‘Hoërskole slegs 49% doeltreffend’ – studie

(Argieffoto ter illustrasie: ANA)

Hoërskole in Suid-Afrika is slegs 49% doeltreffend en neem gemiddeld 10 jaar om een matrikulant te lewer.

Dít is van die vernaamste bevindinge van ʼn nuwe verslag deur onderwysekonome van die navorsingsgroep oor sosio-ekonomiese beleid (RESEP) by die Universiteit Stellenbosch (US).

Die verslag kyk onder meer na leerderprestasie in die land se skolestelsel en is deur prof. Servaas van der Berg, dr. Chris van Wyk, Rebecca Selkirk en dr. Heleen Hofmeyr opgestel.

Luidens die verslag blyk die herhaling van grade van die grootste hindernisse in dié stelsel te wees – ʼn knelpunt wat die onderwysstelsel miljarde rand uit die sak jaag.

“Ons het gevind dat ons hoërskole slegs 49% doeltreffend is, gemeet aan hoeveel jare van inskrywings dit kos om elke matrikulant te lewer. Tien leerder-jare op hoërskool is nodig vir elke suksesvolle matrikulant.

“Dit is omdat sommige wat matrikuleer dit slegs regkry nadat hulle een of meer keer op hoërskool gedruip het, maar meer nog omdat baie leerders jare op hoërskool deurbring sonder om ooit by matriek uit te kom,” sê Van der Berg.

Hy meen dit is ʼn onrusbarende teken van vermorsing en mislukking deur die skolestelsel, maar sê dat dit terselfdertyd ʼn aanduiding is van hoe daar te werk gegaan moet word om doeltreffendheid en onderwysuitkomste te verbeter.

Die verslag toon dat die herhaling van grade in al die skoolfases baie algemeen is, maar veral beduidend is op sekondêre skoolvlak.

Van Rensburg sê grafieke van skoolgetalle toon duidelike heuwels in gr. 4 en 10, wat aanduidend van herhaling is.

“Aangesien hierdie grade die begin van onderskeidelik die intermediêre en die verdere onderwys en opleidingfase (VOO) op skool inlui, skryf die verslag hierdie heuwels aan die nasionale repetisiebeleid toe.

“Volgens hierdie beleid mag ʼn leerder nie meer as een maal in enige driejaar-fase herhaal nie. Enige leerder wat reeds ʼn slag in die vorige fase gedruip het, staan dus ʼn goeie kans om weer aan die begin van die volgende fase teruggehou te word.”

Van der Berg sê die grootste knelpunt lê in die VOO-fase, gr. 10 tot 12.

“Dit lyk asof leerders ʼn jaar of meer in gr. 10 ‘vashaak’ en daarna val baie van hulle uit. Net sommiges vorder tot matriek.”

Luidens die navorsing sal die meeste leerders minstens een keer in hul skoolloopbaan ’n jaar herhaal, en een uit elke drie sal meer as een keer druip.

“Dit lyk vir ons as ekonome na grootskaalse ondoeltreffende staatsbesteding. Tesame met baie druipelinge is hoë uitvalkoerse ook ʼn groot bron van ondoeltreffendheid in die skoolstelsel.

“In ʼn arbeidsmark met so ʼn groot tekort aan vaardighede is dit ʼn vermorsing wanneer kinders skool vroeg verlaat.”

Volgens Van der Berg is een van die groot probleme met herhaling dat baie leerders te oud vir hul graad is. Hy sê die meeste van hierdie leerders doen nooit die kennis en vaardighede op wat nodig is om van jaar tot jaar deur die stelsel te vorder nie.

Dit is voorts bevind dat herhaling baie meer algemeen in arm skole is.

“In die sogenaamde geen-skoolfonds-skole (kwintiele 1 tot 3) was 60% tot 65% van graad 10‑leerders in 2019 te oud vir hul graad. In die meer welvarende skole (kwintiel 5) is dit baie minder, hoewel tog hoog, met tot 30% wat te oud vir hul graad is.

Dit, sê Van der Berg, bring groot koste vir die onderwysstelsel mee.

“Ons het tevore geraam dat die koste R20 miljard tot R29 miljard kan beloop. Om die waarheid te sê, die meeste leerlinge in gr. 10, 11 en 12 is te oud vir hul graad. Een uit vyf van hierdie leerders is drie jaar of meer te oud vir hul graad.

“Dus, as herhaling in graad 10 byvoorbeeld halveer sou word, sou die stelsel omtrent R2 miljard per jaar kon bespaar.”

Volgens Van der Berg is dié verslag die mees omvattende een nog oor hierdie onderwerp, en toon dit hoe tydige en akkurate administratiewe data kan help om toekomstige tendense en die vloei van leerders te voorspel.

“Daarom kan dié soort ontledings op vele vlakke as inligting vir beleidmakers en vir die praktyk dien en sodoende help om vermorsing te verminder.”

In ʼn vroeëre studie het Van Wyk, een van die medeskrywers van dié verslag, tydreeksdata van leerlingkohorte gebruik om te wys dat geteikende ingryping in die Wes-Kaap herhaling verminder en onderwysuitkomste verbeter het, wat die totale doeltreffendheid van die skolestelsel verhoog.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

13 Kommentare

jongste oudste gewildste
jou gewete

Nog n anc mislukking. eerste departement wat dan sy deel van belasting moet verloor, duidelik geen prestasie nie

Buck

Ek weet nie, beide my dogters het hul skoolloopbaan in die minimum tyd voltooi en matriek met n hele paar A’s geslaag. Ek dink dit hang van die leerder af

Kleinboet

Watter hoërskole? In watter deel van die land? Hoe groot was die steekproefmonster?
Lekker ou wollerige (en moontlike “skewe”) persepsie wat hier geskep word!

En wat sê ander ordentlike universiteite hieroor (ek vertrou min “verslae/bevindinge/uitsprake” van die University of Stellenbosch (met opset in “Engels”) deesdae).

Tiptol

Natuurlik is dit net sekere skole waar leerders druip (hulle haak nie vas nie). En net sekere skole waar onnies werk.

Nie Verbaas

Weereens die gevolg van ANC beleid met hulle BEE. Daar is talle van die trawante wat posisies beklee wat hulle geen idee van het nie.