Hoenderbedryf: ‘Ons vra nie gunste, net regverdige behandeling’


hoenders

Foto: Zdenet/Pixabay.com

Plaaslike hoenderprodusente is oortuig die bedryf kan minstens nog 20 000 werksgeleenthede skep waar dit die meeste benodig word – vir ongeskoolde werksoekers in die platteland – mits die bedryf teen die storting van buitelandse invoer van bevrore hoenderprodukte beskerm word.

Die teenpool is dat indien die bedryf sou vou, meer as 133 000 mense hul werk kan verloor. Die hoenderbedryf is die grootste subsektor in Suid-Afrikaanse landbou met ʼn brutowaarde van R31,5 miljard per jaar.

Die inkrimping van die hoenderbedryf sal ook ʼn negatiewe impak op die plaaslike verbruik van mielieboere se produksie hê aangesien mielies 60% van hoenderprodusente se uitgawes is en die hoenderbedryf die grootste verbruiker van geelmielies en die tweede grootste verbruiker van witmielies is. As die bedryf verklein is dit dus nie net werksverliese in die hoender- en pluimveebedryf wat geraak word nie. Die implikasie vir die landbou is veel wyer en verskeie randbedryfsrigtings sal ook hierdeur geraak word.

Die hoenderbedryf is die afgelope twee weke weer in die kollig nadat die vere Donderdag behoorlik gewaai het tydens ʼn parlementêre debat tussen hoenderinvoerders en vervaardigers waarin albei partye mekaar geblameer het vir die krisis in die bedryf.

Adj.pres. Cyril Ramaphosa het op 15 Maart ná vrae oor die krisis in die hoenderbedryf in die nasionale raad vir provinsies gesê die regering sal nie toelaat dat die storting van oorsese hoenderprodukte in die plaaslike mark veroorsaak dat nóg mense hulle werk in die hoenderbedryf verloor en hoenderplase gesluit word nie.

Ramaphosa het gesê twee taakspanne is op die been gebring om die situasie in die hoenderbedryf te ondersoek. Planne om die insetkoste in die bedryf te verlaag en ʼn finansiële reddingsboei is van die voorstelle waarna gekyk sal word in ʼn poging op die plaaslike bedryf van ondergang te red.

Chris Schutte van Astral Foods en Marthinus Stander van Country Bird Holdings (CBH) het aan Maroela Media gesê die krisis wat die bedryf tans in die gesig staar het nie oornag ontstaan nie. Schutte en Stander voer aan dat Suid-Afrika nie ʼn gekoördineerde landboubeleid het wat met ʼn internasionale handelsbeleid in pas is nie.

Schutte en Stander meen die handelsooreenkoms is veronderstel om Suid-Afrika en Europa onbeperkte vryehandel na mekaar se markte te gee, maar dit is tans nie ʼn tweerigtingstraat nie. “Europa sit met ʼn strukturele probleem, hulle kan nie al die porsies in hulle mark verkoop kry nie en stort dit dan hier, maar Suid-Afrika kan nie ʼn enkele hoender in Europa verkoop nie. Europa gebruik tegniese maatreëls om dit te verhoed en sal byvoorbeeld sê ons volstruise het voëlgriep daarom kan hulle nie ons hoenders koop nie, terwyl dit nie eers dieselfde biologiese siekte is wat kommersiële hoenders bedreig nie. Verder sê die lande dan eenvoudig hulle sal besluit wanneer hulle ons vleis gesond en veilig verklaar kan word en daag net nooit op om dit te doen nie,” het Stander gesê.

‘n Skermskoot uit ‘n e-Nuus video oor die krisis in die plaaslike hoenderbedryf.

“Europa kan hoendervleis teen R30 per kg produseer terwyl dit ons in Suid-Afrika sowat R27 per kg kos. Die probleem is egter die lande word gesubsidieer en boonop verhaal hulle die totale produksiekoste en maak ʼn reusewins uit die verkope van die witvleis, die hoenderborsies, wat teen soveel as R180 per kg in Europa verkoop word. Dit beteken die res van die hoender kan vir ʼn appel en ʼn ei in Suid-Afrika verkoop word.”

Stander sê ʼn heel hoender word in Suid-Afrika vir R35 per kg verkoop terwyl die oorsese afvalstukke vir so min as tussen R12 en R16 ingevoer word. “Hoenderprodukte kom goedkoop in die land in, maar dit skep iewers elders in die wêreld werk en vernietig ʼn plaaslike pos. Boonop word daar kostes en marges bygevoeg en op die ou einde moet die verbruiker daarvoor betaal.”

