Hlaudi: ‘Ek sal weer vrygespreek word’

Hlaudi Motsoeneng tydens die mediakonferensie in Johannesburg (19 April 2017). Foto: ANA

Hlaudi Motsoeneng, die omstrede voormalige bedryfshoof van die SAUK, het Woensdag vasbeslote gesê hy sal “wen” in sy komende dissiplinêre verhoor.

Motsoeneng het Woensdag ʼn mediakonferensie in Auckland Park, Johannesburg, gehou om “hangende sake by die SAUK” uit te klaar. Die kamer waar die konferensie gehou is, was volgepak met Motsoeneng se ondersteuners wat hande geklap en gejuig het terwyl hy gepraat het. Van die ondersteuners het selfs CD’s saamgebring van ʼn album wat aan hom opgedra is getiteld Hlaudi Dumela.

Motsoeneng het gesê hy is oortuig dat hy weer terug in sy pos by die SAUK sal wees ná afloop van sy dissiplinêre verhoor. “Ek het ʼn wonderlike span wat deur Zola Majova gelei word. Ons is gereed vir daardie verhoor en ek sal weer vrygespreek word,” het hy gesê. Hy het gesê hy weet nog nie wat die datum vir sy verhoor is nie.

“Ek is nie vandag ʼn verteenwoordiger van die SAUK nie. Soos julle weet is ek aangesê om by die huis te bly tot my dissiplinêre verhoor, waar ek weer vrygespreek sal word. Ek het weggestap van die eerste [verhoor] en ek sal weer wegstap,” het hy selfversekerd gesê.

Die Wes-Kaapse hooggeregshof het in Desember bevind dat Motsoeneng onbevoeg is om enige posisie by die openbare uitsaaier te beklee totdat ʼn verdoemende verslag deur die openbare beskermer ter syde gestel is of ʼn nuwe dissiplinêre verhoor hom van enige oortreding vrygespreek het.

ʼn Ad hoc-komitee wat op die been gebring is om sake by die SAUK te ondersoek, het ook aanbeveel dat Faith Muthambi, die minister van kommunikasie onder wie se leiding die wanbestuur by die openbare uitsaaier plaasgevind het, afgedank moet word. Die SAUK het volgens berigte soveel as R3 miljard nodig om uit sy finansiële verknorsing te kom.

Motsoeneng het gekap na die LP’s wat lede van die komitee was en gesê hy het niks verkeerd gedoen toe hy sy omstrede beleid by die SAUK geïmplementeer het dat 90% van die inhoud plaaslik moet wees nie. “Ons besluite was gedryf deur mense se behoeftes. Ons het na al die provinsies gegaan en mense het vir ons gesê hulle het plaaslike inhoud nodig. Daar was geld by die SAUK toe ek daar was,” het hy gesê.

Hy het gesê die ad hoc-komitee het “chaos veroorsaak” en hom nie die geleentheid gegee om te antwoord op die beskuldigings teen hom nie. Hy het ook gesê hul aanbevelings is nie implementeerbaar nie.

Motsoeneng het voortgegaan deur die nuwe tydelike SAUK-raad aan te val en het Krish Naidoo, een van die raadslede, daarvan beskuldig dat hy homself uitverkoop het. Naidoo het uit die vorige raad bedank tydens ʼn sitting van die komitee verlede jaar en is weer in die nuwe tydelike raad ingesluit.

Motsoeneng het ook pres. Jacob Zuma se uitsprake van “radikale ekonomiese transformasie” geloof en gesê die SAUK-bestuurders is “lafaards” omdat hulle nie moeilike besluite wou neem om die lewens van mense, onder meer die SAUK se diensverskaffers, te verbeter nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Koos ·

Nou toe nou, n arrogante nar. Die gesegde van “in die land van die blindes is die eenoog koning”

Danie ·

Daar WAS geld voor jy daar gekom het Hlaudi nou is daar niks sê dit nie iets vir jou nie?.Dink jou brein is bietjie “cloudy” kom by asseblief.

Manie ·

Ek weet nie of hy uitsonderlik arrogant of net eenvoudig te onnosel is om net te verdwyn. Ek sal waardeer om sy gesig nooit weer hoef te sien

Ronnie ·

Sy volgende pos is dié van diplomaat. Dis klaar gereël, volgens dié wat weet.

Ouma ·

Aag! Foeitog! Die vent is sooo arogant as kome kan! Maar hy is sy oom Zuma se maatjie en hy verig wondere vir sy tjommies! Voordat oompie nie “uit “is nie is niks onmoontlik vir sy maatjies nie! Shame!!

Linda's ·

Ek sal nie verbaas wees as hy soos Molefe ‘n R30 miljoen handdruk kry nie. En dan ‘n verstommende aanstelling in ‘n ander pos.

Joanne Meakin ·

WhahahahahahahahahahahahahahahahHWhaaahahahahahHahhHahahahahwhaaaaahahahaaaahaaaaaaaaaaa

Rof ·

Weet julle ek sal ook baklei vir so n salaris, en nog steeds sy volle salaris kry terwyl hy by die huis sit. Ek sal hand en tand veg vir daai pay

Blits ·

Jou besluite was nie daarop gemik om mense se lewens binne en nuite die SAUK te verbeter nie maar net jou eie, jy is n belediging vir enige persoon wat op die planeet loop, te danke aan jou is die geld wat wel in die SAUK se bank rekening was ook weg, ons weet van die dat jy die guptas se 7 die nuus wou laat oorneem so dit kom neer op kaping.
jy is aan die slaap en jou volgers van hands of Hlaudi, dis so ironies dat almal sien hoe word korrupsie gepleeg en hoe hulle steel maar om een of anne rede word hulle ondersteun al is dit baie swak vir ons en ons land

Ramkat ·

“…………..Ek het.uitgestap en sal weer uitstap”

Onthou net om Noord te aanhou stap. Beitbrug en die Sahara is in daardie rigting.

Carmen ·

Ek het die persverklaring geluister vanoggend op die radio. Dit is ongelooflik hoe arrogant hierdie persoon is, en dat daar mense is wat hom aanpor en aan sy lippe hang, nee ek weet nie meer nie. Maak mens bang.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.