Hoe Kerskaarte kuns na mense gebring het

ʼn Reproduksie uit 1881 deur De la Rue van JC Horsely se heel eerste Kerskaart van 1843, wat hy in opdrag van Sir Henry Cole gemaak het: “A Merry Christmas and a Happy New Year to You”. Foto: Peter Wadham

Die heel eerste Kerskaart het sy ontstaan gehad omdat ʼn Victoriaanse man van die hoër stand in 1843 nie kon byhou met sy briefwisseling nie.

Destyds is dit as uiters ongeskik gesien indien jy nie korrespondensie vinnig beantwoord het nie. Nie soos deesdae waar mense sommer e-posse of teksboodskappe ignoreer nie.

Sir Henry Cole het in 1843 vir ʼn bekende kunstenaar, John Horsley, gevra om ʼn Kerskaart te ontwerp.

Volgens die Smithsonian-instituut het Cole ʼn duisend laat druk op harde karton. Die ontwerp het ook tot die ontvanger se gewete gespreek, want die feestafel met sy gelukkige mense, is aan beide kante omring deur arm mense. Bo-aan die ontwerp kon Cole net invul: Aan:… en onderaan: Van:…

Dit was heel maklik, want daar was net ʼn generiese boodskap: “A Merry Christmas and A Happy New Year To You.” Die kaart het hy dan in die pos gestuur. Cole het uiteindelik die direkteur van die Victoria & Albert-museum in Londen geword.

Teen 1860 was Kerskaarte mode en teen 1880 ʼn algemene verskynsel. In dié tyd het die Victoriane besluit Kersfees raak te kommersieel en hulle moet dit meer kunstig maak.

ʼn Kerskaart van Hildesheimer & Faulkner: “A Christmas Greeting with Love”, wat uit 1881 dateer. Foto: Peter Wadham

Navorsing deur dr. Patricia Zakreski, ʼn kenner van Victoriaanse kultuur,wat in die vakjoernaal Journal of Design History gepubliseer is, wys mense het kaarte laat maak deur baie bekende kunstenaars. Juis om  ʼn kunstige element na Kersfees te bring.

Tussen 1878 en 1888 het kunstenaars veral Kerskaarte gemaak wat baie kunstig en dekoratief was, omdat daar soveel kommer was dat Kersfees te kommersieel begin raak het. Die fokus was op die estetiese en die kaarte het bekostigbaar geraak vir die middel- en werkersklas, wat dit in hulle miljoene gekoop en gestuur het. Drukkerye se tegnologie het ook verbeter en hulle kon volkleur goedkoper druk.

Pryse is elke jaar aangebied vir die mooiste kaarte en bekende uitgewers het ook Kerskaarte laat maak. Selfs kunstenaars van die Royal Academy, soos Henry Stacy Marks, John Callcott Horsley (die ontwerper van die eerste kaart), Herbert Dicksee, Helen Cordelia Angell en William Frederick Yeame, het kaarte ontwerp.

Die firma De La Rue het van die bekende direkteur van Minton’s Art Pottery Studio, William Stephen Coleman, en sy suster, Rebecca, gebruik gemaak om van hulle ontwerpe te doen.

Hoewel van die ontwerpe soms godsdienstig was, was dit nie die norm nie. Byna alles is uitgebeeld, van landskappe en diere, tot mense en blomme. Dit is deur mense in die huis uitgestal en bewaar. Dit is nie iets wat sommer weggegooi is nie.

Dit was uiteindelik Kerskaarte wat die meerderheid mense aan kuns begin blootstel het elke jaar. Almal kon ʼn estetiese, mooi “kunswerk” besit wat hulle voorheen dalk nooit ervaar het nie. Vir ʼn pennie of twee kon enige iemand ʼn klein “kunswerkie” met goeie wense aan vriende en familie stuur.

  • Elsabé Brits is ʼn vryskut wetenskapjoernalis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.