Hoe die VBS-skandaal die EFF kan benadeel

Floyd Shivambu

Die betrokkenheid van Brian Shivambu, jonger broer van die EFF-onderleier Floyd Shivambu, by die ineenstorting van die VBS Bank (die eertydse Venda Bouvereniging), is die grootste krisis in die EFF se bestaan.

Dit gaan oor die wyse waarop Floyd Shivambu en die EFF geldelik voordeel uit Brian Shivambu se ondersteuning getrek het.

Hoe die party die kwessie hanteer, kan ‘n groot invloed hê op sy ondersteuningsvlakke en sy vertoning in aanstaande jaar se verkiesing.

Die eerste groot toets kom môre wanneer die EFF-leier, Julius Malema, ‘n mediakonferensie oor dié kwessie in Johannesburg toespreek. Dat die EFF dit besef, blyk uit die feit dat die party wat gewoonlik blitssnel uit die wegspringblokke is, byna ‘n week sedert die publikasie van die Reserwebank se verslag oor die VBS-ineenstorting gewag het voor hulle die nuuskonferensie belê het.

Die EFF het nog altyd die meedoënlose bevegting van korrupsie as een van sy sewe ononderhandelbare pilare gestel. Dié party het ‘n reusagtige rol gespeel om staatskaping, wanbestuur en korrupsie tydens die Zuma-regime aan die kaak te stel, en het ook die inligting oor oudminister Nhlanhla Nene se skakeling met die Guptas – wat tot Nene se bedanking verlede week as minister van finansies gelei het – aanvaar.

Die Reserwebank. Foto: ANA

Maar nou het die Reserwebank-verslag oor VBS – opgestel deur adv. Terry Motau, SC – bevind dat Brian Shivambu deelkragtig was aan die plundering van dié bank wat bankdienste aan die armstes in Limpopo verskaf het. Die bank het skielik ‘n groot kontantinspuiting gekry toe verskeie bedenklik bestuurde ANC-munisipaliteite hul bankdienste na die bank verskuif het nadat ‘n selfs meer bedenklike huislening aan oudpres. Jacob Zuma toegestaan is – een wat, so kom dit nou aan die lig, hy nie eens behoorlik betaal nie.

Van daardie plundergeld (het Motau bevind) het R16 miljoen aan Brian Shivambu gegaan, wat omtrent R10 miljoen daarvan aan sy broer Floyd gegee het, en waarvan meer as een miljoen by die EFF uitgekom het.

Brian Shivambu het ‘n verklaring ter ontkenning uitgereik, maar die papierspoor na sy rekeninge loop sterk. Hy erken wel dat hy alle moontlike steun aan sy broer en aan die EFF gegee het.

Floyd Shivambu veg sedert die publikasie van die Reserwebank-verslag hand en tand terug. Hy wys daarop dat hy geen bande met VBS het nie, en hy het onderneem om sy volle samewerking – wat sekerlik ‘n leefstyloudit sal insluit – aan enige amptelike ondersoek te gee. Hy het in die proses ook reeds met die Reserwebank geskakel.

Die enigste moontlike verweer wat Floyd Shivambu redelikerwys kan aanvoer, is dat hy onbewus was van hoe sy broer sy geld gemaak het. Die vraag is of hy en die EFF in so ‘n geval die geld sal terugbetaal.

Daar sou verskeie lastighede in so ‘n verweer kon wees. Die eerste is dat hy dalk maar moes vasgestel het – en daar redelikerwys verwag sou kon word dat hy sou vasstel, want hy is ekonomies baie kundig, met ‘n meestersgraad in ekonomie van die Universiteit van die Witwatersrand.

Tweedens het die Mail & Guardian berig dié koerant beskik oor ‘n SMS wat Floyd Shivambu aan ‘n skenker gestuur het met een van Brian Shivambu se maatskappye se banknommer daarin. Dit sal hy moet verduidelik – en goed verduidelik.

Floyd Shivambu se rol in die EFF en die parlement was deurgaans kardinaal. Wat die ekonomie betref is hy akademies die beste gekwalifiseerd in die hele parlement. Sy insette is altyd op die hoogste peil en word van kennis geneem ook deur diegene wat van hom verskil oor beleidskwessies soos ‘n meer staatsgesentreerde ekonomie. Hy het ook al getoon dat hy oortuig kan word deur ‘n goed omskrewe ekonomiese teenargument, en word as ‘n denker gesien.

In die politiek het sy humeur al teen hom getel. Hy is een van die EFF-lede wat tot dusver die sterkste teen samewerking met die ANC gekant was.

Vir die EFF is môre se mediakonferensie van die hoogste belang. As die party deur kiesers gesien word as sag op korrupsie, sal kiesers sukkel om tussen hulle en die ANC te onderskei.

Die EFF sal ook nie graag Floyd Shivambu as kundige en charismatiese leier met groot persoonlike aanhang wil verloor nie. Dit kan ‘n moeilike balans wees om te handhaaf.

