Hoë slaagsyfer skep verwagtinge by matrieks

(Argieffoto)

Die matrieks van 2019 het die hoogste slaagsyfer in die land se geskiedenis behaal en 81,3% van die 616 700 voltydse kandidate het die matriekeksamen geslaag.

Die meeste matrikulante nóg het boonop vanjaar met matriekvrystelling geslaag, wat beteken dat hulle kwalifiseer om vir ʼn graad te studeer.

Volgens die nasionale departement van onderwys kwalifiseer altesaam 186 058 matrikulante vir toelating tot ’n baccalaureusprogram aan ’n universiteit. Luidens ’n verslag deur departement het die getal matrikulante met matriekvrystelling vanaf ongeveer 100 000 in 1994 tot ongeveer 186 058 in die afgelope jaar toegeneem. Dit dui op ʼn toename 86,6% oor die afgelope 24 jaar.

Die aantal leerders met universiteitstoelating het net sedert 2018 met 8% gestyg .

Dié jong mense sien nou met sterre in hul oë na die toekoms uit. Die realiteit is egter dat baie van dié leerders binne die eerste jaar van hul studies sal uitsak weens ʼn gebrek aan geld óf die akademiese vermoë om hul studies te voltooi. Die gehalte van onderrig aan TVET-kolleges is glo ook so beroerd dat dit nie as ʼn opsie vir verdere studie oorweeg kan word nie, meen kenners.

Matrikulante met matriekvrystelling is nie ʼn graad gewaarborg nie, aangesien dit bloot die minimum vereiste vir verdere studie aan ʼn universiteit is, herinner Ahmed Bawa, uitvoerende hoof van Universiteite Suid-Afrika.

Hy verduidelik dat net sowat 60% van studente wat verder studeer uiteindelik hul graad behaal. “Baie potensiaal gaan verlore en universiteite werk voortdurend om hierdie uitsakkoers te verbeter,” verduidelik Bawa.

(Foto: MD Duran/Unsplash)

Tammy Breedt, woordvoerder van die Vryheidsfront Plus, sê minder as ʼn kwart (22%) van studente voltooi ʼn driejaargraad in die aangewese tyd.

Melanie Buys, ʼn onderwysspesialis by Helpende Hand se Skoleondersteuningsentrum, meen ʼn vals verwagting word by leerders geskep om verder te gaan studeer, terwyl hulle nie oor die akademiese vermoë hiervoor beskik nie.

“Wanneer ons kyk na die deurvloeikoers by universiteite, is dit duidelik dat studente nie voldoende toegerus is om ʼn sukses van hul studies te maak nie. Leerders betree universiteite, terwyl hulle akademies nie bevoeg is vir die uitdagings wat verdere studie inhou nie, en kom gevolglik nie die mas op nie.”

Sy wys daarop dat meer matrikulante die afgelope twee jaar toegang tot universiteite gekry het omdat die regering die standaarde verlaag het en nie omdat matrikulante noodwendig beter vaar in die matriekeksamen nie.

“ʼn Verwagting word nou by leerders geskep dat hulle ʼn graad sal behaal, maar baie is nie toegerus om verder te kan studeer nie. As jy wiskunde met 30% geslaag het, kan jy nie dink jy gaan ʼn BSc-graad behaal nie. Dit is dán wanneer studente ʼn gevoel van mislukking ervaar,” verduidelik sy.

Bawa meen ook dat nie alle matrieks wat met matrieksvrystelling slaag, behoorlik toegerus is om aan ʼn universiteit te studeer nie.

Bawa sê universiteite het boonop die afgelope jare ʼn nuwe tendens opgemerk wanneer studente hul studies opskop. “Dit wil voorkom of al meer studente opskop weens die finansiële las van hul studies, eerder as dat hulle nie die akademiese mas kan opkom nie,” sê Bawa.

Die nasionale skema vir finansiële bystand vir studente (NSFAS) het aan Maroela Media bevestig dat hulle ʼn rekordgetal van 543 268 aansoeke ontvang het van studente wat finansiering vir 2020 nodig het.

NSFAS het verlede jaar net meer as 300 000 studente befonds met ʼn begroting van R30,8 miljard. Dit beteken die skema sal amper dubbeld soveel geld moet uithaal indien hulle vanjaar al die studente wat aansoek gedoen het, wil befonds. Volgens die nasionale tesourie se mediumtermynbegroting in 2018, sal dié organisasie se begroting in die volgende boekjaar met slegs 26% tot R38 miljard toeneem. Dus nie genoeg om al die behoeftige studente te finansier nie.

Die welsynsorganisasie Helpende Hand het wel Vrydag aangedui dat hulle deur die Helpende Hand Studiefonds vanjaar R43,7 miljoen beskikbaar stel waarmee ongeveer 1 300 behoeftige Afrikaanssprekende studente 2020 befonds sal word. Dié studente is reeds geïdentifiseer.

(Foto: Sol-Tech/Facebook)

TVET-kolleges

Volgens Breedt is dit kommerwekkend dat sowat 145 000 matriekleerlinge glad nie matriekvrystelling of toelating tot diplomastudies kon behaal nie en net-net deur is, aangesien 58% van die jeug tans werkloos is.

Luidens die departement se verslag oor vanjaar se matriekuitslae het 65% van 2019 se matrieks nie matriekvrystelling behaal nie, maar wel vir ʼn diploma gekwalifiseer. Dié leerders sal vanjaar vir ʼn diploma by verskeie TVET-kolleges (Kolleges vir Tegniese Beroepsonderwys en Opleiding) kan studeer.

