Hoekom het die ‘ou’ Aardklop gesneuwel?

Argieffoto

Argieffoto

Die lui van die doodsklok vir die Aardklop Nasionale Kunstefees in Februarie verlede jaar het skokgolwe deur die kunstefeesgemeenskap gestuur toe dié fees met onmiddellike effek gestaak is. Die fees kon egter daarin slaag om op ʼn nuwe model voort te leef, maar die vraag bly staan – wát het met dié gewilde Potchefstroomse fees gebeur?

Alexa Strachan, wat verlede jaar vir die eerste keer as feesbestuurder van die Aardklopfees opgetree het, het Woensdag tydens ʼn Fiëstas-paneelgesprek oor juis dié onderwerp in Kaapstad gesê sy en haar span moes behóórlik kastaiings uit die vuur krap ná die direksie op 24 Februarie verlede jaar aangekondig het die fees word met onmiddellike effek gestaak.

Dit is egter ʼn groep “Aardklop-belanghebbendens” wat verseker het dat dié fees voortleef en verlede jaar was feesgangers dit eens: Aardklop “soos in die ou dae” was weer ʼn dawerende sukses.

Maar hóékom het die fees so byna gesneuwel?

Volgens Strachan het baie negatiewe persepsies oor Aardklop oor die afgelope paar jaar ontwikkel. Afgesien van die persepsies, was dit ook die onttrekking van ʼn naamborg wat voormalige direksielede skrik op die lyf gejaag het.

“Die fees was nuttig en moes voortgaan, daarom kon dit nie bloot gestaak word nie. Maar daar was geen begroting nie, ʼn negatiewe persepsie en slegs drie maande om die fees suksesvol te laat gebeur,” sê sy.

Strachan meen die gemeenskap het veral negatief geraak oor geleenthede wat die fees van plaaslike ondernemings ontneem het. “Die gemeenskap het gesê Aardklop was nie meer vir die gemeenskap nie. Ons moes vra dat mense ons hande vat sodat ons die fees weer terug na hulle kon vat. Die persepsie was dat ondernemings van buite die dorp geld gemaak het en die geleenthede van die plaaslike gemeenskappe vervreem is. Ons moes beloof ons sal die fees weer na die mense neem.”

Rhodé  Snyman, die uitvoerende vervaardiger van die KKNK op Oudtshoorn, meen dit is veral belangrik om te onthou ʼn fees besit niks nie. “Toe die naamborg onttrek het, het die direksielede bang geraak en die fees gestaak. ʼn Fees is ʼn balanseertoertjie tussen die belange van ’n klomp belanghebbendes. Die plaaslike gemeenskap is integraal deel van ʼn fees en daarom was die negatiewe persepsie ʼn doodsklok. ʼn Fees moet baie plaaslike insette hê, want dit is hulle fees. Die fees kom uit die gemeenskap vir die gemeenskap. Nou het hulle weer daarin geslaag om dit te bewerkstellig.”

Waarom en hoe het die fees deurgetrek? “Die fees het oorleef as ʼn gevolg van sentiment by rolspelers, vervaardigers, kunstenaars en mense wat die fees al vir 18 jaar ondersteun het. Dit het ook oorleef omdat dit ʼn rol in die kunstegemeenskap en in Noordwes gespeel het. Die fees kan net suksesvol wees en aan die gang gehou word as jy mense met respek en openheid hanteer sodat dit ʼn gesamentlike proses is,” sê Strachan.

Saartjie Botha, hoof van die US Woordfees, meen ook dit is belangrik om te onthou dat alle feeste in nood is. “Om die waarheid te sê, ʼn fees maak nie 10% wins nie want dis ʼn kontant-arm-omgewing. Die motivering is nie oor geld nie, want jy weet jy maak nie geld nie. Die vraag om te vra, is wat is jy bereid om te verloor? Want jy gáán verloor. Het die direksie moontlik net aan geld gedink? Want eintlik moes die fees oor die gemeenskap gegaan het.”

Dit is ook ironies dat die Aardklop-stigting aanvanklik gestig is om die fees te beskerm, maar eindelik verseker het dat die fees sneuwel toe hulle uitmekaarspat, het Karen Meiring, direkteur van kykNET-kanale, later opgemerk.

Hoe verhoed die direksiespan en belanghebbendes dat ʼn fees so amper weer sy einde sien? “ʼn Fees kan in wese nie eintlik deur enige borg ondersteun word nie. Dis die gemeenskap en die mense se fees en daar moet verseker word dat die fees en die gemeenskap mekaar balanseer. Dit is nodig dat ʼn fees iets bly wat die gemeenskap bemagtig en bevorder en dat die persepsies daaroor positief bly. Dít is die plan vorentoe.”

