Hoë padsterftesyfer vir Desember

Argieffoto: ER24

Argieffoto: ER24

Minstens 1 143 mense is reeds tydens die feestydperk in padongelukke dood, het die minister van vervoer aangekondig.

Volgens minister Dipuo Peters was daar reeds 924 noodlottige padongelukke tot op 28 Desember. In KwaZulu-Natal was daar 211 ongelukke waarin 249 mense dood is. In Gauteng was daar 156 noodlottige ongelukke waarin 174 mense dood is. In die Oos-Kaap was daar 129 noodlottige ongelukke waarin 161 mense dood is.

In Limpopo was daar 106 noodlottige ongelukke waarin 138 mense dood is terwyl daar in Mpumalanga 90 ongelukke was waarin 110 mense dood is. In die Vrystaat was daar 63 noodlottige ongelukke waarin 95 mense dood is en in die Wes-Kaap was daar 78 noodlottige ongelukke waarin 91 mense dood is.

Volgens Peters was daar 50 minder noodlottige ongelukke en 25 minder sterftes as in die ooreenstemmende tydperk verlede jaar. Sy het egter gesê dit is kommerwekkend dat daar sedert 23 Desember ʼn toename was in die aantal ongelukke en sterftes. Daar was van 1 Desember tot 23 Desember 539 noodlottige ongelukke waarin 677 mense dood is.

Peters het gesê dit is opvallend dat 31% van noodlottige ongelukke tussen 22:00 en 06:00 plaasgevind het. Sy het gesê daar is teen 28 Desember reeds 415 mense in hegtenis geneem vir spoedoortredings. Die vinnigste spoed wat aangeteken is, was 265km/h in die Vrystaat. Minstens 904 mense is reeds in hegtenis geneem vir dronkbestuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.