Hoe moeilik is dit om 2 km in 9:30 min te draf?

Ter illustrasie. Foto: Sebastian Willnow/AFP.

“Hoe moeilik kan dit wees om twee kilometer in 9:30 min kaf te draf?” het ʼn hele paar sosialemediagebruikers gevra toe die nuus gebreek het dat Dané van Niekerk nie deel van die Protea-planne vir die komende T20-Wêreldbeker is nie.

Die uwe het besluit om sy fiksheid én reputasie op die spel te plaas om hierdie vraag te beantwoord.

Natuurlik is ek nie die fiksste mens op aarde nie, maar ek het al ʼn semi-blitsige vyfkilometertyd opgestel toe ek een aand in 2014 vir ʼn blesbok geskrik het tydens ʼn nagwedloop by uBhetyan-o-Africa naby Middelburg. Elke tweede naweek se grassnywerk sorg darem ook vir ʼn huppel in dié 35-jarige se stap.

Dané van Niekerk is ongetwyfeld een van Suid-Afrika se heel beste spelers. Op die internasionale T20-verhoog het sy amper 2 000 lopies geslaan en 65 paaltjies laat kantel. Foto: Twitter/KSA

Gewapen met die wete dat my ervaring en Nike-draftekkies (wat vir die afgelope paar jaar as laekostebehuising vir ons slaapkamer se langbeenspinnekoppe dien) my die nodige plofkrag sal gee, het ek met selfvertroue die uitdaging aangepak.

By die gimnasium aangekom, het ek die eerste en beste trapmeul geannekseer en behendig die verlangde afstand op die skerm ingedruk. Ek was weliswaar verbaas dat ek nog onthou het hoe om dit te doen, maar muscle memory bestaan toe so wrintiewaar.

Vooraf navorsing het getoon dat as ek die verlangde afstand in 9:30 min wil kafdraf, sal ek teen so 12 km/h moet hardloop.

(Die Protea-manspelers moet twee kilometer in 8:30 min voltooi, maar ek het geweet dat daardie fiksheidsuitdaging heeltemal bó my vuurplek sal wees.)

Sonder enige opwarming – ʼn leeu doen mos nie strekoefeninge voor hy sy prooi plattrek nie – het ek teen ʼn bestendige pas van 10 km/h weggetrek.

Ná 20 sekondes se verveling en met een van Avicii se treffers wat my aanvuur, het ek besluit om dinge ʼn bietjie in die rooi te druk – 14 km/h, my maat!

En ek het onmiddellik besef dat ek ʼn fout gemaak het.

My voete in die spinnerak-beplakte Nikes het gesukkel om die pas vol te hou, terwyl die doem-doem-musiek my ʼn skielike hoofpyn besorg het.

Boonop was die trapmeul ook verbaas oor hierdie skielike versnelling en hy het elke vyf sekondes ʼn spoedwal getref.

Die eerste keer dat hierdie onverwagse vaartvermindering plaasgevind het, het ek amper met blye galme oor die blessitse ding geskiet. Soos ʼn klip uit ʼn kettie is seker die gepaste beskrywing.

Ek het egter gou geleer dat handvatsels jou vriend is en vir die laaste kilometer het ek dus sonder die gebruik van my arms voortgestrompel.

Moeg en nat gesweet met kringe onder die oë en met verdwaalde oorfone steeds op die kop – dit is beslis nie so maklik as wat ’n mens dink nie.

Sekondes het skielik in ure verander, maar ek het myself aangemoedig: Krieket Suid-Afrika se fiksheidskriteria gaan my nie onderkry nie.

Kort voor lank het die sweet soos trane oor my wange begin stroom en net voordat ek die hemelpoorte in die verte begin uitmaak, het die trapmeul my in kennis gestel dat die uitdaging iets van die verlede is.

Vaagweg kon ek die rooi syfers op die skerm uitmaak: 9:03 min.

Ek het die fiksheidstoets geslaag, maar beskik ek oor dieselfde vaardighede en leierskap as Dané van Niekerk?

Beslis nie.

Boonop was die fiksheidstoets ook glad nie kinderspeletjies nie.

Wat sê ʼn kenner? Is fiksheid belangrik vir ʼn krieketspeler?

Greg King, die voormalige fiksheidsghoeroe van die Proteas, Indië en die Chennai Super Kings, het bevestig dat vaardigheid ʼn reuserol in ʼn speler se sukses op die veld speel.

