Hittegolf gaan SA’ners nog tot naweek laat sweet

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Xavier Coiffic/Unsplash)

Staan maar in die koelte – want dit gaan warm wees hierdie naweek.

Die hittegolf wat groot dele van die land vroeër vandeesweek getref het, sal na verwagting tot die naweek voortduur, maar die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) sê die einde van die snikhete toestande is in sig.

Die weerdiens waarsku egter dat “konstante hoë temperature” oor die sentrale en oostelike dele van die Vrystaat, die Noord-Kaap, Gauteng, Limpopo, Mpumalanga en die noordelike dele van die Oos-Kaap en westelike dele van KwaZulu-Natal gaan voortduur.

Hoewel die hittegolf aanvanklik net tot Vrydag sou duur, het die SAWD bevestig dat “uiterse warm temperature tot Saterdag oor groot dele van die land verwag word”.

Temperature in Gauteng sal na verwagting tot 36 °C of selfs hoër styg, terwyl Noord-Kaapse dorpe maksimum temperature van 42 °C kan verwag.

“Reën is wel ook op hande,” sê die weerdiens.

“Geïsoleerde tot verspreide buie en donderbuie sal na verwagting oor groot dele van die land beweeg, behalwe in die uiterste noordoostelike en westelike dele van die land.”

Pretoria sal na verwagting ʼn droë paar dae hê, terwyl dele van Klerksdorp, Bethlehem, Upington en Beaufort‑Wes Vrydag ʼn 30%-kans op reën het.

Dele van die Oos-Kaap het ʼn 60%-kans op reën, maar sal nogtans Vrydag druk temperature beleef.

Die reën gaan teen Saterdag na die noordelike dele van die land beweeg, met dele van Pretoria, Johannesburg en Mbombela wat ʼn 30%-kans op reën het.

Bethlehem, Bloemfontein en Aliwal-Noord het Saterdag ʼn 60%-kans op reën.

Hoewel die reën minstens lafenis gaan bring, maan die weerdiens dat Suid-Afrikaners nogtans voorsorg moet tref weens die hoë temperature.

“Drink baie water, beperk buitemuurse aktiwiteite – veral gedurende die warmste tyd van die dag – dra los klere, bly in die skaduwee indien moontlik, hou ʼn ogie oor kwesbare individue, moenie kinders of diere in geparkeerde voertuie los nie en beweeg na die koelste kamer in die huis, veral snags.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Ragnarok ·

En daar is nog steeds mense wat dink dit is normale weer. Die swaeltjies het hierdie jaar nie eers Centurion verlaat, want ons het nie winter gehad. Vyf uur die oggend skyn die son warm en is dit helder lig. Ek glo David Icke al hoe meer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.