Hittegolf laat noorde van land sweet

Foto ter illustrasie. (Foto: David Lezcano/Unsplash)

Inwoners in Mpumalanga en Limpopo kan hulself staal vir ʼn baie warm naweek nadat ’n hittegolf dié provinsies Donderdag getref het.

Volgens Kumsa Masizana, ’n weervoorspeller verbonde aan die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) sal die hitte na verwagting tot Saterdag duur. Temperature sal teen Sondag weer normaliseer.

“Die hittegolf het temperatuurstygings in die Hoëveld van Mpumalanga en die hele Limpopo tot gevolg. Temperature van tussen 33 °C en 40 °C kan verwag word,” bevestig Masizana.

Temperature het in die res van die land ook begin styg, maar Masizana sê dit is normaal vir hierdie tyd van die jaar en kan nie noodwendig aan die hittegolf toegeskryf word nie.

Volgens Masizana verwag die weerdiens bonormale minimum- en maksimumtemperature tussen Oktober en Desember vir die noordelike dele van die land, waaronder Gauteng, Mpumalanga en Limpopo.

Die sogenaamde “normaal” verwys na die gemiddelde temperature in Suid-Afrika oor die afgelope 35 jaar. Dit beteken dat Suid-Afrika ’n effens warmer somer kan verwag hoewel daar geen uitermatige temperatuurverskil gaan wees nie.

Maroela Media het vroeër berig ʼn bonormale somerreënvalseisoen word vir die noordoostelike gebiede, waaronder Gauteng, Mpumalanga, Noordwes en die noordelike gedeeltes van die Vrystaat en KwaZulu-Natal, verwag. Die suidwestelike dele van die land kan egter minder reën verwag.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, waarsku dat mense uiters versigtig moet wees tydens ʼn hittegolf omdat hitte-uitputting maklik kan voorkom.

Volgens Meiring is tekens van hitte-uitputting duiseligheid, spierkrampe, braking, hoofpyn, swakheid en stuiptrekkings.

Meiring deel die volgende wenke om te keer dat jy hitte-uitputting opdoen:

  • Drink genoeg water.
  • Maak seker babas, bejaardes en kinders bly ook ten alle tye goed hidreer.
  • Maak seker jou troeteldiere het ʼn koel plek om te ontspan en om water te drink.
  • Probeer om weg te bly van direkte sonlig.
  • Dra beskermende klere en gebruik sonskerm.
  • Beperk buitemuurse aktiwiteite. Mense wat buite moet werk, moet probeer om baie water te drink en te rus.
  • As jy tyd in ʼn swembad gaan deurbring, maak seker van jou en jou kinders se veiligheid. Maak seker dat kinders onder toesig is terwyl hulle in die swembad is.
  • Moet glad nie kinders of troeteldiere alleen in ʼn toe voertuig laat nie. Selfs nie met ’n oop venster nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

seeskulp ·

39 grade celsius is beslis nie normaal vir die Suidkus van KZN nie. Was in 7 jaar nog nie so warm nie

Misky ·

Ja, gister (Donderdag) was bitter warm. Ek het gesien mense temperature van tussen 40 en 44 grade gedeel in ons Pinetown omgewing.

Cherokee ·

Vandag blyk koeler te wees in Durban. 24º nou om 11vm op die strand.

Shakespeare ·

Goeie raad om koel te bly. Maak jou toe in n kombers dan kan die hitte nie inkom nie.

Phillip ·

Goeie raad sit kombers in vrieskas en haal hom uit na 2ure

LD ·

Niks snaaks vir Limpopo nie. Amper elke Somer het ons hierdie soort temperature! En natuurlik die min reën. Wanneer dit so uitermatig warm word dan hoop ons almal maar dat die weer sal opbou en goeie reën bring maar dit gebeur bitter min! Die gebiede wat goeie reën kry moet baie dankbaar wees!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.