‘Hlaudi speel kat en muis met howe’

Hlaudi Motsoeneng. Foto: Catherine Rice/ANA

Die vakbond Solidariteit het Vrydag bevestig dat hy ʼn aansoek van Hlaudi Motsoeneng se regspan ontvang het waarin die voormalige bedryfshoof van die SAUK by die konstitusionele hof aansoek doen om verlof tot appèl.

Dit volg ná Motsoeneng se vorige aansoek om verlof tot appèl op 5 Junie 2018 deur die appèlhof met ʼn bestraffende kostebevel van die hand gewys is.

Volgens Anton van der Bijl, hoof van Solidariteit se Arbeidsreg-afdeling, is Motsoeneng besig om bloot die onvermydelike uit te stel. “Hy is besig om ʼn kat-en-muis-speletjie met die gereg te speel, maar hy gaan homself net weer in ʼn hoek vasloop,” het Van der Bijl gesê.

Van der Bijl het gesê Motsoeneng wend hom al sedert September 2017 van die een hof na die ander om die arbeidshof se uitspraak van 8 September, waarin bevind is dat hy en Simon Tebele persoonlik aanspreeklik is vir die regskoste van die sogenaamde SAUK-8, teen te staan, maar die uitkoms bly dieselfde.

Die arbeidshof het bevind dat Motsoeneng in sy persoonlike hoedanigheid aanspreeklik gehou moet word vir die regskoste verbonde aan die hofsaak oor sy destydse omstrede verbod op die uitsaai van protesaksies. Dié verbod het daartoe aanleiding gegee dat agt joernaliste (die sogenaamde SAUK-8) destyds onregmatig afgedank is.

Van der Bijl sê voorts dat die vakbond reeds instruksies deurgegee het om Motsoeneng se nuutste aansoek teen te staan.

“Solidariteit het dit al telkemale gestel dat hy nie sal rus voor Motsoeneng soos deur die hof beveel, die koste in sy persoonlike hoedanigheid terugbetaal nie. Ons sien daarna uit om hom in die land se hoogste hof teen te staan,” het Van der Bijl gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Mossie ·

Net so Robert. En duidelik is sy regsverteenwoordigers ook nie baie gepla om hom reg te help nie. Praat van, van die wal af in die sloot!!

christa ·

sy regspan sal hom nie reghelp nie, hulle lag al die pad bank toe

Tik tok tik tok ·

Nou as hy muis muis wil speel stel n trap of honger die kat uit O Genugtig hy is DIE duiwel in die kinderbybel

zoom zoom ·

Hy het by meester zuma geleer hoe om ‘n verhoor te rek

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.