“Maar as jy fiksheid met daardie vaardighede kombineer, sal jy in staat wees om dit teen ʼn hoër intensiteit uit te voer, terwyl die moontlikheid van beserings ook laer is,” het hy in ʼn onderhoud met The Cricket Monthly gesê.

Volgens King het talentvolle spelers al met ʼn paar skitterende prestasies vorendag gekom; die vraag is egter of hulle selfs beter sou presteer as hulle fikser was.

“Omdat krieket ʼn vaardigheidsafhanklike sportsoort is, kan spelers wegkom met ʼn laer fiksheidsvlak. Jy kan egter selfs beter wees met ʼn hoër fiksheidsvlak.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Gaan hardloop ‘n 2.4 km op ‘n grondpad met staaldak, webbing en geweer. Dan gesels ons weer.

Cabous like braai ·

En daar haal jy die woorde uit my mond uit,……nes jy daar se en met volle uitrusting boots en all

Witwax ·

En jy moes dit onder 15min gedoen het, ek het dit atyd net net gemaak.

Blikkies ·

Ja, dit het nou beslis herinneringe terugebring, moeilike herinneringe..

piet ·

Ek het dit ook gemaak maar altyd gesukkel om dit te maak al was ek nogal oor die algemeen redelik sportief. Ons het onder andere ‘n provinsiale kanovaarder en ‘n amateur bokser in ons peleton gehad, hulle het dit lag-lag gedoen. Daai ouens is fiks. Ons het ook ‘n rerige useless klong in die peleton gehad, een van daai ouens wat nooit aan sport deelgeneem het nie. Ons moes die ou meestal dra anders maak ons dit nie en as almal dit nie maak nie weet ons mos nou dit word oorgedoen TOTDAT almal dit maak. Daai ekstra las het ‘n ou moeggemaak. Help jou maatjie. Eish, hulle het darem ook sekere ouens geklassifiseer as G1K1 wat wragtag nie dit moes wees.

hpven ·

Wow! Manne hier praat ons mekaar se taal! Lekker Lekker nou, maar nie so lekker toe ons daar was nie. Onthou die medisyne in die waterbottel…

JohanR ·

Maar dit was lekker want jy en die manskap was fiks fiks fiks, en dan het julle gesing en die boots het saam gestamp op die tyd. Dit was lekker.

Pieter9 ·

Sy moet fiks word en dan sal sy beter presteer – geen uitsondering; van Niekerk moet net meer saam met haar vrou/man gaan draf, dan is beide fikser tot voordeel van die vroue krieketspan se prestasies.

George ·

Jy’t nie die minimum, jou 30% gehaal nie, eenvoudig. As jy nie die fiksheids toets kan maak as sportsvrou nie, kan jy ongelukkig nie in die span wees nie, ongeag jou vorige prestasies. Is nie die eerste nie, sal ook nie die laaste wees nie.

Pieter ·

Ook onthou dat as jy korter is moet jy vinniger hardloop as ander wat langer is :-).

piet ·

Jy moet fiks wees om T20 te speel veral as jy ‘n topkolwer is. Maak ‘n groot verskil vir tussen paaltjies hardloop. Jou fiksheidspeil kan bepaal of jy in staat sal wees om byvoorbeeld 2 lopies te kan hardloop in plaas van net een as jy sukkel. En ons weet dat ‘n paar ekstra lopies veral in T20 baie belangrik kan wees.

Chris ·

Om 2.4km met oorlogtoerusting onder 10 minute te hol is nie grappies nie. Jy doen dit totdat jy dit kan of reg gedoen het.

Souterig ·

Was vir seker geen grap met ‘n Vickers MMG, driepoot en ammunisie kaste nie…25kg, 50kg as ek reg kan onthou en wie weet, ja tussen drie maar ai ai ai was broekskeur. Ek kyk tot vandag toe ‘n Weber skeef aan.

JohanR ·

Toe ek nog jonk en viriel was het ek my vinnigste 21.1km gehardloop 91min en 40 sekondes. Ek het soe my tree uitgerek en gestoot vir onder 90min maar tervergeefs. 91min 40 sek is soe 4min 21sekondes ‘n km of 2km = 8min 42sekondes.

Piet parys ·

As jy in die weermag was sou ky dit maklik kan doen met jou rugsak maar dan sal dit 2.4km wees . Dit sal nie op rubberband wees nie maar op ongelyke terrein met op en afdraandes. My tyd 9.30 full kid

Renier ·

Ek is amper 60 en omtrent 10kg oorgewig en kan maklik daardie spoed oor 2 km volhou. Ek sou dink ‘n professionele sportman behoort dit maklik te kan doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.