Hoe verskil ʼn noodtoestand van ʼn ramptoestand?

Die gebou van die Nasionale Vergadering op die perseel van die parlement in Kaapstad. Foto: www.parliament.gov.za

Suid-Afrika is sedert Sondag 15 Maart landwyd in ʼn ramptoestand met baie spesifieke voorskrifte.

Sedert die vergadering tussen pres. Cyril Ramaphosa en opposisieleiers Woensdagoggend toe die moontlikheid van ʼn noodtoestand genoem is, het vrae ontstaan oor die verskil tussen ʼn ramptoestand en ʼn noodtoestand.

Die antwoord is dat ʼn noodtoestand baie wyer magte verleen aan die veiligheidsmagte (weermag en polisie) en dat verskeie menseregte wat in die Grondwet verskans word dan opgehef word, onderworpe aan parlementêre toesig.

Die skrywers van die Grondwet het dit so moeilik moontlik gemaak vir ʼn noodtoestand om in stand gehou te word, want ʼn noodtoestand skort min of meer alle menseregte op behalwe die reg op lewe, die reg op gelykheid, die reg op vryheid en sekerheid van die persoon, die reg teen knegskap, slawerny en dwangarbeid, die regte van beskuldigde, aangehoue en gearresteerde mense, kinderregte en die reg op menswaardigheid.

ʼn Noodtoestand kan van 21 dae tot drie maande duur, met die reg van appèl na die hof indien iemand dink dit is onregmatig gedoen.

Art. 37 van die Grondwet handel spesifiek oor noodtoestande, en dis een van die omvattendste dele van die Grondwet.

Dit bepaal dat ʼn noodtoestand net vooruitwerkend afgekondig mag word, nie terugwerkend nie. Enige verlenging van die noodtoestand moet met ʼn stemming van 50% plus een van die Nasionale Vergadering goedgekeur word, en van die tweede verlenging af deur 60% van die Nasionale Vergadering, wat beteken die ANC sal nie ʼn noodtoestand op sy eie in stand kan hou nie.

Alle regulasies vir ʼn noodtoestand moet in die Staatskoerant gepubliseer word en geen vrywaring (hetsy vooruitwerkend of terugwerkend) mag verleen word aan enigiemand (insluitend die staat) vir onwettige optrede nie.

Die Grondwet maak nie voorsiening vir spesifikasies rakende regulasies tydens ʼn noodtoestand nie; dit word deur die regering bepaal met die afkondiging van ʼn noodtoestand. Enigiemand wat nie by die regulasies hou nie, mag onmiddellik in hegtenis geneem word.

Van die belangrikste regulasies wat pres. Ramaphosa met die afkondiging van die ramptoestand ingestel het, sluit in dat skole gesluit is, byeenkomste van meer as 100 mense verbied word, mense nie mag weier om hulself te isoleer of in kwarantyn geplaas te word nie, verbod op buitelandse vlugte van hoërisikolande en regulasies rakende die verkoop van alkohol.

Mense wat die regulasies oortree, mag ʼn boete of tronkstraf opgelê word. Dit geld ook vir mense wat fopnuus oor die virus versprei.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Johan Venter ·

Jan-Jan, daar is klaar in die media berig dat ‘kenners’ verwag nou ‘n ‘kollosale piek’ in mense wat die virus opgedoen het en daarom het die minister van gesondheid, Dr Zweli Mkhize, bevestig die weermag staan gereed om ontplooi te word.

Michael ·

Watter weermag, sa se weermag het minder lede en swakker opleiding as wat coin sekuriteits maatskappy het.

Kokkie ·

Met die ANC in beheer, is Suid-Afrika ‘n rampgebied en heers daar nood-en ramp toestaande.

Anel ·

Waar gaan hulle almal aanhou? In die oorvol tronke? En wie gaan die arestasies doen? Die onbevoegde polisie? En hoe gaan dit in die plakkerskampe toe gepas word, of is dit net van toepassing op blanke gebiede? Soos ek vroeer gesê het, meer mense gaan doodgaan agv ander oorsake as aan die virus. Hou op om histeries te wees. Ons winter het nog nie begin nie. Wat dan? Gaan ons die hele jaar in afsondering lewe? Asseblief! Glo en vertou en wees rustig.

Johan Venter ·

Anel, moenie bekommer nie, die voorsienigheid sal uitkoms bied.

Jaco ·

Gaan leer net by jou pel China liewe Cyril. Daar heers ‘n permanente noodtoestand en die land is SONDER beurtkrag, swak dienslewering, swak staatshospitale, lae standaard onderwys, verlammende stakings. Behalwe vir China se diskriminasie teen Christene, is dit andersins ‘n paradys teenoor wat in SA aangaan.

Scalla ·

Verskil is dieselfde as sirkus, slegs die narre verskil!!!

Johan Venter ·

‘n Ramptoestand is dit wat die ekonomie sedert 1994 ervaar, ‘n noodtoestand is wat ons met die korona virus ervaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.