Hittegolf laat kwik tot rekordhoogtes styg

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Manish Upadhyay)

Die hittegolf wat onlangs groot dele van die land getref het, het die kwik so hoog laat styg dat rekord‑ maksimum en minimum temperature vir November aangeteken is.

Dit was in ʼn stadium so warm dat sommige dele van die land by 47 °C gedraai het.

Volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) is nuwe rekordtemperature vir die maand van November in die Noord-Kaap, die Vrystaat en Noordwes aangeteken.

Meer as tien weerstasies het van hul hoogste temperature op 27 November aangeteken. Een van hierdie stasies is by die Augrabieswaterval, wat sy hoogste maksimum temperatuur vir November as 46,7 °C aangeteken het. Die vorige rekord vir November was in 2019 toe temperature 46,2 °C bereik het.

“Die hoogste maksimum temperatuur vir Augrabies bly steeds op 48,6 °C wat in 2016 aangeteken is. Dié temperatuur is wel in Januarie aangeteken, terwyl die jongste temperatuur November se rekord laat spat het,” sê die weerdiens.

(Grafika: Megan Swart/Maroela Media)

Richardsbaai het ook hemelhoë temperature op 24 November aangeteken toe 40,5 °C aangeteken is. Dit is 1 °C warmer as die warmste dag wat nog in dié gebied aangeteken is.

Bloemfontein en Mokopane het op 27 November die warmste dag gehad toe die maksimum temperatuur in dié gebiede by 39,6 °C gedraai het.

ʼn Klein dorpie genaamd Elliot in die Oos-Kaap het vanjaar op die 28ste sy hoogste temperatuur sedert 1995 aangeteken. Dit was vroeër vandeesweek 36 °C in die gebied – ʼn skamele 0,3 °C warmer as wat dit byna 30 jaar gelede was toe die rekord opgestel is.

Die weerdiens het sowat twee weke gelede ʼn waarskuwing vir ʼn hittegolf uitgereik, en gemaan dat sommige dele van die land van die warmste temperature nog kan aanteken.

Verskeie dele van die land het etlike dae lank verswelgende temperature beleef. Die hittegolf het boonop minimum temperature ook laat styg, wat tot nuwe rekordtemperature gelei het.

Volgens die weerdiens was die hoogste minimum temperatuur in Thohoyandou, Limpopo, op 23,7 °C aangeteken. Dié gebied het egter nie die grootste sprong beleef nie. ʼn Weerstasie naby Giants Castle in die Drakensberge se minimum temperatuur het met 1 °C gestyg van 17,5 °C tot 18,6 °C. Dit het laas in 1996 dié soort minimum temperatuur in November bereik.

Seisoen van uiterstes verwag

Die wêreld is tans in die warmer El Niño-weerstelsel, wat die SAWD verwag nog tot lank in die somermaande gaan voortduur.

“Hierdie weerstelsel veroorsaak dikwels veel droër en warmer toestande tydens lente en somer, dus van Oktober tot Maart,” sê die weerdiens.

“Die huidige globale voorspellings dui egter op ʼn groot mate van onsekerheid oor die tipiese droër toestande wat Suid-Afrika ervaar tydens El Niño-weerstelsels.”

Die weerdiens sê dit is egter vir seker dat hierdie somerseisoen een van “uiterstes” gaan wees wat erge weerstoestande tot gevolg sal hê.

“Dit is nog onduidelik hoe die El Niño-weerstelsel sy invloed in die volgende paar maande gaan uitoefen, en die vooruitsig vir reën kan in die middel‑ tot laat somerseisoen verander.

“Die minimum en maksimum temperature sal na verwagting landwyd meestal bo-normaal wees.”

Die weerdiens het bygevoeg dat groot dele van die land steeds Vrydag en Saterdag uiters warm gaan wees.

Daar is wel Vrydag ʼn 30%-kans op reën vir gebiede soos De Aar, Bloemfontein en Vryburg. Teen Saterdag sal die reën na dele van die suid- en ooskus uitbrei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.