Hittegolf dié naweek op pad

Foto: www.iop.org

Die Suid-Afrikaanse weerdiens (SAWD) het ʼn waarskuwing uitgereik vir ʼn hittegolf wat dié naweek verskeie provinsies in Suid-Afrika gaan tref.

Wayne Venter, weervoorspeller by die SAWD, het aan Maroela Media gesê die weerdiens wag nog vir Bloemfontein se data, maar dat die hittegolf in Gauteng, Noordwes en waarskynlik ook die Vrystaat verwag kan word.

Volgens Venter sal die hittegolf van Saterdag tot Maandag duur en met temperature in die hoë dertigs gepaard gaan. “Johannesburg kan temperature van 34 tot 35 verwag. Pretoria kan enigiets van 36 tot 38 verwag.”

Venter verduidelik dat elke weerstasie ʼn hittedrempel het. “Vir ʼn weerstoestand om as ʼn hittegolf geklassifiseer te word, moet daar vir drie agtereenvolgende dae daardie hoë temperature verwag word.”

Volgens Venter word hittegolwe deur hoëdrukstelsels veroorsaak. “Dit is basies dalende lug. Dit is ʼn lugkolom wat vorm bo ʼn sekere gebied en daardie lug daal dan neer en word warmer soos dit daal. Temperatuur styg met een graad vir elke kilometer wat dit daal.”

Volgens hom sal daar vir die volgende week na week en ʼn half nie enige beduidende reënval in Suid-Afrika voorkom nie. “Die tropiese storm Ava in Madagaskar neem tans baie van die energie in Suidelike-Afrika op.”

Maroela Media het vroeër berig ʼn waarskuwing is uitgereik vir moontlike kitsvloede dié naweek in Antananarivo, die hoofstad van Madagaskar, asook modderstortings wat op plekke kan voorkom. Die SAWD het Donderdagoggend gesê Ava is intussen opgegradeer na ʼn ernstige tropiese storm wat met winde van gemiddeld 92 km/h gepaard sal gaan.

Kaapstad kan wel volgens Venter Sondag ʼn klein hoeveelheid reën kry.

“Dit is nog bietjie vroeg om nou al te sê, maar dit lyk of die hittegolf van Dinsdag se kant af meer na die Kaap-provinsies gaan oorskuif, met baie warm toestande wat dan in die Kaap verwag word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Sylvia ·

Ons hier in Paarl brand al van gister uit, temperature van 38 en 39, so dit klink “koel” vir ‘n hittegolf in Gauteng, weet nie mooi van die voorspelling nie, tans binne in die huis 31

atad ·

Ja klink maar koel vir hitte golf hier in kaap is hitte tans 37’7

Hans ·

Wel ek moet sê my swembadwater se temp het gistermiddag op 32 gestaan. Net voor ek gekruisig word oor my swembad met water in, ek maak gebruik van my wasmasjien water om hom op te top en tuin nat te maak. So ja dit word lekke warm hier, temp wat jul gee is hier in die koelte warmer. Ek neem ook aan dat mens tog aanpas by jou omgewing en wat daar aangaan. Verseker is dulke temp kinderspeletjies vir ander plekke. Dink aan julle daar in die kaap hoop vir reen vir jul.

Ludwig Visser ·

As julle so praat van warm kry as die kwik by 30 verbytrek, wat moet ons hier aan die Weskus en Namakwaland dan sê as die kwik hier by ons 44 grade plus haal? En saam daarmee is nog die droogte. Niks groei meer hier nie. Groot bome wat al jare oud is, gaan dood. Niemand het meer blomtuine of grasperke nie. Boere se vee vrek van die droogte. Hittegolwe? Waarvan moet ons dan praat? Verteergolwe?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.