Hlaudi wil oor SAUK-kwessies praat

Hlaudi Motsoeneng. Argieffoto: news.iafrica.com

Hlaudi Motsoeneng, die voormalige groepshoof van korporatiewe sake by die SAUK, sal Woensdag ʼn mediakonferensie hou om onder meer oor sy omstrede besluite by die openbare uitsaaier en die SAUK se finansies te praat.

Ten spyte daarvan dat Motsoeneng se aanstelling by die SAUK deur ʼn hofbeslissing ter syde gestel is, wil hy nou “al die hangende sake by die SAUK” uitklaar. Die konferensie sal by die Garden Court Milpark Hotel in Auckland Park gehou word, net ʼn klipgooi van die SAUK se hoofkantoor.

Motsoeneng het gesê hy sal ook sy insae gee oor die nuwe tydelike SAUK-raad, asook reageer op die aanbevelings van die parlementêre ad hoc-komitee wat op die been gebring is om sake by die SAUK te ondersoek.

Intussen het die DA in ʼn verklaring gesê Motsoeneng het geen reg om enige kwessies oor die SAUK te bespreek nie, aangesien hy nie meer ʼn werknemer by die openbare uitsaaier is nie. “Motsoeneng is geregtig om die media in sy private hoedanigheid toe te spreek, maar hy het geen mandaat om namens die SAUK te praat nie en moet eintlik nou in die middel van ʼn dissiplinêre ondersoek teen hom wees,” het Phumzile van Damme, die DA se woordvoerder oor kommunikasie, gesê.

“[Woensdag] se mediakonferensie moet daarom nie namens die SAUK gehou word, op sy perseel plaasvind of enige van sy hulpbronne gebruik nie.”

Die Wes-Kaapse hooggeregshof het in Desember bevind dat Motsoeneng onbevoeg is om enige posisie by die openbare uitsaaier te beklee totdat ʼn verdoemende verslag deur die openbare beskermer ter syde gestel is of ʼn nuwe dissiplinêre verhoor hom van enige oortreding vrygespreek het.

Die hof het verder beslis die SAUK se tydelike raad moet binne twee weke nadat die raadslede aangestel is ʼn brief aan Motsoeneng oorhandig waarin die dissiplinêre aanklagte teen hom uiteengesit word asook ʼn nuwe voorsitter aanstel om die dissiplinêre proses te bestuur.

Van Damme het gesê aangesien die spertyd van twee weke verlede week verstryk het, sal die DA aan die voorsitter van die raad, Khanyisile Kweyama, skryf om te versoek dat die dissiplinêre ondersoek teen Motsoeneng onmiddellik begin.

“As bedryfshoof van die SAUK het Motsoeneng ʼn giftige invloed op die openbare uitsaaier gehad wat die SAUK tot op die randjie van verval geneem het. Hy kan nie toegelaat word om nog ʼn sent van die SAUK te ontvang nie,” het Van Damme gesê. “Die nuwe tydelike raad gaan ʼn moeilike tyd hê, maar hulle moenie toelaat dat Motsoeneng voortgaan om hom te verset nie.”

Van Damme het gesê die SAUK-raad moet nou beslissend optree om Motsoeneng aanspreeklik te hou vir sy aandeel in die verval van die SAUK.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Blits ·

Hy moet eerder sy mond hou, hy net soos zuma, as hy sy mond oop maak dan lieg en bedrieg hy, ons weet prisies wat by die SAUK gebeur het en hoeveel geld hy gemaak het met sy skelm streke, hy het mense se aandag afgetrek van die zuma dinge af sodat zuma al sy planne inwerking kon stel en toe die probleem met fees must fall, alles was net te toevallig te naa aan mekaar, almal rond gespring om die probleem op te los en oe is van zuma en state capture af gevat en toe het hulle hulle kans, hoekom het die OB nog nigs aan die kwessie gedoen nie, Motsoneng is helse groot gif, sy woord beteken minder as n vrot slang

Johann Marx ·

Dis wat ek nog nooit kon verstaan van die nuwe Suid Afrika nie. Hierdie man “breek” die SABC met sy onbevoegdheid……en dan word hy huistoe gestuur met volle betaling, terwyl die personeel wat agter bly nou ‘n haas uit die hoed moet pluk om die situasie te beredder. Moet hy nie nou in sy kantoor wees en verduidelik waar die geld vandaan moet kom om einde April almal se salarisse en die krediteure te betaal nie?

