Hoe rommelstatus jou sak raak

rommelstatus-pexels

Foto: Pexels/Pixabay.com

Die kredietgraderingsagentskap Standard & Poor Global Ratings (S&P) het Maandagaand die staatskuld in buitelandse geldeenhede afgegradeer en die meeste ontleders verwag dat die rand-effekte ook afgegradeer sal word.

Die vraag op almal se lippe is nou: Hoe gaan die afgradering die verbruiker se beursie raak?

“Ek dink nie verbruikers gaan dadelik die impak van Suid-Afrika se rommelstatus voel nie. Ek is eintlik meer bekommerd oor die langtermyneffek wat die afgradering na rommelstatus op inflasiekoerse kan hê. Voorts dink ek ook hoër belastingheffings sal die manier wees waarop verbruikers dit gaan ontgeld, sodat die regering sy tekort op sy begroting kan finansier,” het Francois Smit, finansiële raadgewer van Solidariteit Finansiële Dienste, gesê.

Edward Blight, ʼn dosent in ekonomie aan Akademia, verduidelik dat ʼn mens sal moet onderskei tussen die korttermyn- en langtermyn-implikasies van die rommelstatus.

“In die korttermyn kan dit lei tot die depresiasie van die rand. Suid-Afrika voer die meeste van ons produkte in en die depresiasie van die rand sal beteken dat invoere duurder word,” het Blight gesê. Ontleders verwag dat die rand tot R16 of R17 kan verswak, veral indien kredietgraderingsagentskappe die rand-effekte sou afgradeer.

Volgens Wouter Snyman, uitvoerende hoof van die finansiëledienste maatskappy attooh!, kan dit alleen verreikende gevolge vir die verbruiker se beurse inhou aangesien Suid-Afrika tussen 60 en 70% van die produkte op die supermark se rakke invoer. “Ons kan ook verwag om meer vir petrol te betaal indien die rand gaan verswak.”

Die sakeregtewaghond, AfriSake, het gesê rommelstatus sal lei tot ʼn uitvloei van geld uit die land, wat ʼn swakker rand en hoër inflasie tot gevolg sal hê. Hoër inflasie lei tot hoër rentekoerse vir Suid-Afrikaanse verbruikers. Dit is miskien goeie nuus vir diegene wat spaar, maar Suid-Afrikaners is berug daarvoor dat hulle geld leen en hoë skuldvlakke het. Verbruikers gaan in die toekoms meer moet betaal vir hulle motors, huise en vir krediet. Hoër rentekoerse het ook ʼn impak op die waarde van huispryse, aangesien sekere eiendomme net te duur sal wees vir kopers.

“Die langtermyn-impak sal beteken dat rentekoerse van regeringsverbande moet toeneem om die risiko van die rommelstatus te regverdig. Dit beteken dat die regering se kostes gaan toeneem, maar dit sal slegs wees om rente te betaal. Daar is beslis wel ʼn werklike risiko dat die Reserwebank in die toekoms die rentekoerse kan opstoot om te sorg dat inflasie nie toeneem nie,” het Blight gesê.

“Die rommelstatus is ʼn bose kringloop. Tans word die tekort op die land se begroting gefinansier deur belasting en lenings. In 2015 het Suid-Afrika reeds R5 miljoen per dag benodig wat belê moet word. As ons op alle fasette afgegradeer sou word, wat ʼn groot waarskynlikheid is indien daar nie ingrypende veranderinge kom nie, sal die rommelstatus beleggers verhoed om in Suid-Afrika te belê. Die regerings sal duurder moet betaal vir hulle lenings, of belasting moet opstoot op die rug van ʼn ekonomie wat sedert 2009 in ʼn afwaartse groeisiklus is en nog nooit werklik herstel het nie,” het Snyman gesê.

Volgens Smit geld al die goeie ou raad rondom persoonlike finansies steeds en moet verbruikers daarop staatmaak om hulle beursies teen die impak van die land se rommelstatus te beskerm.

