Hlaudi daag nie op vir hofverrigtinge

Hlaudi Motsoeneng. Foto: Catherine Rice/ANA

Hlaudi Motsoeneng, voormalige bedryfshoof van die SAUK, het nie Dinsdag by die arbeidshof opgedaag om te verduidelik hoekom hy nie in sy persoonlike hoedanigheid aanspreeklik gehou moet word vir die onregmatige afdanking van die sogenaamde SAUK 8-joernaliste nie.

Motsoeneng het geen duidelike rede aangevoer oor hoekom hy nie die hofverrigtinge bygewoon het nie. Alhoewel Simon Tebele, die uitsaaier se voormalige hoof van nuus, wat as derde respondent tot Solidariteit se kostebevelsaak gevoeg is, wel teenwoordig was, het hy geen regsverteenwoordiging gehad nie en gekla dat hy siek voel. Die SAUK het glo sy regsverteenwoordigers onttrek wat Tebele en Motsoeneng sou verteenwoordig.

Regter David Gush het die verrigtinge tot 6 September uitgestel en beslis dat beide Motsoeneng en Tebele teenwoordig moet wees. Indien hulle nie teenwoordig is nie, sal die saak in hul afwesigheid aangehoor word.

Die hof het verlede jaar beslis dat die sogenaamde “SAUK 8” – Foeta Krige, Suna Venter, Jacques Steenkamp, Krivani Pillay, Thandeka Gqubule, Lukhanyo Calata, Busi Ntuli en Vuyo Mvoko – onregmatig afgedank is.

Die arbeidshof het op 11 Mei 2017 Solidariteit se aansoek toegestaan om Motsoeneng as respondent toe te voeg in die vakbond se kostebevelsaak teen die SAUK. Solidariteit het sy visier op Motsoeneng geplaas met die vakbond wat aanvoer dat hy as destydse bedryfshoof die uiteindelike besluit geneem het om die joernaliste af te dank.

Volgens Anton van der Bijl, hoof van Solidariteit se Sentrum vir Billike Arbeidspraktyke, respekteer Solidariteit die hof se uitspraak. “Ons stem nie saam met die optrede van die SAUK se respondente wat op die nippertjie van regspan verander nie – dit is ʼn vertragingstegniek,” het Van der Bijl gesê.

“Ons voer steeds aan dat Motsoeneng die besluit geneem het om die joernaliste af te dank, daarom gaan ons voort om hom persoonlik vir die koste aanspreeklik te hou,” het Van der Bijl saamgevat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Adam ·

Hlaudi, laat die oom jou herinner aan wat die legende Muhammad Ali geuiter het; “You can run, but you can’t hide”

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.