HK-lid van Hombré geskors, beboet na voorval met personeellid

Die NWU se Potchefstroomkampus. Foto: NWU Pukke/Facebook

Die NWU se Potchefstroomkampus. Foto: NWU Pukke/Facebook

Die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus het sy ondersoek afgehandel na verlede maand se voorval waar ʼn senior personeellid glo rugbeserings opgedoen het weens eerstejaars se optrede.

Louis Jacobs, die universiteit se woordvoerder, het in ‘n verklaring gesê tydens die ondersoek is bevind dat een van die huiskomiteelede aan die eerstejaars gesê of geïnsinueer het dat dit ʼn tradisie is om niemand toe te laat om tussen ʼn groep Hombré-eerstejaars deur te loop nie. “Dit is waarom hulle probeer keer het dat die 53-jarige personeellid tussen hulle deurbeweeg.”

Jacobs het gesê benewens die sewe lede wat voorlopig uit die koshuis geskors is, is daar ook ʼn klagte gelê teen die huiskomiteelid wat bedank het, maar steeds ʼn ingeskrewe NWU-student is. “Die ander lid wat bedank het, het sy studies aan die NWU beëindig; daar is dus nie teen hom opgetree nie. Daar is ook nie teen die primarius opgetree nie, aangesien die ondersoek hom uit die staanspoor reeds van alle blaam onthef het.”

Volgens Jacobs het die HK-lid wat verantwoordelik was vir die opdrag skuldig gepleit op klagtes van insubordinasie sowel as die aanhitsing van verbode gedrag deur eerstejaarstudente. “Hy is met onmiddellike inwerkingtrede uit die koshuis geskors; hy is ook uit die universiteit geskors, maar laasgenoemde skorsing is opgeskort vir twee jaar. ʼn Boete van tienduisend rand is ook aan hom opgelê.”

Jacobs het gesê vyf studente is ook aangekla van wangedrag. “Twee van hulle het skuld beken op die aanklagte, en het pleitooreenkomste aangegaan op grond waarvan hulle met onmiddellike inwerkingtrede uit die koshuis geskors is. Die ander drie lede het aangedui dat hulle verdere regsadvies wil inwin, waarna hulle die universiteit oor hul besluit sal inlig. ʼn Datum (18 Februarie) is intussen vasgestel vir die verhoor van hierdie drie lede.”

Volgens Jacobs het dit tydens die ondersoek duidelik geword dat die eerstejaarstudente onder druk opgetree het ten tyde van die voorval. “Alhoewel sessies oor menseregte voortdurend aan NWU-studente aangebied word, beskou die universiteit dit as deel van sy opvoedkundige verantwoordelikheid om opvolgsessies aan Hombré se volledige eerstejaarsgroep aan te bied, en om verder ʼn pad met hulle te stap.”

Klik hier vir alle vorige berigte oor die saak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Pierre ·

As ñ senior personeellid behoort die betrokke persoon te weet dat geen koshuisgroep laat ñ persoon deur hulle beweeg nie. Kou dit ñ koshuis met 300 eerstejaars wees (soos wat ons laas jaar was) was dit aanvaarbaar dat ñ personeellid deur ñ groep beweeg maar absoluut onaanvaarbaar dat ñ ander eerstejaar dit net waag. Die personeellid behoort ook te weet dat sou ons sulke klein tradisies laat vaar op die PUK die totale gedrag en disipline van eerstejaars daarmee heen is en mettertyd ook die besondere atmosfeer wat daar op kampus is teenoor mede-studente en ook ander persone… Laad jaar was daar menigte sêgoed wat geëindig het met “maar darem is jy op die PUK” die jaar lyk dit my asof daar eerder gesê word: “Jy is op die PUK, maar darem het jy menseregte”

Gwen ·

Wat ’n absolute verregaandheid. Waarom kon die personeellid nie maar net vir die groep gewag het nie? Dit is tog nie duisende studente nie, hoogstens 200. En insubordinasie? Wat de joos gaan aan by daardie universiteit?

Nico ·

Ek lees vanoggend van ‘n dopery by die landbouskool in Jan Kempdorp waartydens vier wit seuns ‘n swart seun wit geverf het. Nou skree dit ook ten hemele. Ook sê die berig die swart seun is gemartel.

En dan “volgens die wit seuns was dit tydens doop.” So asof die verslaggewer insinueer dat dit dalk nie tydens doop kon wees nie. Ook as dit nou net wit kinders was wat betrokke was, was dit dan nou minder verkeerd ???

Ons koerant verslaggewers het siek in die kop geraak en blaas hulle die sensasie en raskaart op tot groter as lewensgroot. Maar natuurlik is dit verkeerd. Plaas dat die regering alle, maar alle doop in die hele land met wortel en tak uitroei, maak dit dan ‘n kriminele oortreding as dit moet, maar roei dit tog nou vir eens en vir altyd uit dat dit kan stop, want sodra dit wit op swart is, is dit eens so erg en skree die koerante vir weke en skryf al wat rubriekskrywer is ‘n helse vingerwysing en morele preek uit.

Ek self was dertig jaar gelede ook aan ergere vergrype tydens doop op universiteit blootgestel. Toe was dit algemeen bekend watter praktyke plaas vind, maar het niemand dit gestop nie. Nou na 1994 is dit uit die bose want nou is dit rassisme sodra ‘n swart of ‘n anderskleurige persoon betrek word.

So stop dit !!!! Stop dit NOU!

Sollie ·

Al hierdie SIMPEL “tradisies” wat net uitloop op beserings en moeilikheid. Ontgroening ens… dis absolute twak. Studente betaal nie belasting en is daar om te studeer; selfde met skoolkinders. As hulle tyd het vir die tipe van nonsens kry hul lyk my nie genoeg huiswerk nie. Jongmense gedra hulself deesdae soos barbare en dit hou lyk my nie op na universiteit/skool nie, dan begin die aanranding van hul vrouens en kinders want die boodskap(saad) is mos jare gelde geplant.

Willem Smith ·

Ek dink hierdie was bloot ‘n frats ongeluk wat die media, en die universtiteit se bestuur, nou buite proporsie uit ruk. Ek voel baie jammer vir die hk-lede wat geskors is maar terselfde tyd voel ek dit sou goeie maniere gewees het om voorkeur te gee aan ‘n senior personeellid.

Bruno Stef ·

ASB moet net nie vir Basson en sy Trompie Bende by Beeld enige inligting of toelating by NWU se PUK kampus gee nie. Die man maak van n molshoop n berg om sy verwronge idees en sy base se siening op gewone mense te probeer afdwing.

Annemie ·

Ek verstaan nie eintlik wat hier gebeur het nie. Is dit n tradisie dat eerstejaara saamloop en toe loop die personeellid voor hulle in? En hoe het hy sy beserings gekry? Het hulle hom geklap of gestamp? En watse soort tradisie is dit in elk geval? Ek is seker maar anders groot gemaak, maar ek is geleer dat n personeellid of enige mens van meer gesag, die reg het om voor my te loop mits hy nou n senior is of nie…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.