Blits ·

Wie en wat is hy dat mense sy opinie wil hoor oor enige iets wat te doen het met die SAUK en die AD-HOC klomp, hy is belaglik verby en moet eerder na ZIM toe gaan en daar gaan bly, sy woord beteken niks hy beteken niks

Rina ·

En sy kwalifikasies of sogenaamde kwalifikasies? Wie het enige respek vir ‘n leuenaar?

Johan ·

Ek sê jou die man sit nogsteeds in sy posisie daar by die SABC en verdien sy helse salaris…..

Kaspaas ·

Die gevaarlikste persoon aan die stuur van sake is iemand wat nie sy eie tekortkominge kan besef nie. As jy nie eers matriek het of kon geslaag het nie en dan saam wil praat met mense wat intellektueel ver bo jou vuurmaak plek is, is bewys hiervan. Wonder of hy ooit n besef het van die omvang van die SABC se finansies en hoe om hul begroting, inkomste en uitgawestaat te verstaan ens. Hy is ver verwyderd van die realiteit die dat hy van homself as die derde persoon praat eant hyself besef nie die gevolge van sy dade nie

Skim ·

Hoekom luister iemand nog na hom? Hoekom kry hy ‘n spreukbeurt? Hoekom kry hy ‘n mikrofoon? Die man is as’t ware AFGEDANK, hy het aangejaag by die SAUK, hoekom wil iemand na hom luister, die SAUK is finansieel in die moeilikheid, hy het omstrede besluite gemaak, hy HOORT nie daar nie en hy HOORT geen sê meer te hê nie, kry hom asb net weg agter enige mikrofoon of mediakonferensie of enige vergadering . NIEMAND stel meer belang in wat hy te sê het nie. vat die saak aan teen hom, hou hom vernantwoordelik vir sy dade en laat hy daarna asb net stil stil uit die limelight verdwyn .. hy is niemand en niks nie, hy moet net WEG WEES ..!! Verdwyn soos muurpapier asb.

Alida ·

Hy is nie meer in diens van die SAUK nie en het geen reg om enigiets te se nie. Ons wil hom nie sien op TV nie. Stop hom in die tronk vir al sy wandade en stelery. Sit hom en Zuma in een sel dan kan hulle nuwe plannetjies maak as hulle eendag daar uitkom.

Marita ·

Maroela, hoe kan ons as lesers n petisie teen Motsoaneng se permanente verwydering van die Sabc optrek? Sommige van my x kollegas werk noodgedwonge steeds daar en lewe in vrees.

Etta van der Merwe ·

Marita, ek ondersteun jou voorstel. As n petisie net sal help want die pap le klaar op die grond. Daar is geen wette meer, geen vertroue of geloof in dit wat om ons aangaan nie. Hoe kan ons dit stop?

Henk ·

Hierdie karakter is ‘n “one man wrecking ball” wat die hele SAUK finansieel op sy kniee gebring het.

Joe Hall ·

Is dit ‘n probleem?
Toekomstige hoof van SAL of ESKOM, om sy vernietigingsvaardighede verder tentoon te stel?

Goa ya katse ·

Die arrogansie van hierdie moron is verstommend.

Dit wil voorkom asof hy nou die SABC beheer vanuit sy privaat studeer Kames, ten spyte daarvan dat n hoër hof opdrag gegee het dat hy onmiddelik uit diens gestel moet word.

Wouter ·

Betaal nie meer TV lisensie nie. Kyk hoe lyk ons TV kanale. Skandelik!

Trucker ·

Sal dit nie wonderlik wees as die EFF die bestuur van die media groepie oorneem nie. ???????????????

Etta van der Merwe ·

PJ, ek dink nie jy is ver verkeerd nie, dit sal wees nadat Hlaudi seker n bonus van dalk R40 miloen gekry het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.