Hoenderprys: ‘Geen groot stygings weens invoertariewe’

Sakpas_Hoender_Appelkoos.jpg

(Foto: pixabay)

Die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (SAPV) sê die aanname dat die hoër invoertariewe vir hoendervleis tot groot prysstygings gaan lei, is nie die geval nie. Die Staatskoerant het verlede week genoem dat dié tariewe omtrent verdubbel.

Terwyl Suid-Afrikaners die afgelope week geskarrel het om te midde van die nuwe koronavirus alles van toiletpapier tot skoonmaakmiddels en pasta op te gaar, is daar nou ook vrese dat die prys van hoendervleis die hoogte kan inskiet.

Volgens die afkondiging in die Staatskoerant het die invoertarief vir hoender aan die been verhoog van 37% tot 62% en vir ontbeende hoenderstukke is die tarief verhoog van 12% tot 42%.

Die SAPV sê die tariewe geld vir spesifieke lande wat hoender na Suid-Afrika invoer – grootliks Brasilië – maar dat dit nie noodwendig tot ʼn verhoging in die prys van kleinhandelporsies van hoender gaan lei nie; selfs nie eens op die hoender wat ingevoer word nie.

Verlede jaar het 61% van alle hoenderinvoere wat in SA geland het, uit Brasilië gekom – ʼn groter volume as dié van selfs die grootste Suid-Afrikaanse produsent.

Die SAPV sê egter invoerlande, Brasilië ingesluit, het in die verlede hul pryse verminder om hoër invoertariewe teen te werk. Die vereniging sê ook die tariefverhogings behoort te help om die invoerkoste van hoender uit Brasilië meer in ooreenstemming met die prys van plaaslike geproduseerde hoender te bring.

Izaak Breitenbach, algemene bestuurder van die braaihoenderorganisasie van die SAPV, sê ook luidens ʼn studie van die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) het die tariewe vantevore ook gehelp om onbillike handelspraktyke, wat storting insluit, te help stuit.

“Die nuwe tariewe raak glad nie plaaslik geproduseerde hoender nie. Sowat 30% van hoender wat plaaslik verbruik word, is ingevoer en die tariewe raak net 30% van dié invoere,” het Breitenbach gesê.

Danksy die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) se vryhandelsooreenkoms met die Europese Unie (EU) geld die tariewe ook nie vir invoere daarvandaan nie. Die EU is ʼn groot produsent en invoerder na Suid-Afrika.

Suid-Afrika het verlede jaar 184 669 ton gevriesde hoender aan die been ingevoer. Dit beslaan grootliks hoenderkwarte, dye en boude – van die hoenderstukke wat volgens die SAPV die grootste skade aan die plaaslike hoenderbedryf aangerig het.

“Sowat 42% daarvan was afkomstig uit EU-lande – so bykans die helfte van die invoere word nie geraak nie. Die EU verhoog ook stadigaan sy markaandeel ten koste van Brasilië.”

Die SAPV het teruggekap oor die bewerings dat die tariewe tot groot prysstygings gaan lei en sê vooruitskattings wat daaroor gedoen is, is ongegrond. Die vereniging ontken ook dat dit tot “beduiende werksverliese” gaan lei of dat dit die ekonomie skade gaan berokken.

Suid-Afrika het verlede jaar ʼn meesterplan vir die pluimveebedryf aanvaar. Die staat, hoenderbedryf, arbeid en invoerders is deel van dié plan.

Dit gee onder meer riglyne oor hoe die plaaslike bedryf se kapasiteit verhoog gaan word, asook hoe om te verseker dat plaaslik geproduseerde produkte mettertyd ʼn groter gedeelte van die mark kan uitmaak.

Die tariefvasstellings spruit uit onderhandelings wat ingevolge die meesterplan gedoen is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.