Volgens die Inkatha Vryheidsparty lyk die toekoms egter nie blink vir diegene wat by dié instansies wil studeer nie.

Die party het Woensdag in ʼn verklaring gesê die tersiêre opleidingstelsel is grotendeels nie toegerus vir die rekordgetal matrieks wat vanjaar geslaag het nie.

“Die werklikheid is dat Suid-Afrika se dosente by TVET-kolleges ondergekwalifiseerd is en die sertifiseringsprogram swak bestuur word. Die meeste leerders wat nié vir graadstudies kwalifiseer nie, skryf by ʼn TVET-kollege in,” sê Mkhuleko Hlengwa, woordvoerder van die IVP.

Volgens Buys is daar baie min opsies vir matriekleerlinge wat nie aan ʼn universiteit gaan studeer nie, aangesien baie TVET- kolleges nie op standaard is nie. Ander private instansies is weer peperduur.

Kolleges soos Sol-Tech is egter ʼn baie goeie opsie, meen Buys.

Bawa glo dit hang af van watter rigting studente hul in wil bekwaam.

Volgens Bawa is TVET-kolleges geskik vir diegene wat vorentoe in die arbeidsmag wil werk.

Matrikulante wat graag by ʼn universiteit wil studeer, maar nie universiteitstoelating behaal het nie, hoef volgens Bawa ook nie moed te verloor nie, aangesien daar ʼn ooreenkoms tussen sekere kolleges en universiteite bestaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

André André ·

Ons hou die graderingsagentskappe se positiewe verwagtinge van die ekonomie dop, dit nou ook na Cyril se toespraak gister voor ‘n belangelose skare waarvan maar ‘n derde wat verwag was opgedaag het. Die verwagte groeikoers sal weer hierdie jaar onder 1% wees, terwyl die behoeftes in die land met baie meer % punte sal styg. Die jaar vol verwagtinge lê voor, verseker sal ‘n vingerklap van Cyril nie antwoord gee nie. En jip die matrieks sal maar die rugsakke moet pak, water saamvat, en op duimry se karretjie klim.

John ·

Ons het nog nie groot betogings gesien nie, maar dit kom. Oumense sonder kwalifikasies sit al vir 25 jaar in ANC-gefundeerde poste en die droogmakers onder hulle word beskerm. Die jonges is moeg om te luister na grootse redes oor vergete kaders en hul drome. Werkloosheid is ‘n werklikheid. NSFAS word nie vir ewig uitbetaal nie. Wat dan?

Gemaskerde Sopbeen ·

Toe ek so 8 jaar of so terug vir my Laerskool kind ‘n Hoërskool moes soek, het elke skool wat ons besoek het gespog met jare lange 100% Matriek slaagsyfer, hope onderskeidings, en gespog met “klein klassies vir persoonlike aandag”. Wanneer ek dan vra of ek statistiek kan kry van hoeveel van hulle matrikulante ook eerste jaar op Universiteit geslaag het, het hulle my net so aangestaar….en kon nie antwoord nie. Dis dieselfde skole wat so spog HOE hulle jou kind vat en voorberei vir die “regte lewe” daar buite? Die “regte lewe” is NIE 16 leerders in ‘n klas wat met ‘n lepel gevoer en op die kop gekap word om te sluk nie………die “regte lewe” is 300 studente in ‘n lesinglokaal met ‘n lektor wat NIE jou naam ken nie……..daarom het jy ‘n studente nommer!!!

Julie Jansen van Rensburg ·

Ek het totdie slotsom gekom dat baievan vandag se jeug onder die verkeerde indruk verkeer dat om “graad te vang” beteken dat hulle by een of ander kantoor gaan instap en sommer met die intrapslag ‘n ses-syfer salaris gaan losslaan. Dit skep egter bekommer (in my opinie, altans) dat daar op “handewerk” neergesien word soos in die konstruksiebedryf, byvoorbeeld – messelaars, elektrisiëns, glaswerkers, loodgieters word altyd benodig en – soos ek verstaan – as hulle gekwalifiseerd is -word hulle goed betaal. Werktuigkundiges is ook altyd in aanvraag, maar ek kry aldie idee dat daar op sulke werkers deur seker mense neergesien word, want dit IS vuil werk – MAAR mense met hierdie vaardighede kan altyd hulle eie besigheid begin – my oorlede pa het sy eie ingenieurswerkswinkel in Pretoria gehad en hy kon byna nie voorbly met al die werk wat ingekom het nie… my jonger broer het later die besigheid oorgeneem, maar is later aan breinkanker oorlede, maar sy werkslui het die besigheid gekoop en die geld vir sy dogter gegee, en sover ek weet – is die onderneming steeds baie bedrywig… nee, kyk, jy het nie ‘n graad nodig om ‘n suksesvolle beroep te volg nie – die wêreld benodig ook mense wat met hulle hande kan – en wil – werk…

Sê-maar-net ·

Vandag se Matriek is nie 20 jaar gelede se Matriek nie. Ek het altyd aan die begin van die jaar die 1994-vraestel 1 vir my vak aan die leerlinge gegee. Julle het mos gr. 11 geslaag, nou toe laat ons sien wat julle onthou! Die gemiddelde % vir die klas was konstant laer as 25%. Dan het ons hard begin leer. Uiteindelik kon almal slaag en het ek baie onderskeidings ingeoes. Die laer standaarde het eintlik my prestige verhoog! LOL!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.