Hlophe hoor vandag of parlement mag stem vir sy verwydering

Die Wes-Kaapse regterpresident, John Hlophe. (Foto: judgesmatter.co.za)

John Hlophe, regter-president van die Wes-Kaap, sal Woensdagoggend hoor of die parlement kan voortgaan om te stem oor of hy uit sy amp verwyder moet word.

Die Nasionale Vergadering (NV) is veronderstel om Woensdagmiddag te stem oor of Hlophe van sy amp as regter onthef moet word. Hlophe het hom egter tot die hof gewend om ʼn tussentydse interdik te kry om die proses te probeer keer en die Wes-Kaapse hooggeregshof sal Woensdagoggend sy beslissing hieroor bekend maak.

Hlophe is in Desember 2022 deur pres. Cyril Ramaphosa geskors nadat hy deur die Regterlike Dienskommissie (RDK) aan growwe wangedrag skuldig bevind is nadat hy twee regters van die Konstitusionele Hof probeer beïnvloed het in sake waarby oudpres. Jacob Zuma betrokke was. Die saak dateer terug na 2008.

Hlophe het reeds ʼn regstreekse aansoek by die Konstitusionele Hof ingedien om te versoek dat besluite om hom van sy amp te onthef, ter syde gestel word. Hlophe vra in sy aansoek in die Wes-Kaapse hooggeregshof dat die parlement verhoed word om te stem hangende die aansoek in die Konstitusionele Hof.

Die parlement het ’n antwoordende beëdigde verklaring by die Wes-Kaapse hooggeregshof ingedien waarin onder meer aangevoer word dat die huidige wette hom toelaat om voort te gaan met die stemming om te besluit of Hlophe uit sy amp onthef moet word.

In sy aansoek voer regter Hlophe aan dat die parlement versuim het om die nodige reëls vir die verwydering van regters aan te neem. Volgens die parlement voer Hlophe verkeerdelik aan dat omdat die NV nie sulke reëls het nie, die stemming en aanvaarding van ’n resolusie oor die mosie om hom uit sy amp te verwyder ongrondwetlik en ’n direkte skending van geregtelike onafhanklikheid en die skeiding van magte sal wees.

Die parlement glo egter dat sy besluit om voort te gaan met die proses korrek is en dat hy geen grondwetlike of statutêre bevoegdheid het om die werk van die RDK te dupliseer deur nog ’n ondersoek na Hlophe se gedrag te doen nie.

Hlophe beweer dat daar “onbehoorlike politieke druk” is om hom uit sy pos te verwyder. Hy voer ook aan dat “mense wat nie van hom hou nie” die RDK se proses teen hom aktief gedryf het totdat daar ʼn bevinding van growwe wangedrag gemaak is.

Hlophe het ook daarop gewys dat hy tans die mees senior regter in die land is en aangevoer dat dit in die openbare belang sou wees dat die komitee nie voortgaan met sy optrede teen hom nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

ES ·

Hy is kranksinnig – as hy van wangedrag skuldig bevind word moet die Regsbank die keuse kan maak om hom van sy amp te skors. Die president stel die regter-president aan en net soos wat die parlement die mag het om wette in te stem het hulle ook die mag om die regter-president uit te stem.

Republikein in die Wes Kaap ·

Dié man dink baie van homself. Hy moet sy eie Stigting stig. Malema kan hom dalk êrens gebruik.

Sobymykoolkop ·

2022 geskors?? Al oppad 2 jaar toe met VOLLE salaris. Lekker lang vakansie terwyl belasting betalers se geld gebruik word om te stry wie is reg of minder reg.

tweeling ·

Wel, daar is BAIE mense wat nie van hom hou nie, al dryf hulle nie die proses nie, jy is arrogant

Casper ·

Bedank voor jy verwyder word dan kan jy nog jou pension kry anders loop jy dieselfde paadjie as Mekhebane.

Casper ·

You are not untouchable as you thought an Zuma can’t protect you.Arrogant to say.

Prikkie ·

As hy die “mees senior regter” is wil ek nie sien wat sy juniors aanvang nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.