen vir plekke in die noord-oostelike dele van die Oos-Kaap en die suid-westelike dele van KwaZulu-Natal voorspel.

Warm en bedompige weer oor die Laeveld van Mpumalanga en Limpopo sal lei tot uiterste ongemaklike toestande terwyl die hittegolf in Gauteng, Noordwes, die noord-oostelike dele van die Noord-Kaap en noordelike dele van die Vrystaat voortduur.

In Gauteng sal dit baie warm wees en later gedeeltelik bewolk met die moontlikheid van donderbuie. ʼn Maksimumtemperatuur van 36°C word vir Pretoria voorspel en 35°C vir Johannesburg.

In Mpumalanga sal dit baie warm wees in plekke oor die Laeveld, andersins gedeeltelik bewolk en warm met reënbuie oor die hoëveld en die platorand. ʼn Maksimumtemperatuur van 33°C word vir Nelspruit voorspel terwyl Skukuza na verwagting ʼn maksimumtemperatuur van 36°C sal bereik.

In Limpopo sal dit gedeeltelik bewolk en baie warm wees met donderstorms in die suid-westelike dele van die provinsie. Musina sal ʼn maksimumtemperatuur van 39°C bereik terwyl 38°C vir Lephalale (Ellisras) voorspel word.

In Noordwes sal dit baie warm wees met verspreide donderbuie. In Vryburg word ʼn maksimumtemperatuur van 39°C verwag en 35°C vir Rustenburg.
In die Vrystaat sal dit baie warm wees met verspreide donderbuie in die ooste en noord-ooste van die provinsie. ʼn Maksimumtemperatuur van 33°C word vir Bloemfontein verwag.

In die Noord-Kaap sal dit ook baie warm wees. ʼn Maksimumtemperatuur van 38°C word vir Kimberley voorspel.

In die Wes-Kaap sal dit gedeeltelik bewolk wees aan die suidkus. ʼn Maksimumtemperatuur van 25°C word vir Kaapstad voorspel.

In die Oos-Kaap sal dit bewolk wees in die westelike en oostelike dele van die provinsie. ʼn Maksimumtemperatuur van 23°C word vir Port Elizabeth voorspel.

In KwaZulu-Natal sal dit bewolk wees met die moontlikheid van verspreide reën- en donderbuie. ʼn Maksimumtemperatuur van 27°C word vir Durban voorspel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.