Hittegolf, brandgevaar dié week verwag

Argieffoto (Foto: Snufkin, Pixabay)

Dis uiteindelik tyd om jou wintersklere en warm sjokolade voor die kaggel te verruil vir kortbroeke en buite braai – ten minste vir inwoners in sommige dele van die land.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het Sondag gewaarsku dat Gauteng, Limpopo en die westelike dele van Mpumalanga van Maandag tot Woensdag ʼn hittegolf sal ervaar.

Pretoria sal Maandag 35 °C bereik en Dinsdag en Woensdag 36 °C. Klerksdorp sal Maandag 33 °C wees, Dinsdag 34 °C en Woensdag 33 °C. Polokwane sal Maandag 36 °C wees, Dinsdag ʼn allemintige 38 °C behaal en Woensdag 35 °C wees.

Die temperature in dié provinsies sal van Donderdag weer na normale, maar steeds warm toestande terugkeer. Dít volgens Madimetsha Thema, weervoorspeller by die SAWD.

Die SAWD het ook ʼn waarskuwing uitgereik vir ʼn uiters groot brandgevaar Maandag in Gauteng, Noordwes, die Vrystaat, westelike dele van Limpopo, Mpumalanga, KwaZulu-Natal, die oostelike dele van die Noord-Kaap en die sentrale Karoodistrik van die Wes-Kaap.

“Ons verwag dat dié brandgevaar môre selfs na meer gebiede kan uitbrei as gevolg van winderige toestande,” het Thema gesê.

Die SAWD se kaart met waarskuwings vir Maandag 17 September 2018.

Volgens Thema sal daar ondanks die hitte in die noorde van die land Maandag en Dinsdag ʼn kouefront in die Wes- en Oos-Kaap ervaar word wat met lae temperature gepaard sal gaan.

Kaapstad sal Maandag 17 °C wees, Dinsdag 16 °C en Woensdag 15 °C. Hermanus sal Dinsdag maar 15 °C en Woensdag 13 °C wees terwyl Port Elizabeth vandag 20 °C sal wees, Dinsdag 20 °C en Woensdag 17 °C.

Maandag sal daar in Mpumalanga oggendmis langs die platorand ervaar word met warm tot baie warm toestande in die Laeveld.

Thema het gesê hoewel die Vrystaat en die Noord-Kaap vandag warm tot baie warm sal wees, sal dit van Dinsdag koel tot koud wees juis as gevolg van die kouefront wat van die suidelike dele van die land na die binneland beweeg.

Kimberley sal Maandag 30 °C wees, terwyl Sutherland Dinsdag maar 13 °C sal bereik en Woensdag slegs 10 °C. Bloemfontein sal vandag 28 °C wees.

Kyk hiér na die weervoorspelling vir jou dorp of streek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.