Hoëprofiel-bendesaak: Twee gevonnis

Mogamad Faiz Hendricks.

Die moordbeskuldigde en vermeende bendeleier van die Clever Kids (CK), Mogamad Faiz Hendricks (50), is lewenslange tronkstraf opgelê vir die moord op Angelo Davids (35).

Moegamat Naeim Benjamin (41), Hendricks se medebeskuldigde en lid van die Dixie Boys-bende, is 20 jaar tronkstraf opgelê.

Regter Thandazwa Ndita het onder ʼn hoë polisieteenwoordigheid in die Wes-Kaapse hooggeregshof uitspraak gelewer in die saak oor die moord op Davids, ʼn vermeende Hard Livings-bendelid.

Maroela Media het vroeër berig dat die staatsaanklaer, adv. Greg Wolmarans, tydens sy vonnisvertoë lewenslange straf vir die vermeende bendeleier, Hendricks, versoek het.

Die moordsaak is twee jaar ná die moord gepleeg is, begin toe ʼn inwoner van Manenberg en aktivis teen bendeverwante aktiwiteite, Roegshanda Pascoe, na vore getree het om as staatsgetuie op te tree. Sy was ʼn ooggetuie van die moord wat helder oordag in die openbaar plaasgevind het. Pascoe en haar familie is in ʼn plek van veiligheid geplaas nadat haar lewe verskeie kere bedreig is.

“Die vonnis wat die hof oplê, moet die streng veroordeling van geweld, veral met verwysing na bendegeweld, weerspieël,” het regter Ndita tydens die uitspraak gesê. Sy het die vrees en verdrukking wat die beskuldigdes in die gemeenskap van Manenberg gesaai het sterk gekritiseer. Sy het gesê albei beskuldigdes heg geen waarde aan lewe nie en het die moord op Davids as afgryslik beskryf.

Davids is op 20 Julie 2016 deur nagenoeg ses vermeende bendelede in Pecosweg in Manenberg aangeval en doodgeslaan ten aanskoue van die publiek. Die hof het geen duidelike motief vir die moord op Davids gevind nie, behalwe dat hy as lid van die HL-bendegroep gerieflik naby was ten tyde die opsweep onder die Clever Kids-bendegroep. Die staat het tydens die vonnisvertoë volgehou dat die moord uit weerwraak gepleeg is ná daar glo vroeër op Hendricks geskiet is.

Die hof het bevind daar is geen dwingende omstandighede om van die minimum voorgeskrewe vonnis van lewenslank by Hendricks af te wyk nie en dus is hy tot 25 jaar tronkstraf gevonnis. Hendricks is al vantevore skuldig bevind aan moord, poging tot moord, die besit van onwettige vuurwapens en ammunisie, brandstigting en aanranding. Hy was ten tyde van die moord op Davids op parool ná hy 14 jaar van sy 27 jaar lange tronkstrafvonnis uitgedien het. Regter Ndita sê Hendricks toon geen berou vir sy dade nie.

ʼn Emosionele Izah Smith (28), die dogter van Hendricks, het ná die hofuitspraak aan Maroela Media gesê dat sy steeds glo haar pa was nie op die moordtoneel nie en dat hy onskuldig is.

Die hof het verder bevind dat Benjamin as deelnemer eerder as primêre aanhitser tydens die moord opgetree het. Daar is besluit om van die minimum voorgeskrewe vonnis af te wyk waarna hy 20 jaar tronkstraf opgelê is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae