Hoë waarskuwingsvlak vir tornado’s in VSA uitgereik

Argieffoto (Foto: Unsplash)

’n Seldsame tornadowaarskuwing is Woensdag vir die suide van die VSA uitgereik.

CNN berig die risikovlak vir tornado’s en ernstige storms is volgens die Amerikaanse Stormvoorspellingsentrum tot die hoogste moontlike vlak – 5 uit 5 – verhoog.

Dít is ʼn seldsame risikovlak wat net een of twee keer per jaar uitgereik word.

Die waarskuwing is uitgereik vir dele in die weste van die Amerikaanse deelstaat Arkansas, die noorde van Mississippi en die suide van Tennessee. Sowat 50 miljoen mense kan na verwagting geraak word.

Meer as een ronde van erge storms word Woensdagmiddag in dele van Mississippi tot in Alabama voorspel. Die storms kan moontlik deurnag woed. Inwoners behoort hulle te staal vir stormsterk wind van tot 110 km/h sowel as hael so groot soos tennisballe.

Die nasionale weerdiens in Birmingham, Alabama, waarsku teen “sterk en selfs gewelddadige tornado’s”.  Die goewerneur van Alabama, Kay Ivey, het intussen ’n noodtoestand as voorsorgmaatreël afgekondig.

“Vooruitskattings toon dat dit waarskynlik ʼn wydverspreide gebeurtenis sal wees met van die ergste weer wat Woensdagaand tot vroeg Donderdagoggend verwag word,” het Ivey in ʼn verklaring gesê.

Die Stormvoorspellingsentrum voorspel dat dele van die laer Mississippivallei en Alabama waarskynlik die ergste gaan deurloop.

Meer as 11 miljoen mense in dié streke loop tans ʼn hoër risiko om in die pad te kom van tornado’s wat langer as ʼn paar minute op die grond kan duur, het Michael Guy, meteoroloog van CNN, gesê.

Fox 13 berig die gure weerstoestande word toegeskryf aan ʼn kouefront wat tans deur Texas beweeg. Verskeie tornado’s is die naweek in dié deelstaat aangemeld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.