Nog ʼn kommerwekkende stelling wat die produsente maak is dat daar dikwels nie ʼn beduidende prysverskil tussen die plaaslike produkte en ingevoerde produkte is wat in winkels verkoop word nie. Die Suid-Afrikaanse verbruiker se beursie baat dus nie by die goedkoper produkte wat ingevoer word nie.

Stander het verder gesê dit is ook ʼn slegte idee om goedkoop proteïen aan ʼn land se mense te verskaf op die basis van ʼn ander land se storting van die produk. “Enigiets kan gebeur en dan is daardie proteïen nie meer beskikbaar nie. Onthou in Suid-Afrika is hoender ons goedkoopste proteïen en ʼn soort stapelvoedsel terwyl dit in Europa as ʼn gesondheidsproduk gesien word.”

Volgens Stander het onafhanklike navorsing wat in 2014 deur die Wageningen Universiteit in Nederland gedoen is, bevind Suid-Afrika is die vyfde sterkste hoendervervaardiger uit 16 lande naas Brasilië, Argentinië, die VSA en die Oekraïne. Boonop het dieselfde navorsing getoon dat Suid-Afrika se bedryf een van die tegnies effektiefste bedrywe ter wêreld is.

“Ons vra nie vir ʼn spesiale guns of om beskerm te word omdat ons oneffektief of nie-kompeterend is nie. Ons vra doodeenvoudig dat hierdie handelsooreenkoms van albei kante regverdig moet wees. As Europa toegelaat word om hulle hoender hier te stort moet Suid-Afrika se hoenderbedryf toegelaat word om ʼn gedeelte van ons hoender in hulle mark te verkoop. Dit is ʼn feit, elke land beskerm sy hoenderbedryf want dit is ʼn groot werkverskaffer en dit het verskeie parallelle ondernemings wat hand aan hand loop, maar ons is een van die lande met die minste beskerming in terme van die bedryf,” het Schutte gesê.

Stander en Schutte sê verder dat die voorgestelde 13,9% invoerheffings op bevrore hoender belaglik is. “Ek vermoed die EU sit en lag vir ons want dit is gelyk aan 17 (euro-)sent en sal absoluut geen impak maak op die hoeveelheid hoender wat uitgevoer word nie. Ons het ʼn meer indringende ingryping nodig maar ʼn invoerheffing van 36% kan ʼn korttermynoplossing wees om die bedryf van ondergang te red. In die langertermyn moet daar die een of ander vorm van heronderhandeling wees om te verseker dat Suid-Afrika ons eie voedselsekuriteit in die toekoms kan handhaaf,” het Schutte gesê.

Stander meen die publiek kan baie doen om die plaaslike hoenderbedryf te ondersteun. “Ek dink ʼn bewustheid van wat besig is om te gebeur help reeds baie. Suid-Afrikaanse verbruikers kan gerus wees dat ons ʼn mededingende bedryf is, wat ʼn klomp goeie goed vir Suid-Afrika doen en net vir regverdige behandeling vra. As ons die prentjie omdraai kan ons werk skep, voedselsekuriteit verskaf en landelike ontwikkeling aanhelp.”

  • Maroela Media het met Chris Schutte van Astral Foods en Marthinus Stander van Country Bird, albei lid van die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (Sapa), gesels oor die wanpersepsies rondom die bedryf. Schutte en Stander het ook verduidelik wat gedoen kan word om die bedryf te red. Luister na die volledige onderhoud bo-aan hierdie berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Alida ·

JZ verkondig gedurig dat werk geskep moet word. Genade hy moet ingryp as hy verstand het en ons plaaslike hoenderbedryf ten alle koste beskerm en die mense hul werk behou. Hy moet ook die steenkool lorries op die pad hou en vergeet van kernkrag. Maar nou-ja st 3? Eish ons kan nie dink nie kekkel net.

John ·

Jammer, maar hierdie hoenderboere voer ons ongesonde kos. Gm-mielies lewer gm-hoenders. Nie? En nou moet die verbruikers dit eet sodat die boere al die pad bank toe kan lag… sjoe… en duisende der duisende werksgeleenthede… Ons het die’ storie ook al gehoor.

Paul ·

Ek weet nie waar my ander kommentaar heen is nie, maar die kern daarvan is dat hierdie “artikel” verskriklik eensydig is.

Manie ·

Die hoenderbedryf in ons land is onekonomies en byt die verbruiker uit met hulle sop stories van werk verlies. Hulle kan nie kompeteer met die ander lande. In my bedryf is ek ook onder druk deur buite faktore. Sal die regering ook my kom help???

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.