Hoër Landbouskool Oakdale verloor nog ʼn leerder

Stian van Greunen. Foto: Facebook

ʼn Gr. 10-leerder aan die Hoër Landbouskool Oakdale in Riversdal in die Suid-Kaap het sy stryd teen kanker verloor.

Stian van Greunen is die tweede leerling wat die skool in minder as ʼn week aan die dood afgestaan het.

Storm Smorenburg (18) het verlede Donderdag ʼn ernstige kopbeserings opgedoen tydens ʼn voorval by die skool en hy is die volgende dag in ʼn hospitaal in Mosselbaai dood.

Volgens André Latsky, skoolhoof, is Stian met die aanvang van die tweede kwartaal met kanker gediagnoseer. “Hy het sedertdien behandeling in Pretoria ontvang. Dit was van die begin af ʼn moeilike, maar moedige stryd en Stian en sy ouers was deurgaans positief.”

Stian se kanker het na sy brein versprei en hy is die afgelope twee weke in die intensiewe sorgeenheid van ʼn hospitaal behandel. “Stian het regtig ʼn moeilike drie weke beleef. Hiermee betoon ons graag ons innige meegevoel en meelewing met Stian se ouers en familie met hierdie groot verlies.”

Latsky het gesê berading word beskikbaar gestel.

Storm Smorenburg

Die skool sal intussen vandag van Storm afskeid neem. ʼn Roudiens word op die De Eikeveld aangebied. ʼn Houer sal ook voor die pawiljoen geplaas word waarin kaartjies en boodskappe voor en ná afloop van die roudiens geplaas kan word. Die skool sal vandag om 13:15 ná afloop van die roudiens sluit.

Latsky het gesê Storm sal onthou word vir sy omgee vir ander en sy bereidwilligheid om ander van hulp te wees.

“Storm sal onthou word as ʼn redder van lewens en het hierdie status vervolmaak toe hy deur orgaanskenking die lewenslig van ander weer nuwe betekenis gegee het. Storm was bowenal ook ʼn kind van God en lid van Agapé waar hy sy Christenskap sigbaar kon uitleef.”

Maroela Media het vroeër berig Storm het op sy “longboard” (ʼn langer soort skaatsplank) gery en aan die agterkant van ʼn bakkie vasgehou toe hy geval het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

14 Kommentare

jongste oudste gewildste
sons

My innige simpatie met die familie.

Lou

Innige simpatie en baie sterkte vir die ouers en vriende

Ursula

Aai so jonk , baie sterkte aan die Ouers , Familie en vriende.
Rus sag seun

Johanna

Sterkte aan Stian se ouers. Dis so hartseer. Hy is so jonk. Sterkte aan Storm se ouers wat vandag finaal afskeid neem van hulle seun. RIP Stian RIP Storm.

Nella

My hart gaan uit aan elke ouer, kind, personeel wat geraak is deur hierdie hartseer tyd. Twee besonderse kinders wat van ons af weggeneem is. Vir my as ouer van die skool is dit baie hartseer, kan nie indink hoe die ouers , personeel en kinders moet voel nie. Baie sterkte aan elkeen van julle!