Hoër onderwys: Private instellings ál belangriker in SA

irma-eloff-aros-2017-10-17

Prof. Irma Eloff van UP het gesê private hoëronderwysinstellings met ‘n sterk klem op gehalte, waardesisteem en ’n duidelike missie en visie is goed geplaas om die groeiende vraag na hoër onderwys aan te pak. Foto: Elzette le Roux/Twitter.

Die aanbieding van hoër onderwys het wêreldwyd ontplof en die vraag in die toekoms gaan handel oor die gehalte van die opleiding wat by dié soort instellings gebied word.

Prof. Alwyn Louw, akademiese president van Monash Suid-Afrika, het gesê die dae waar iemand gou ʼn private hoëronderwysinstelling begin om ʼn vinnige geldjie te maak is beslis verby. Hy het ook genoem dit sal vir dié soort instellings ál belangriker word om die invloed van hulle onderrig te bepaal. “In stede daarvan dat instellings spog oor hoeveel studente gegradueer het, moet die instellings weet wat van hulle studente geword het nadat hulle hul studie voltooi het.”

Louw was een van die sprekers tydens ʼn konferensie wat Aros, ʼn private hoëronderwysinstelling wat onderwysers oplei, Dinsdag in Pretoria aangebied het.

Die uitdagings en ervarings van dié soort instellings in Suid-Afrika is tydens die konferensie bespreek. Prof. Irma Eloff, van die fakulteit opvoedkunde aan die Universiteit van Pretoria, en Niclaas Roets, uitvoerende hoof van Aros, het ook tydens die geleentheid insette gelewer.

“Gehalte is nie ʼn eenmansport nie, dit is ʼn deurlopende spanpoging. Instellings sal hulself ook gereeld moet evalueer en nie net wag vir ʼn vierjaarlikse oudit voordat dit gedoen word nie. Dit is uiters noodsaaklik dat hierdie instellings moet weet hoe om dit wat hulle doen, goed te doen,” het Louw bygevoeg.

Eloff het gesê private hoëronderwysinstellings soos Aros is goed geplaas om die groeiende vraag na hoër onderwys van gehalte aan te pak. “Instellings soos hierdie se sterk klem op gehalte, en hulle waardesisteem met ʼn duidelike missie en visie, sal ál meer studente, ouers en dosente trek.”

Sy was verlede jaar by ʼn konferensie in Europa waar dit vir haar opmerklik was dat van die beste navorsers in die lande toenemend die skuif van openbare universiteite na private instellings maak. “Op my vraag oor hoekom hulle dit doen, het hulle telkens gesê dit is omdat hulle die geleentheid het om hulle studente by private instellings te leer ken. Hulle het ook genoem dat politiek van die kleiner kampusse weggehou word en dat daar ʼn groter fokus op onderrig en leer is,” het Eloff gesê.

Sy het ook gesê daar heers tans ʼn tydgees waarin die waarde van moedertaalonderrig nie hoog aangeslaan word nie, al is daar reeds talle navorsing wat die belangrikheid daarvan bevestig. “Ek dink egter instellings en dosente moet dit te midde hiervan hulle persoonlike missie maak om aan moedertaalonderrig van gehalte op universiteitsvlak te bly werk, al moet dit dan ook vir eers stil in die agtergrond gebeur.”

Volgens Roets sal daar teen 2026 meer as ʼn miljoen studente aan private hoëronderwysinstellings studeer. “Die soeke na gehalte-onderrig is vir ons by Aros baie belangrik, daarom het ons instelling onlangs vyf christelike private hoëronderwysinstellings in Kanada en die VSA gaan besoek om onder meer bande te bou en te bepaal hoe lyk die universiteit van die toekoms.

“Die besoek aan Trinity Western University, King’s University, Dordt College, Covenant College en Geneva College het ons by Aros gehelp met planne en idees vir die toekomstige uitbouing van ons instelling, wat sal verseker Aros ontwikkel nie net die verstand van student nie, maar raak ook die hart en siel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Eish ·

Twee aspekte staan uit in prof. Eloff se toespraak betreffende privaatonderwys, naamlik dat dosente dan studente kan leer ken en tweedens dat politiek word weggehou van die akademie.
Sou dit kleiner getalle wees wat dosente in staat stel om studente beter te leer ken en dan uit die aard van die saak die onderrig bevoordeel?
Politiek is daar geen illusies oor nie. Die vernietigende uitwerking daarvan op die akademie is reeds bewys.

JC ·

Wonderlik, wonderlik, wonderlik!
“Springbokboud volgestop met spek smaak voorste bos toe!”

Sekondere skole ook ·

Dit is tyd dat skole ook moet besef dat hul gehalte bepaal moet word nie deur die antal onderskeidings nie maar ook die gehalte van die onderskeidings – is dit net in maklike vakke of op laer grade? n Onderskeiding in n moeilike vak op hoger graad moet baie meer tel as n onderskeiding in n maklike vak op standaard of laer graad. Ontwikkel indekse om skole te beoordeel wat so waardes aan onderskeidings per capita toeken.

JC ·

Ek stem saam met jou.
Voorwaarts Afrikaans en Afrikaanse onderwys!(en alles wat daarmee saamgaan, of daarmee verband nou)

John ·

Afrikaans kan ongelukkig ook nie ‘n wapen word waarmee glo verontregtes telken voor in die ry wil indruk om opleiding te kry nie… beurse en poste… en die private-instellings word maar weer ‘n SA in die kleine met die Afrikaners wat weer eens ten duurste aan die sukkel-speen suig.

Sê net ·

Dit gaan nie oor Afrikaans nie, dit gaan oor kwaliteit onderwys en kwaliteit instansies waar studente werklik aandag kry en massas nie net deurgedruk word vir geld soos publieke instellings nie. Daar is baie goeie engelse privaat instansies ook. Dit gaan oor publiek va privaat en kwaliteit teenoor kwantiteit.

Sê net ·

Dit gaan oor privaat vs publieke instellings. Kwaliteit vs kwantiteit. Daar is baie goeie engelse privaat instansies ook en gaan nie net oor Afrikaans nie. Publieke instansies prop klasse vol om geld te kry en kwaliteit lei daaronder. Hierdie is baie positief en sien dit asb so!

Trots ·

Ek is so trots om ‘n graduant van Aros te wees, dit is werklik so dat jy nie net ‘n nommer is nie maar dat dosente jou sien as ‘n individu wat opgelei moet word om die kind in totaliteit te ontwikkel op geestelike, fisiese en kognitiewe vlak. Dankie Aros, julle het van my ‘n onderwyser gemaak met ‘n passie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.