  • Bly sover moontlik kredietvry, vermy veral slegte skuld soos klererekeninge, persoonlike lenings en kredietkaarte. Delg jou skuld sover moontlik en dink twee keer voordat jy nuwe skuld aangaan. “Dit is altyd beter om minder skuld te maak, maar jy kan skuld aangaan om ʼn beleggingsbate soos ʼn huis wat jy uitverhuur aan te koop. Kry ʼn goeie finansiële raadgewer om jou hiermee te help.
  • Kry ʼn finansiële raadgewer wat jou kan help om te kyk hoe jy die verliese op jou spaargeld kan voorkom. ʼn Finansiële raadgewer kan jou ook raad gee oor hoe om gebruik te maak van elke liewe belastingsvoordeel sodat hoër belasting nie jou beursie raak nie. Belasting is ongelukkig die manier waarmee die regering al meer hulle planne gaan wil finansier.
  • Stel ʼn begroting op, want sonder ʼn daadwerklike plan vir jou geld gaan jy nie ver vorder nie. Finansiële kenners meen dit is belangrik vir verbruikers om te weet hoe hulle geld bestee en by ʼn begroting te bly. Navorsing toon dat 64% van Suid-Afrikaners wie se finansies gesond is, ʼn begroting het.
  • Om finansiële welstand te verseker gaan beteken dat verbruikers hulle bestedingsgedrag moet verander en finansiële moed aan die dag lê.

“Jy gaan weer en weer na jou begroting moet kyk. Luukshede gaan eenvoudig gesny moet word en jy sal jou belt opnuut moet stywer trek,” het Snyman gesê.

“Die verbruiker moet nou onthou dat elke ding wat met die Suid-Afrikaanse ekonomie gebeur kan deursyfer na hulle beursie. As jy egter die regte besluit neem, kan jy die impak heelwat verminder,” het Smit bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

8 Kommentare

Jip ·

En die’s verantwoordelik vir die status, rol in ons tax geld se miljoene, maar ons moet styf trek

CR ·

Dankie vir die goeie raad. Sal verseker rekeninge toemaak, ens, en weer n nuwe budget opstel. My finansiele makelaar sal maar moet ingryp. Baie sterkte aan almal en die wat nog raad het vir hoe om ons beursies stywer toe te hou,sal goed wees. Ons moet maar met mekaar deel hoe om te kan survive in die moeilike tyd.

Francois Smit ·

Fanie, jy slaan die spyker op die kop. As ons regering ‘n beleid kan volg van produksie eerder as verbruik, kan die invoer/uitvoer verhouding baie beter lyk. Wat hulle nie verstaan nie, om welvaart te skep moet daar investering en produksie plaasvind, nie verbruik van dit wat daar is totdat dit op is nie. Die opmerking is al gemaak dat die ANC mense probeer leer dat hulle net hoef te stem vir ‘n beter toekoms, nie te werk daarvoor nie . . . Laat ons nou durf ‘n plan maak om investering en produksie aan te moedig, dan word dit “white monopoly capital” genoem. Ons moet egter nie moed opgee nie al noem hulle ons pogings wat . . .

Chaparel ·

Die regering se lekker vakansie lewe, duur huise, duur motors, duur klere en skoene en n stewige bankrekening ag ja wat ons moet betaal vir hulle luukse lewe, sooo onregverdig.

evsbest ·

Hoe kry ons dit verander? Wens ons kon ook dat hul net n minimum loon mag kry….

Ja nee ·

Ek weet nie of ek dit mag se nie maar ek dink daars baie ander mense wat saam my sal stem dat die regering verantwoordelik gehou moet word vir die land se skulde wat gemaak is en die terug betaling daarvan! Hoekom moet ons belastingbetalers altyd maar altyd die kortste end trek?! Wat gaan hulle doen as ons belastingbetalers ons gelde weerhou deur om nie belasting te betaal nie wat dan? Ek stel voor dat alle luukse bates van die regering(Zuma en kie) verkoop moet word om skulde te delg wat die regering aangegaan het ! Gaan le beslag op hulle almal se bankrekeninge binnelands en buitelande en kry ons land se gelde terug waarin hulle hulself so lekker gehelp het! Net my opinie.

Griki ·

Ek het nie meer ‘n belt om stywer te trek nie. Hy was al voos en het gedisintegreer. Daar is nie geld vir ‘n ander een nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.