Aardklop sal vanjaar weer op dié unieke model voortgaan – die feesdatum word van 2 tot 8 Oktober in Potchefstroom gehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

18 Kommentare

Reti ·

Wat is jou teorie? Ek dink dat te veel regstelling invloed gehad het.

Gerrie ·

Wil julle regtig weet? Ons weet maar ons mag nie se nie anders is ons weer REGS en RASSISTIES. Wel dit is die gevolge van besluite wat gemaak is om polities korrek te wees. Sien hoe goed het dit nou gewerk. Kan maar net lag, die goeie ou dae is verby, dit is nou Kwaito en ander ‘afrikaanse’ musiek, of bly by die huis .. Mense wil alles afbreek en oorneem, dit kom nou daarvan. Ons sal maar sien of die ‘voortgaan op die unieke manier’ vir julle gaan werk. Good luck.

Pietser ·

Is Steve nog geskors? Hy het mos politieke ‘n speelbal van die fees probeer maak.

Lynette ·

Ek wou ook oor Steve weet….! Jy vat die woorde uit my mond!!!

Speelbal ·

Steve het nie meer Aardklop nodig nie. Hy maak ‘n reuse sukses van AFRIKAANS is GROOT, ‘n fees wat nou besig is om selfs Skouspel en al die ander feeste dood te druk. LANK LEWE AFRIKAANS, lank lewe Steve!!

Lampies Lambrechts ·

Ek vind as Afrikaner geen fout met Steve se sentimente nie. Dit is feitelik korrek en op die man af. Hy huigel nie. Of is jy nie ‘n Afrikaner nie?

E.K. dink ·

1. Die feesterrein is verskuif en toegang was vrekduur. Ek wil nie net om vinnig stalletjies tussen produksies ‘n spul geld toegang betaal nie. Voorheenw as die terrein op die Bult en versprei tussen al die winkels daar en dit het atmosfeer gehad. 2. Het iemand in direksie wou geldmaak uit die storie en dus is sakke gevul terwyl soos bv Saartjie Botha aandui dit gaan nie om geld te maak maar wat die fees bied – dus aan feesgangers en mense van die dorp. Maar dalk wou sekeres net geldmaak en het die visie van waaroor dit gaan verloor.Mens kan maar tussen die reëls hierbo lees.

Basjan ·

E.K. dink, jy raak ‘n belangrike punt aan. Die groot probleem is die gulsige (greedy) mense wat net aan hul eie sakke gedink het. Dit het veroorsaak dat die situasie buite beheer geraak het.

Bekommerd ·

Stem saam met wat E.K dink sê, kan nie dink dat iemand nou al weer die arme Steve die skuld wil gee nie.

Jenny ·

Regstellende aksie. Kyk maar of die AFRIKANERS dit weer gaan bywoon. Alles moet mos afgekraak en afgebreek en GETRANSFORMEER word. Kry vir julle!

Pieta ·

Waarvan praat jy, Jenny??Jy het of nie die berig gelees nie, of jy praat van ‘n totaal ander saak! Tranformasie en AARDKLOP het NIKS met mekaar te doen nie. Die betrokke berig gee ‘n duidelike perspektief van die gevolge van vorige verskuiwing na ‘n ander terrein en onttrekking van die hoofborg. Die plaaslike gemeenskap, kunstenaars landswyd en ander wat weet waaroor AARDKLOP werklik gaan, het die fees saam met die nuwe bestuurspan weer opgetel en alle verwagtinge oortref! Vir jou inligting, AFRIKANERS ondersteun AARDKLOP al die pad, soos verlede jaar se getalle terug by die terrein op die Bult bewys! Daardeur word alle besoekers, ook anderstaliges. op ‘n positiewe wyse aan Afrikaans blootgestel. Was jy verlede jaar by AARDKLOP? Het jy dit al ooit tevore die afgelope 20 jaar bygewoon? Indien nie, kom gerus vanjaar en word verryk met die kleurvolle rykdom van Afrikaans en baie meer! Kom kry vir jou! Lekker slapies…

Danie ·

Hoekom ‘n halwe berig. Het iemand vergeet om klaar te skryf. Daar is nie gesê hoekom het die ou Aardklop gesneuwel het nie. Dit klink vir my soos kringe in die bos.

Scalla ·

Die verskuiwing vanaf die bult na die sportgronde was n groot fout, soos ek verstaan het daar skere lede voordeel daaruit getrek, toegangsfooie was ook uit verhouding gewees. Hoekom torring en verander aan n ding wat gewerk het?

Pieta ·

AARDKLOP klop reeds weer sedert verlede jaar – en hoe! Met of sonder Steve! Die sukses van ‘n kunstefees hang nie net van een kunstenaar af nie…

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.