Hoër onderwys sál vanjaar voortgaan – minister

(Foto: pixabay)

Die departement van hoër onderwys, wetenskap en tegnologie is vasbeslote om die 2020-akademiese jaar enduit te sien.

Buti Manamela, adjunk-minister van dié departement, het die portefeuljekomitee vir hoër onderwys Dinsdag toegespreek oor hoe sy departement beplan om die 2020-akademiese jaar suksesvol af te handel. Dit nadat universiteite en kolleges reeds ʼn maand lank gesluit is weens die tydperk van algehele afsondering wat sedert 26 Maart geld.

Die minister het verskeie scenario’s aan die komitee voorgelê, insluitend die gebruik van aanlyn en afstandsonderrig vanaf 4 Mei vir universiteite en TVET-kolleges. “Hierdie fase sal dan later aangevul word met kontakonderrig sodra studente toegelaat word om terug te keer na hul onderskeie kampusse,” sê Manamela.

Argieffoto van die Universiteit van Johannesburg

Laasgenoemde hang egter af van die verspreiding van Covid-19 in Suid-Afrika, wat volgens die departement van gesondheid eers in Julie of September ʼn hoogtepunt kan bereik.

Maroela Media het Maandag berig dat sommige universiteite, soos die Universiteit van Johannesburg, reeds klasse aanlyn hervat het en verskeie planne beraam het om te verseker alle studente het toegang tot dié inhoud.

Planne om onderrig vir studente aan TVET-kolleges moontlik te maak sluit in die uitsaai van inhoud deur die Ketha-radioprogram. Die eksamen wat in die laaste trimester sou plaasvind kan ook uitgestel word na 2021 en voorafopgeneemde lesse kan op kolleges se webtuistes gelaai word.

Die komitee het die voorstelle verwelkom, maar sy kommer uitgespreek oor dié studente wat nie toegang het tot digitale toestelle en internetverbindings nie.

Die komitee het die departement aangemoedig om te verseker dat niemand in die proses agtergelaat word nie. “Die sukses van hierdie planne sal afhang of studente toegang tot tablette, skootrekenaars en die internet het,” het Philly Mapulane, ʼn komiteelid, gesê.

Studente dien hul aansoeke vir finansiering vir die 2020-studiejaar in. (Foto: NSFAS, Facebook)

Belinda Bozzoli, die DA se skaduminister van hoër onderwys, het die departement se benadering tot aanlyn leer verwelkom, asook die besluit om instellings van onderwys toe te laat om onderrig te hervat, al is dit net gedeeltelik. “Die land kan nie bekostig dat ʼn hele groep studente nie vanjaar slaag nie. Dit sal net tot oorbevolking van kampusse in 2021 lei,” het sy gesê.

Sy het wel ʼn beroep op die departement gedoen om so gou moontlik ʼn datum te verskaf waarop dié planne geïmplementeer sal word, asook meer besonderhede te verskaf oor hoe studente wat nié toegang het tot aanlyn geriewe nie, bygestaan sal word.

Die nasionale studente hulpfondsskema (NSFAS) het intussen aangedui dat finansiering van studente voorgaan ten spyte van die tydperk van algehele afsondering.

“Teen Vrydag 17 April het NSFAS meer as R7,2 miljard se klas- en sakgeld aan universiteite en kwalifiserende studente uitbetaal. Maandag het ons begin om April se sakgeld uit te betaal,” sê die skema in ʼn persverklaring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Genis

Weet julle Data in die land is duur..My dogter studeer by Akademia, om n les te “stream” van n uur is maklik ver oor n GIG data… dis net verregaande…