Hoë by gesondheidsdepartement afgedank oor PPE-bedrog

(Argieffoto: pixabay)

Die spesiale ondersoekeenheid (SOE) het die besluit verwelkom om Thandiwe Pino, hoof van verkryging en batebestuur van die Gautengse gesondheidsdepartement, af te dank. Dit volg ná sy skuldig bevind is aan die onreëlmatige toekenning van tenders vir persoonlike beskermingstoerusting (PPE) in reaksie op die Covid-19-pandemie.

Kaizer Kganyago, woordvoerder van die SOE, het gesê die eenheid het bewerings van wanadministrasie, hebsug, nepotisme en korrupsie in die aanstelling van diensverskaffers vir PPE en verwante dienste vir die provinsiale departement van gesondheid ondersoek.

Die SOE het bevind ʼn kontrak ter waarde van R125 miljoen is onreëlmatig toegeken aan Royal Bhaca Projects om PPE-items te verskaf weens sy direkteur se verbintenis met die voormalige provinsiale LUR vir gesondheid, dr. Bandile Masuku.

Die SOE het ook bevind ʼn kontrak ter waarde van R139 miljoen is onreëlmatig toegeken aan Ledla Structural Development, ʼn maatskappy wat bande het met Royal Bhaca.

Beadica het ook ʼn kontrak gekry om PPE, onder andere gesigmaskers, ter waarde van meer as R68 miljoen te verskaf.

“Die SOE het sy ondersoek afgehandel oor die kontrakte wat aan Royal Bhaca, Ledla en Beadica toegeken is. Die ondersoek het onthul dat behoorlike aanskaffingsprosesse nie deur die voormalige finansiële hoof Kabelo Lehloenya en Pino gevolg is nie,” het Kganyago bygevoeg.

Lehloenya het bedank toe die bewerings aan die lig gekom het. “Die SOE het ʼn bevel bekom om haar pensioenvoordele te vries hangende die uitslag van siviele aksie teen haar.”

Die departement het met dissiplinêre stappe teen Pino begin. “Die SOE is in kennis gestel dat Pino skuldig bevind is en sy is afgedank. Die SOE verwelkom haar afdanking.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

marius ·

Bedank en siviele aksie is die enigste gevolge. Absuluut die moeite werd! Wat’n hool !

Chris dupreez ·

Skitterende nuus, moet haar nou net nie weer na n ander departement stuur met n hoër salaris nie. Gooi haar in die tronk vir korrupsie

Nie Verbaas ·

Wel n sekere persoon met n hoed is afgedank en nou n minister.

Persheks Adri ·

Goed en gaaf, maar wie gaan die geld terug betaal met rente?

Ons soek steeds die groot visse in die regering so vang spoed asb!

Michal ·

die besighede wat geld gekry het moet ook geondersoek om uit te vind of die goed gegee is en wat die pryse was, ek is 100% seker die hoeveelheid goed en pryse vir die goed sal ons laat lag en huil

Pieter ·

En nie mand sit in die tronk nie en daar gaan ook nie iemand in die tronk sit nie. DIT is hoe dit werk in die ANC julle maak n mens siek.

Strandloper ·

S(J)OE…die wiele draai darem maar stadig en die meeste van die tyd net in tru rat?

Anoniem ·

Sy gaan seker appelleer. As die publiek net al die Staats tenders kon sien wat uitgestuur word.
Die spul dink ons is onnosel want jy kan mos sien as ‘n tender van ‘n Hotmail adres gestuur word maar jy moet die BOQ aan ‘n ander eposadres terugstuur. Daar word daagliks “tenders” geblok maar môre is dit weer in die inboks net van ‘n ander epos adres en Name verskil ook. Kry ‘n groot genoeg eiland in die middel van die oseaan en gaan damp die spul daar.

Ansie ·

Ek hoop sy word krimineel vervolg en dat daar beslag gelê word op haar bates.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.