Hoekom raak vroue verlief op gewelddadige misdadigers?

Marizka Coetzer is as Huisgenoot-verslaggewer geskors hangende ’n ondersoek na haar verhouding met ’n 22-jarige moordverdagte. Foto: Facebook

Die sogenaamde Skierlik-skieter, Johan Nel, het in 2012 met Maryna Naude in die tronk getrou. Ferdi Barnard, wat minstens vier mense vermoor het, het ook met Betsy de Ridder, ʼn sielkundige, in die tronk getrou en Carte Blanche het selfs ʼn dokumentêr oor die troue gemaak.

Selfs die Springs-monster het nuwe liefde gevind voor hy tronkstraf van effektief 35 jaar opgelê is vir sy gruweldade. Nou lyk dit of ʼn verslaggewer wat juis self hieroor berig het, moontlik dieselfde paadjie as dié vroue , wat op mans in die tronk verlief raak, gaan stap.

Maroela Media het Sondag berig Marizka Coetzer, ʼn Huisgenoot-verslaggewer, is geskors hangende ʼn ondersoek na haar verhouding met Le Roux Steyn, ʼn 22-jarige moordenaar in die Krugersdorp-afspraakmoordsaak.

Rapport het berig daar is WhatsApp-boodskappe waaruit dit blyk Steyn en Coetzer is in ʼn verhouding.

Hoe kán sy? En wat het haar besiel? Dis van die vrae wat mense oor dié soort verhoudings vra.

Dié soort liefdesverhoudings met misdadigers is geen uitsondering nie, sê dr. Pixie du Toit, ʼn forensiese kriminoloog en stigter van die Sinoville-krisissentrum in Pretoria en prof. Christiaan Bezuidenhout, kriminoloog verbonde aan die Universiteit van Pretoria.

Hulle albei meen ook daar is verskeie redes waarom vroue in so ʼn verhouding betrokke sal raak.

“Enige vrou vanuit enige vlak van die samelewing kan by so ʼn verhouding betrokke raak.

dr-pixie-du-toit

Dié soort liefdesverhoudings met misdadigers is geen uitsondering nie, sê dr. Pixie du Toit, ʼn forensiese kriminoloog en stigter van die Sinoville-krisissentrum in Pretoria. Foto: Facebook.

“Hulle begin gewoonlik eers vir mekaar te skryf en so ontwikkel die pseudo-vriendskap. Dan begin die vrou die persoon onder gekontroleerde omstandighede besoek en so loop dit uit op ʼn verhouding,” sê Du Toit.

Bezuidenhout sê in sommige uiterste gevalle word die moordenaar ʼn simboliese verlengstuk van die moordgedagtes wat die vrou self koester of sy herhaal bloot ʼn slagofferpatroon omdat sy self in ʼn vorige verhouding seergekry het.

“Die patrone kan veroorsaak word as die vrou as kind deur haar pa mishandel of gemolesteer is of dit kan ʼn eksman wees wat die vrou seergemaak het.”

In die meeste gevalle is die vrou totaal versot op die misdadiger en het sy dade so verromantiseer dat sy glad nie meer die moord of gruweldade kan raaksien nie.

“Van hierdie vroue fantaseer weer oor ʼn soort ‘bad boy’ wat hulle kan red en verander,” sê Bezuidenhout

Beide kriminoloë waarsku egter dat hierdie soort geweldsmisdadigers ook gewoonlik meestermanipuleerders is.

“Hulle sal enige hartseerstorie vertel om hul situasie te verbeter. Vanuit die gevange se oogpunt beteken so verhouding vir hom baie ten opsigte van emosionele waarde en menswaardigheid. Die vroue neem dikwels baie van die gevangene se verantwoordelikhede buite die tronk oor. Verder kan dit kan ook baie vir die gevangene se kanse vir parool beteken as hulle so ʼn verhouding kan onderhou.”

Prof. Christiaan Bezuidenhout, kriminoloog verbonde aan die Universiteit van Pretoria, sê sommige vroue raak bloot betrokke by die misdadigers omdat dit vir hulle ʼn soort pseudo-sterstatus gee. Foto: www.up.ac.za

Volgens Bezuidenhout raak sommige vroue bloot betrokke by die misdadigers omdat dit vir hulle ʼn soort pseudo-sterstatus gee.

“Dit verskaf sensasie en is bloot ʼn lekker avontuur. Hierdie vroue sukkel dikwels met ʼn lae selfbeeld. Sy glo hierdie antiheld het nou vir haar geval en is verlief op haar – dit streel haar ego. As die media boonop daaroor berig, kan sy ook ʼn bietjie in die kollig staan,” sê hy.

Bezuidenhout sê verder, uit sy navorsing het hy bevind dat meer as ʼn derde van vroue in hierdie soort verhoudings met intimiteitsprobleme sukkel.

“Daarom pas die verhouding haar 100%. Die fisieke deel van die verhouding is beslis nie so belangrik soos die emosionele sy daarvan nie en die misdadiger het gewoonlik al die tyd in die wêreld in die tronk om die emosionele deel daarvan uit te brei. Dit is veilig en sy kan die hoeveelheid indirekte kontak beheer.

