Die afgelope paar maande spook dieselfde kommer by miljoene Suid-Afrikaners wanneer die ligte vir die soveelste ronde beurtkrag afgaan: Is dit die begin van die einde vir die kragnetwerk?
Die vrees vir ʼn algehele ineenstorting van die kragnetwerk word moontlik aangevuur deur die rimpeluitwerking wat dit sal veroorsaak: Geen water, geen telekommunikasie, geen ekonomie – en bes moontlik anargie.
Kenners op die gebied, sommige verbonde aan Eskom, het vandeesweek die A tot Z van ʼn moontlike ineenstorting van die kragnetwerk uitgestippel. Hulle sê hoewel die vreesaanjaende scenario van ʼn ganse netwerkineenstorting hoogs onwaarskynlik is, is dit nietemin nooit onmoontlik nie.
“Die vrese dat ʼn totale ineenstorting van die kragnetwerk op hande is, is ongegrond,” sê Isabel Fick, hoofbestuurder by Eskom se stelseloperateur.
“Soos met enige operateur is dit verstandig om vir al die moontlikhede te beplan; daarom beplan en berei ons al lank voor vir die moontlikheid van ʼn ineenstorting van die kragnetwerk.”
Hoe lyk ʼn ineenstorting?
Prof. Jan de Kock, verbonde aan die Noordwes-Universiteit en die Suid-Afrikaanse Instituut vir Elektriese Ingenieurs (SAIEE), verduidelik dat ʼn ineenstorting van die kragnetwerk ʼn sameloop van gebeure is.
Soms word die opwekkingsbates in gedrang gebring – óf deur kragnetwerkversteurings, aanleg- en menslike foute óf selfs ontwerpfoute – wat dan tot ʼn ontkoppeling van die kragnetwerk lei, sê De Kock.
Fick sê voorbeelde regoor die wêreld wys dat ʼn ineenstorting van ʼn kragnetwerk nie weens ʼn gebrek aan kapasiteit is nie, maar eerder ʼn gebeurtenis wat sy oorsprong in die transmissie-ruimte het.
Weerverskynsels is wel een van die hoofredes waarom ʼn ineenstorting skielik en onbeplan kan plaasvind.
Volgens Fick is die Wes-Kaap en KwaZulu-Natal voorbeelde van streke wat in duisternis gedompel is weens kwaai weerstoestande.
Sou die hele land sonder krag sit, sal alle sfere van die ekonomie en samelewing geraak word, sê Fick.
Watertoevoer sal onderbreek word, daar sal waarskynlik ʼn brandstoftekort wees, telekommunikasie sal misluk wat tot die ineenstorting van die veiligheid-, finansiële en kleinhandelsfere sal lei.
Dit kan eindelik volskaalse oproer tot gevolg hê.
Eskom skat dat dit ná so ʼn gebeurtenis tussen ses dae en twee weke sal duur om die kragtoevoer regoor die land te herstel. Dit is omdat dele van die netwerk eers op die been gebring en verbind moet word om die netwerk te stabiliseer.
Hoekom is ʼn ineenstorting ‘onwaarskynlik’?
Volgens Fick is beurtkrag een van die maniere wat Eskom gebruik om ʼn totale ineenstorting van die kragnetwerk te voorkom.
“Ons pas beurtkrag toe wanneer die vraag na krag meer is as die krag wat opgewek en gedra kan word,” sê sy.
“Hoër beurtkragfases is ook nie ʼn aanduiding dat die kragnetwerk op die rand van ineenstorting is nie, maar weerspieël die operateur se vermoë om die netwerk te beskerm.”
Sy sê daar word die afgelope tyd meer gereeld onderhoud aan infrastruktuur gedoen wanneer beurtkrag ingestel word en dit help om die infrastruktuur in ʼn beter toestand te hou.
Beurtkrag is egter nie die enigste manier waarop ʼn ineenstorting voorkom word nie.
Fick verduidelik dat daar verskeie “versperrings” in die netwerk ingebou is wat Eskom teen ʼn algehele ineenstorting help beskerm.
Nog ʼn maatreël wat Eskom inspan is navorsing en tegnologie wat deur die WNNR gedoen word.
Monique le Roux, ʼn navorser en elektriese ingenieur by die raad, sê sy en dr. Sipho Mdhluli werk nou saam met Eskom aan ʼn kaart van die land se kragnetwerk.
“Die kaart is ʼn belangrike instrument wat gebruik word om te sien hoe die kragnetwerk reageer as iets daaraan verander, soos ʼn substasie wat onklaar raak of ʼn aanleg wat uit diens gestel word,” sê sy.
“Dit bied ʼn blik op dit wat gebeur sonder dat dit in die praktyk geïmplementeer moet word. Dit is soos ʼn padkaart wat ons gebruik om te kyk wat aanlyn gebring moet word om die kragnetwerk stabiel te hou.”
Fick sê Eskom het byvoorbeeld reeds toetse gedoen oor die uitwerking op die kragnetwerk indien eenheid 1 en 2 van Koeberg weggelaat sou word. Weens die rugsteunnetwerk in die gebied is die kragnetwerk in die geheel steeds stabiel – selfs sonder Koeberg.
Vooruitsigte
Fick sê dit is onmoontlik om te voorspel hoe beurtkrag oor die volgende paar maande gaan lyk, aangesien die status van die kragnetwerk voortdurend verander.
Daar word gewoonlik in die somermaande meer beplande instandhoudingswerk gedoen, wat die kragnetwerk onder meer druk plaas en “meer beurtkrag tot gevolg het”.
Eskom probeer egter deurentyd om na hernieubare energiebronne te kyk om die opwekkingskapasiteit te verbeter.
Hoewel hernieubare energie tot ʼn meer onstabiele kragnetwerk kan aanleiding gee, leer Eskom tans by lande soos Denemarke en Duitsland om te verseker dat die kragnetwerk met meer hernieubare energie steeds bestendig is. Dié lande se kragnetwerke beskik oor sowat 60% hernieubare energie en tog hou hulle steeds die krag suksesvol aan.