‘Ho, hey!’ The Lumineers kom kuier weer in SA

The Lumineers kom weer SA toe. (Foto: Jason Koerner/Getty Images vir AFP)

Warm solank jou stembande op om hardop “Ho Hey” saam te sing, die VSA se bekendste folkrockgroep, The Lumineers, kom kuier binnekort vir ʼn derde keer in Suid-Afrika.

Die groep het vandag op sy Instagram-blad aangekondig dat hulle as deel van hul Brightside-wêreldtoer Woensdag 30 November by die GrandWest Casino se Grand Arena in Kaapstad en Vrydag 2 Desember by die SunBet Arena by Time Square in Pretoria gaan optree.

Konsertgangers kan uitsien na liedjies van die Grammy-bekroonde groep se vierde album Brightside, asook internasionale spogtreffers soos “Ho Hey” en “Ophelia”.

Hul langverwagte terugkeer kom byna vyf jaar nadat hulle Suid-Afrikaanse gehore in 2017 tydens hul Cleopatra-toer betower het en agt jaar sedert hulle hul debuutalbum se wêreldtoer in 2014 in Suid-Afrika afgesluit het.

Hoofsanger Wesley Schultz sê die “gees” van die groep se jongste album – wat spog met treffers soos “Brightside”, “A.M. Radio” en “Big Shot” – wyk nie té ver van hul kenmerkende styl af nie, maar is beslis ʼn bietjie meer “lewendig en elektries”.

Kaartjies is eksklusief by Ticketmaster beskikbaar en verkope open Vrydag 27 Mei om 09:00.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Hennie Biebouw ·

Die harsteer realiteit egter, die Lumineers is maar bra gemiddeld sedert die vertrek van Neyla Pekarek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.