“Ongelukkig het navorsing ook getoon dat hierdie soort verhoudings binne ses maande ná die gevangene se vrylating verbrokkel,” voeg hy by.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

B ·

Laaste par : ‘Ongelukkig het navorsing..’ ek dink eerder dit moet wees ‘Gelukkig het navorsing…’!!!

bosapie ·

Lol, ek het dieselfde gedink – geluk ( dat dit verby is)by die ongeluk (dat misdadiger vry gelaat is)

Wie weet ·

Wat het gebeur med die afspraak moorde is die saak virby of gaan die hof saak nog aan

Ek weet ·

Die hofsaak is nog aan die gang vir die laaste 3; cecilia steyn, marcel steyn en Zak Valentine.

Boerseun ·

En so person manipuleer duisende ander wat die Huisgenoot nog koop.

VanAfrika ·

Moenie al ons dames onder dieselfde kam skeer net omdat ons n hart het nie. Daar is n groot verskil tussen Oscar en die volgende geharde moordenaar wat boere martel voor hulle vermoor word. Oscar wys berou en ek wat nie eintlik n “fan” van hom was nie kon dit sien toe hy besef wat gebeur het. Die impak van sy daad het hom diep getref. In vergelyking met die tipe moordenaar wat staan en lag na hy gevonnis word vir plaas moorde.

DeNile ·

VanAfrika

“Denial is not just a river in Egypt!”.

Dit is die tronkstraf wat hom diep getref het, nie opregte berou nie. En nee, daar is nie ‘n verskil nie.

Hy het koudbloedig moord gepleeg en daarna daarmee probeer wegkom.

Cherokee ·

Daar was ‘n algemene opinie dat Pistorius se jammerte net vir homself was.

AJ ·

En nou wag ons vir die Huisgenoot Eksklusief: “Verbode Liefde, met Pragfoto’s”

MissDemeanor ·

Inderdaad. Inelkgeval van wanneer af kan mens se werk jou afdank omdat hul nie van jou liefdes-keuses hou nie?

Marius ·

Dit gaan vir haar lekker wees om in ‘n verhouding te wees sonder die verantwoordelikheid want sy weet nie om verantwoordelik te wees.

mc ·

Ek is nie ‘n sielkundige nie, maar ek verskil. Sulke vrouens sien hulleself as ‘n redder, dat hulle die persoon sal kan verander. Dis gewoonlik die tipe vrou wat al die af vlerk voeltjies vergader om haar.

Joe Hall ·

Foeitog ja,
die “reddende” vroue waarvan jy praat, het duidelik reeds altwee hul eie vlerke en wat nog als verloor.

Snowball ·

Goeie artikel. In ‘n mens se agterkop is daar defnitief ‘n vraag of enige vrou by sulke mans betrokke kan raak, maar die tipe vrouens wat wel sulke verhoudings aanknoop voldoen aan ‘n sekere profiel en hulle het inderdaad dieper motivering vir hulle gedrag, soos uitgelig deur die kenners in die artikel.

Alida ·

Los haar uit. Sy kan verlief raak op wie sy wil. Sal later haar foutjie agterkom hopenlik vroegtydig voor daar iets vreesliks gebeur.

humor ·

mc ek stem ek dink die kenners is bewus daarvan maar het dit nie genoem nie. Hier in Namibie het ons onlangs n soortgelyke probleem ondervind. Ongekukkig het dit vir haar te laat geword en sy is grusaam vermoor. Vir ons almal n baie hartseer saak. Ons innige meegevoel. MM het ook daaroor berig.

Manie ·

Waylon Jennings sing Ladies love outlaws like babies love stray dogs, ladies touch babies like a banker touches gold, outlaws touch ladies somewhere deep down in their souls.
Lyk my hy het iets beet daar

Jade ·

Hmmm, ‘n baie eensydige artikel. As iemand wat jare met DV geleef dink ek dit is goed om die volgende te verduidelik die mans en vroue is of ‘n “Psychopath”, “Sociapath” en Narsissisties. Die tipe persoon is n meester om ‘n slagoffer mentaliteit te gebruik om hul volgende slagoffer in te trek. Hulle het ook “chameleon syndrome” maw pas presies aan volgense die persoon se verwagtinge bv. as die persoon kerk toe gaan doen hulle dit, as die persoon hou van sekere kos hulle ook tot hulle die persoon gevang het en dan verander dit.

Die tipe persoon kan slegs verduidelik word deur iemand wat dit geleef het. Want die vrouens/mans is as kind baie keer mishandel en die tipe persoon vang juis die slagoffer omdat hulle ‘n ander tipe “abuse” gebruik as waaraan die persoon gewoond is en so vang hulle weer die persoon.

Ook 'n slagoffer ·

Die persoon waarmee ek ‘n verhouding gehad het, het al sy onsekerhede op my afgemaak en gemaak asof ek die een was met die foute, maar eintlik was dit sy narsistiese, meestermanupileerder en maak asof hy die slagoffer was se manier om my altyd skuldig te laat voel en ook gevoel het of ek die een is wat die probleme gehad het. Ek moes dinge ophou doen waarvan ek gehou het (maar hy kon nogsteeds drink en wat als, uitgaan ens.),want volgens hom het ek nie genoeg aandag gegee aan hom nie en het hy homself altyd jammer gekry en EK was die slagoffer nie hy nie. My kinders was ook ‘n probleem omdat enige kind soms nie luister nie en ook stout is. Dank die Heer ek is vandag verlos van hom.

Ook 'n slagoffer ·

Jammer ek het nie genoem dat hy dwelms gebruik het en ook in Noupoort opgeneem was vir 3 jaar om van hom ‘n ordentelike mens te maak, maar dit het niks gehelp nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.