Hoër rentekoers gaan jou geld begin vreet

(Foto: Maroela Media)

Die verhoging in die rentekoers, die derde opeenvolgende verhoging sedert November verlede jaar, gaan tesame met verwagte toekomstige verhogings in die rentekoers al hoe meer begin om verbruikersbesteding en besteebare inkomste weg te kalwe.

Die monetêre beleidskomitee van die Reserwebank het die repokoers Donderdag met 25 basispunte tot 4,25% verhoog. Dit is ʼn kumulatiewe styging in die koste om geld te leen van 75 basispunte sedert November.

Prof. Raymond Parsons, verbonde aan die Noordwes-Universiteit se Sakeskool, sê gegewe die algehele opweging van die ekonomiese risiko’s wat Suid-Afrika tans in die gesig staar, was die besluit die regte een.

Hoewel ekonome die styging verwag het, was die komiteelede se stemme daaroor nietemin verdeel. Twee van die vyf lede het ten gunste van ʼn verhoging van 50 basispunte gestem, terwyl niemand ten gunste van geen styging was nie.

Carmen Nel, ʼn ekonoom en makrostrateeg by Matrix-fondsbestuurders, sê dit dui daarop dat ʼn verhoging van 50 basispunte nou ʼn “besliste moontlikheid” is.

Parsons sê die verskillende stemme weerspieël die breër kommer dat huidige verskaffingskokke gaan beteken pryse gaan ʼn momentum van hul eie kry en dat daar nou ʼn gepaste reaksie in monetêre beleid moet wees.

Die komitee se besluit erken ook dat die konflik tussen Rusland en Oekraïne ʼn beduidende nuwe element van onsekerheid by monetêre beleid en ekonomiese vooruitsigte gevoeg het – veral wat energie- en voedselpryse betref, sê Parsons.

“Heelwat sal egter afhang van die duur van die verskaffingskokke en hoe lank die konflik aanhou. Brandstof- en voedselkoste gaan na verwagting deur die loop van die jaar beduidend toeneem.”

Nel stem saam dat die hoër kos- en brandstofpryse verbruikers se sakke gaan begin ruk.

Die toekomstige debat gaan volgens haar egter nie wees oor of die Reserwebank die rentekoers in die toekoms gaan verhoog nie, maar eerder oor of daar genoeg rede gaan wees om dit met 50 basispunte, pleks van 25 basispunte, op te stoot. Die rand gaan ʼn deurslaggewende rol hierin speel, sê sy.

Parsons sê die monetêre beleidskomitee se hersiene en beter groeivooruitsigte vir vanjaar is “aan die optimistiese kant” en daar is nog geen uitsluitsel oor of die verbeterde groeiverwagting enigsins ʼn werklikheid gaan word nie.

“Indien toekomstige verhogings in die rentekoers te aggressief is, gaan die gevaar van stagflasie toeneem. ʼn Moeilike balans moet gehandhaaf word. In die toekoms gaan kerninflasie en salarisgroei die sleutelaanwysers wees wat die komitee waarskynlik sal dophou om oor die tempo van verdere rentekoersverhogings te besluit,” sê hy.

Matthew Axelrod, ʼn buitelandse valutabestuurder by DG Capital Forex, sê die rand het goed op die aankondiging gereageer.

Axelrod sê die komitee klink of hy ʼn valkbenadering volg en het verwys na inflasie wat die boonste vlak van die teikenband bereik. Hoewel BBP-groei vir 2022 opwaarts aangepas is tot 2%, is die vooruitskatting vir volgende jaar en 2024 tot 1,9% vir albei jare aangepas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

SjN ·

Die rentekoers moes lankal al gestyg het, dit word gemanupileer deur die brandstofprys.

SwartBees ·

Ek weet en verstaan die rentekoers styging maar wanneer kry ons as verbruiker bietjie verligting? Alles gaan op en ons moet net opdok.

Twallie ·

Ja nee…my verband het met R900 gespring. Vanoggend geflirt met ‘n hartaanval toe ek die SMS kry.

Carina ·

Dankie, nou styg alles net nog verder, huis, kar, besigheidslenings, alles. Hoe moet ‘n besigheid staande bly as jou uitgawes net meer en meer raak, jou inkomste al hoe minder, en jou kliënte dink allerhande verskonings uit om jou nie te betaal nie. Ons hang al klaar aan ‘n genade draadjie, so hang ons nou maar heeltemal.

Chris ·

Die tweede fase van die “Great Reset” is in volle gang!! Die eerste een sal afgesluit word met digitalisering – met behulp van die “mandates”,die koppeling van die UBI, die digitale Rand (waarmee die SARB besig is) en die “gesondheids-pas QR Code” sal almal van hul burgerlike vryhede gestroop word – selfs die idiote wat meegewerk het om dit in te bring sal vasgevang word in die gevolge van hul eie handelinge.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.