Hittegolf voorspel in dié provinsies

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Manish Upadhyay)

As jou hart op Valentynsdag warm klop, is dit waarskynlik nie (net) weens die liefde nie. ʼn Hittegolf het groot dele van die land tans in sy greep. Dinge kan boonop teen Vrydag in Gauteng, KwaZulu-Natal, Limpopo en Mpumalanga lelik warm raak.

Volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) ervaar dele van al drie die Kaapprovinsies, sowel as die Vrystaat, tans temperature hoër as 40 °C.

In die Oos-Kaap het inwoners van Cradock die afgelope paar dae temperature van om en by 43 °C trotseer.

Inwoners van Augrabies en Upington in die Noord-Kaap moes die afgelope paar dae temperature van 43 °C en selfs warmer verduur. So ook inwoners van Vanwyksvlei (40 °C), Prieska (41 °C), Kathu (40 °C) en Vanzylsrus (41 °C) .

Jan Vermeulen, ʼn voorspeller verbonde aan die weerdiens, sê Gauteng kan al Donderdag die hitte begin voel, met Pretoria wat na verwagting 33 °C sal bereik. Teen Vrydag sal die temperature in Limpopo, KwaZulu-Natal en Mpumalanga ook begin styg.

Die Tshwane-metro se nooddienste het Woensdag ʼn beroep op inwoners gedoen om kennis te neem van die waarskuwing met betrekking tot die hittegolf wat deur die SAWD uitgereik is.

Charles Mabaso, woordvoerder van die Tshwane-nooddienste, sê inwoners moet bewus wees van die nadelige gevolge wat deur langdurige blootstelling aan uiterste hitte veroorsaak kan word.

“Die gevolge kan dehidrasie, hitte-uitputting en, in ernstige gevalle, sonsteek insluit. Inwoners word ook aangeraai om op hul hoede te wees aangesien die risiko vir veldbrande gedurende hierdie tydperk aansienlik hoër is.”

Die volgende voorsorgmaatreëls kan getref word:

  • Bly gehidreer deur groot hoeveelhede water te drink.
  • Beperk buitemuurse aktiwiteite (veral tydens die warmste tyd van die dag).
  • Dra los klere en vermy donker klere indien moontlik.
  • Bly in die skaduwee indien moontlik.
  • Hou ʼn oog oor kwesbare individue.
  • Maak seker dat kinders of diere nie in geparkeerde voertuie gelaat word nie.
  • Vermy strawwe fisieke aktiwiteite indien moontlik (as jy strawwe aktiwiteite moet doen, doen dit in die koelste deel van die dag, wat gewoonlik soggens tussen 04:00 en 07:00 is).

Mabaso het benadruk dat inwoners waaksaam moet wees en enige brand- of reddingsvoorvalle onmiddellik by 107 tolvry of by 012 358 6300/6400 moet aanmeld. Vir ambulansdienste, skakel 112 tolvry.

“Inwoners word ook aangemoedig om waarskuwings wat deur SAWD en ander regeringsinstansies uitgereik word, te monitor en om onmiddellik aanbevole veiligheidswenke te volg.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

hendrik ·

Se asb net vir Escom ook daar van want om nie eers n waaier te kan gebruik nie want daar is nie krag nie veral vir die ouer gardes is regtig nie gaaf nie. Stuur dit asb na die agbare min ister.

Marous ·

Huis vanoggend in dorp totaal afgebrand . Mense het brandweer toe gejaag omdat hulle nie foon antwoord . Stuur bakkie met bakkie sakkie want miljoene rande se trok het nie water nie. Behoede ons !

Johan ·

Gister 33 Grade op my stoep. Met al die sweet saam is dit ‘n maklike manier van gewig verloor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.