Hoenderbedryf: Partye gaan oop kaarte speel oor invoertariewe

Foto: pixabay

Die Vereniging van Vleisinvoerders en -uitvoerders (Amie) en die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (Sapa) het ooreengekom om die sluier te lig oor sogenaamd vertroulike dokumente waarop Sapa se aansoek vir hoër invoertariewe op hoenderprodukte gegrond is.

Amie het Woensdag in ʼn verklaring gesê die besluit voorkom ʼn uitgerekte regstryd tussen die partye. Amie het vroeër aangevoer die publiek se reg op inligting – oor ʼn tariefbepaling wat ʼn uitwerking op die bekostigbaarheid van ʼn belangrike voedselbron kan hê – moet in ag geneem word.

Die vereniging het in hofstukke gevra vir groter deursigtigheid van Sapa se aansoek vir tariefbeskerming by die kommissie vir internasionale handelsadministrasie.

Amie het hom in April tot die hooggeregshof in Johannesburg gewend om inligting te kry oor vertroulike dokumente van Sapa. Die saak is egter tot Oktober uitgestel, maar die twee partye het intussen besluit om te skik.

Sapa vra dat die regering die invoertarief op bevrore hoenderporsies aan die been laat styg van 37% na 82% en die invoertarief vir bevrore ontbeende hoenderporsies van 12% na 82%.

“Ons vra vir deursigtigheid oor die kwessie. Sapa het geweier om vir ons toegang te gee tot die inligting wat ons nodig het om te bepaal of sy versoek vir tariefbeskerming geldig is. In die weiering haal hy inligting aan wat ‘vertroulik vir die handel’ is,” het Paul Matthew, uitvoerende hoof van Amie, gesê.

“Ons handhaaf die stelling dat die inligting beskikbaar gestel moet word, omdat enorme tariefverhogings soos dié in die openbare belang is.”

Matthew het gesê as die versoek op grond van ongetoetste inligting goedgekeur word, kan hoendervleis onbekostigbaar word vir ʼn groot gedeelte van die 60% van Suid-Afrikaners wat dit as stapelvoedsel beskou. Vir Amie-lede wat hoendervleis invoer, voorspel die styging swaar tye. Dit kan ook lei tot groot werksverliese in die bedryf.

“Wat ons oproep vir deursigtigheid staaf, is die feit dat plaaslike braaihoenderprodusente, sedert ʼn insakking in 2016, hulle winsgewendheid verhóóg het. In 2018 het die plaaslike bedryf rekordwinste getoon,” het Matthew gesê.

“Dit is onverstaanbaar dat ʼn bedryf wat groot bedrae geld in nuwe kapasiteit belê wanneer rekordwinste gemaak word, kan aanvoer dat hy bedreig word deur invoere wat nodig is omdat die land nie genoeg hoender kan produseer om aan die vraag daarna te voldoen nie.

“Ons word gevra om ʼn moontlike styging te steun wat op sigwaarde verreikende gevolge vir die land kan hê. Dit is onaanvaarbaar vir Amie. Ons is bereid om ons pleidooi vir groter deursigtigheid in die pluimveebedryf tot in die hoogste hof te voer, sou dit nodig wees.

“Die belange van ons lede en van álle Suid-Afrikaners vereis dat inligting getoets word voordat ingrypende besluite geneem word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Boerboel ·

Dis eenvoudig beskerm ons eie boere en laat meer met hoenders Boer. Dan is dit nie nodig om hoenders in te voer nie.

fred ·

hoekom kan ons nie kompeteer nie?
waarom het die bedryf beskerming nodig,dit versterk net die monopolies van die paar groot lokale produsente….en die verbruiker gaan weer meer betaal ,en inflasie styg en als word weer duurder….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.