‘Hlaudi sal sonder twyfel betaal’

Hlaudi Motsoeneng, hoof van korporatiewe sake by die SAUK, Donderdag buite die Wes-Kaapse hooggeregshof (24 November 2016). Foto: Catherine Rice/ANA

Die vakbond Solidariteit het Dinsdag gesê dit sal onmiddellik begin om die presiese bedrag waarvoor Hlaudi Motsoeneng, die omstrede voormalige hoof van die SAUK, moet pa staan, te takseer.

Dit volg nadat die konstitusionele hof in Johannesburg Maandag Motsoeneng se aansoek om verlof tot appèl met koste van die hand gewys het. Dit beteken Motsoeneng sal nou vir die regskoste van Solidariteit en die Broadcasting, Electronic Media, and Allied Workers’ Union (Bemawu) moet opdok wat die sogenaamde SAUK 8 verteenwoordig het in die arbeidshof teen hul onregmatige afdanking.

Die arbeidshof het in 2016 bevind dat Motsoeneng in sy persoonlike hoedanigheid aanspreeklik gehou moet word vir die regskoste ná die onregmatige afdanking van die SAUK 8. Motsoeneng het teen dié beslissing geappelleer en het hom later tot die konstitusionele hof gewend nadat die appèlhof in Junie die arbeidshof se beslissing gehandhaaf het.

Motsoeneng het in sy tyd by die SAUK ʼn verbod op die uitsaai van betogings geplaas wat daartoe gelei het dat agt SAUK-werknemers in die pad gesteek is. Foeta Krige, Suna Venter, Busisiwe Ntuli, Krivani Pillay, Jacques Steenkamp, Lukhanyo Calata, Vuyo Mvoko en Thandeka Gqubule is almal deur die SAUK afgedank omdat hulle volgens die uitsaaier “voortgaan om die SAUK-bestuur se gesag te ondermyn” en hul “wangedrag onhoudbaar” geword het. Nadat die joernaliste hulle na die arbeidshof gewend het, is sewe van hulle weer in hul poste aangestel.

Van dié joernaliste is sedertdien weg by die SAUK. Venter is in Junie verlede jaar oorlede.

Volgens dr. Dirk Hermann, die bestuurshoof van Solidariteit, kan die totale koste van die partye op tussen R1,6 en R1,8 miljoen te staan kom.

Solidariteit het vier van die SAUK 8 verteenwoordig.

Volgens Hermann sal Solidariteit onmiddellik voortgaan om die finale koste van die geding te laat takseer. “Sodra ons die finale bedrae het, sal ons begin om dit in te vorder, of om beslag te lê op Motsoeneng se bates,” het Hermann gesê.

“Dit is die einde van die pad wat op ʼn geskiedkundige oorwinning uitgeloop het. Hlaudi Motsoeneng moet nou in persoon die regskoste verbonde aan die geding betaal. Dit is ʼn luide boodskap aan amptenare wat roekeloos met belastingbetalers se geld omgaan. Dit is nou die einde van die pad vir Hlaudi. ʼn Mens kan vir net so lank agter hofprosesse skuil. Hy gaan sonder twyfel betaal,” het Hermann gesê.

Volgens Anton van der Bijl, hoof van arbeidsregsdienste by Solidariteit, het Motsoeneng reg van die begin af bloot net die onafwendbare uitgestel. “Die konstitusionele hof staan selde koste in sy uitsprake toe behalwe in gevalle waar litigasie in die uiterste kwade trou geskied. Hierdie uitspraak bevestig dat Motsoeneng se aansoek van die begin af absurd was en geen kans op sukses gestaan het nie,” het Van der Bijl gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

christa ·

hy moet natuurlik betaal. Hulle wat in sulke poste sit is skatryk en die staat altyd pastaan vir hulle agterlosigheid

WvZ ·

Hoekom word die wat hom aangestel het nie ter berde gebring nie!

Alida ·

Hy het laaankal seker al sy bates vervreem. Hy het mos geweet wat kom.

Hendrik ·

As ek dit nie mis het nie, sal hy dan vir skuld in die tjoekie gaan sit …

Johan H. ·

Hulle lag vir die gereg. Hulle almal het baie gesteel,probleem is waat steek hulle dit weg?.Die tronk is al wat die kiessers sal tevrede stel en daarna kan hy in iemand se tuin gaan werk.

Piet ·

As hy nou klaar betaal het dan moet hy tronk toe gestuur word vir korrupsie en bedrog. 15 jaar klink vir my na ‘n goeie straf. Mens moet seker drome he!

Colleen ·

Ek hoop regtig dit loop nie net dood nie en dat hy sal betaal en gou ook.

humor ·

Nie net die regskoste nie maar ook al die geld wat hy onregmatig bekom het en ook vir sy valse kwalifikasie moet hy pastaan.

Hendrik ·

Knap gedaan. Hoe meer van hierdie manne persoonlik aanspreekbaar gehou word, hoe gouer sal die wanbestuur en diefstal einde kry. Die gemeenskap is siek en sat vir moedswillige nalatigheid en onbekwaamheid. Vat ook die munisipale bestuurders, hospitaalbestuurders en ander gomtorre vas wat nie hulle werk doen nie en ons geld steel.

Henk du Toit ·

I can see clearly now the rain has gone, no more Hlaudi days. Tjietjietjietjie. Aldus ou Piet Brille, my ou gewone onbetroubare informant werk Hlaudi nou as kroegman by die Witsieshoek bergoord in Quaqua. Dit kan dalk wees of dalk nie want ou Piet Brille lieg soos n Es Y Bie Sie weervoorspeller.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.