Die EFF se beste uitkoms sal wees om voort te gaan om sy volle samewerking aan amptelike ondersoeke na die VBS-ineenstorting te gee, en op grond van ‘n volledige en eerlike ondersoek na Floyd Shivambu se optrede die moreel korrekte besluit oor sy voortgesette politieke toekoms te neem.

Indien hulle dit nie doen nie, gaan hul turf sit in die verkiesing. Daarom is Malema se mediakonferensie môre só bepalend.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

thelsa ·

Julius Malema se hewige ontkenning en reaksie laat my dink aan die Shakespeare drama Hamlet met die frase “The lady doth protest too much, methinks”,

Eish ·

Hul turf sit indien hul nie saamwerk nie?
Ek dink nie so nie…
Hul beskou dit as “Collateral damage” wat noodwendig volg in die strewe na hul radikale doelstellings.
“See Wambo” sê hoeka dit is “Weapons of mass deception”
Hul gaan eenvoudig die stemvee oortuig daarvan en meer stemme trek.
Die ondersoek moet spoedeisend geskied en afgehandel word, n skuldigbevinding is al wat die stropers uit sirkulasie sal onttrek.

jaco ·

Dis seker maar alles ok, want net swart mense was by die hele geld-debakel in VBS betrokke. Daar moet net nie uitbuitende Indiërs of rassistiese wit mense by betrokke wees nie. Slegs dan is dit vir die EFF ‘n skande.

Grassie ·

Ek glo nie die EFF gaan veel skade ly as gevolg van hierdie voorval nie. Hulle het nie gewetensbeswaar teen vat wat nie aan jou behoort nie – hul veldtog om witmense se grond en ander eiendom af te neem sonder vergoeding getuig daarvan. Wat is die verskil? Hulle sal wel hul veldtog teen eiendomsbesit deur wittes verskerp, veral hier voor die verkiesing, om op te maak vir verliese wat hulle dalk kan ly.

Osie ·

Toevallig bly Mnr Malema is Hydepark, langs Sandton. Een vd duurste voorstede in SA. Sal graag wil weet waar die geagte Mnr Shivambu bly..
#PayBackTheMoney

Bruno Samartino ·

Nee wat die EFF sal abs geen skade ly by kiesers nie. As die argument waar was in SA sou bitter min mense vir die ANC en EFF gestem het. Bedrog, korrupsie, staatskaping is geensins kriteria waarvolgens die massas besluit vir wie om te stem nie. Hierdie geval is net nog een wat verslaggewers en kommentators vir die volgende paar weke gaan besig hou met hul “insiggewende kommentare en voorspellings”.

Sarie ·

Jy is reg. Zuma het gesê gelukkig lees sy volgelinge nie koerante nie.

De Villiers ·

Daar het tot dusver nie veel van Malema se bedrogsake gekom nie, so ek glo ook nie hier sal veel van kom nie, hoe steek die bewyse ook al is. Hulle is mos ‘voorheen benadeeldes’ wat hulle die reg gee om bedrog te pleeg. En boonop steur hulle kiesers hulle nie veel aan hierdie tipe goed nie. My voorspelling wat die EFF nou gaan doen is dat hulle hul verkiesingsveldtog gaan verskerp met temas soos grondonteiening sonder vergoeding, nasionalisering van banke ens. in ‘n poging om die media en publiek se aandag op die VBS-skandaal weg te lei.

Snowball ·

Aanstap Rooies…. hoop tot in die tronk waar julle hoort.

Al ·

Gelukkig is God in beheer – of die EFF se kiesersteun gaan afneem of nie.
Die wiel draai – hul kry nou van hul eie medisyne terug – en dis bitter – juis omdat die EFF bykans vir ñ week stil is en nie soos gewoonlik van podiums afskree nie.

Hanna Hoekom ·

Kom ons wees nou eerlik: Malema is skynbaar onaantasbaar EN die gemiddelde EFF stemmer redelik vlak in die dak… Alles gaan net weer op rassisties witmense geblameer word en daarmee die einde van die storie! Ek hoop ek is verkeerd.

MarieM ·

As ek in die klei trap en my suster “gee” my R20 dan vra ek haar nie waar sy dit kry nie, maar as sy my miljoene gaan “gee” gaan ek beslis haar vra waar sy dit kry. Want ek weet sy het nie daai tipe geld nie. Het enige van hulle nie ook daai vrae begin vra nie?

waarheid ·

Wat van ene paddapotkoker?
Hoop hy word ook ondervra want hy het defnitief geweet van hierdie krookspul.
Dis hoekom hy die eff so laat wegkom met alles. Hy het iets om weg te steek waarvan hulle weet en hy is bang dit kom uit.

Verder sal daar niks van kom nie – die massas is ok met korrupsie – kyk hoe het hulle zuma aangehang met alles wat hy gestroop het.

Snoepie ·

Die spul naïewes wat glo dat hulle iets sal oorkom. Hahahaha

Stem tog EFF ·

Onthou tog wie ondersteun die EFF – n spul skurke !!!!!
Daar sal net mooi niks hiervan kom nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.