Hoërskool Brits ondersoek vuisgeveg

‘n Skermskoot van die video.

Die gemeenskap van Brits in Noordwes is geskok oor beeldmateriaal op sosiale media wat wys hoe ʼn leerder van Hoërskool Brits ʼn medeleerder met die vuis bydam.

Inwoners van Brits het die beeldmateriaal op ʼn private Facebook-groep gedeel en terselfdertyd hul misnoeë en skok oor die voorval uitgespreek.

Die beeldmateriaal, wat Maroela Media onder oë gehad het, wys hoe ʼn groep leerders om twee skoolseuns saamdrom wat skynbaar in ʼn vuisgeveg betrokke is.

Die 30 sekonde lange video wys hoe een van die leerders die ander een teen die grond vaspen en slaan. Dit terwyl ander leerders klaarblyklik die geveg aanmoedig.

Kort nadat die vuisgeveg opgehou het nader ander leerders die seun wat in daardie stadium steeds op die grond lê, en kyk of hy by sy volle bewussyn is. Deurentyd kan die gelag van sommige leerders gehoor word.

Dit is onduidelik wanneer die voorval plaasgevind het, maar die beeldmateriaal is intussen van alle sosiale media platforms verwyder.

‘n Skermskoot van die video.

Hoërskool Brits se beheerliggaam het by navraag gesê die skool dra kennis van die beeldmateriaal en betreur die voorval.

“Die skool keur die gewelddadige optrede in die video ten sterkste af,” sê ds. Dirk Enslin, voorsitter van die beheerliggaam.

Volgens Enslin word die beseerde leerder, met sy ouers se goedkeuring, in ʼn mediese hoedanigheid deur die skool bygestaan.

ʼn Interne ondersoek is ook reeds na die voorval geloods, waarna verdere dissiplinêre optrede sal volg.

“Ons versoek die publiek, vriendelik dog dringend, om geen verdere kommentaar oor die voorval op sosiale media te versprei nie, ten einde die skool die geleentheid te bied om die nodige ondersoek af te handel.”

Enslin het bygevoeg dat die skool ook iemand sal kry om al die leerders toe te spreek oor geweld en wat die gevolge van hul gewelddadige optrede vir beide leerders en ouers inhou.

“Die skool keur geweld van welke aard ten sterkste af, insluitend geslagsgeweld, diskriminasie op grond van ras, geloof en geslag, asook intimidasie oftewel boelie-gedrag,” sê hy.

“Wees verseker dat Hoërskool Brits ten alle tye die beste belang van hul leerders op die hart dra.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Eugene ·

Ek stem. Skole keur geweld af, maar stel eers mooi ondersoek in rakende die geveg, voordat julle vinger wys.

Nicholaas ·

Heeltemal reg want die slaner was dalk geboelie en kon nie meer uithou of hy is n boelie so n deeglik ondersoek gaan baie belangrik wees.

Fritz ·

Ek keur dit nie goed nie, maar in die verlede voor selfone het seuns gereeld mekaar aangetree sonder enige nagevolge!

VaalDonkie ·

Vir elke ouer daar buite: moenie val vir hierdie “interne ondersoeke en disiplinere stappe” bog nie. Die skool gaan dit net ignoreer en hoop niemand vra weer vrae daaroor nie. Veral as jou kind nie so populer soos die aanvaller is nie.

As jou kind aangerand word, gaan maak ‘n klag by die polisie. Kla sommer die skool ook aan as hulle jou probeer keer om so te maak. En kry ‘n prokureur. Hulle MOET leer dat daar gevolge is.

Republikein in die Wes Kaap ·

Lyk meer na aanranding. Indien die kind op die grond ernstig beseer is gaan die aanrander hof toe, en sy ouers se bankrekening gaan gemelk word. Die skool kan ook gereed maak vir eise.

Elmarie ·

In my skooldae was daar onnies wat speelgrond diens gedoen het in pouses en sulke goed het nie sommer gebeur nie. Nie só gewelddadig soos hier nie!

Prikkie ·

Ja, toe het die onnies buite loop en rook en die leerders wat ook gerook het is gevoeter, “want dit is nie goed vir jou nie”

Gert ·

Indien elke vuisgeveg in my dae die nuus moes haal het die daaglikse koerant soos die ou tellefoon boek of geelbladsye gelyk.

Suzette ·

Dit laat my dink aan Trompie. Lyk so normaal soos in my skooldae. Hoop maar die outjie het nie te seer gekry nie.

Mnr De Beer ·

Tyd het verander Mr Gert. Skool is daar vir kinders om te leer en aan sport deel te neem. As kinders mekaar regtig wil aanvat. Reel n sport geleentheid saam die skool en ouers as n mens dan so ver wil gaan. Andersins is dit eenvoudig boelie gedrag wat plaasvind of aanranding.

Elize ·

Kry ‘n lewe! Wat draai almal seuns in watte toe. Almal is nie Harry nie!! More eet hulle weer roomys saam. gelukkig is dit nie ‘n rasse aanval nie.

Hennie Biebouw ·

In die dae voor selfoon kameras en die jeug se obsessie met “viral videos”, het botterbulletjies mekaar agter die fietsrakke uitsorteer, en géén haan het daarna gekraai nie…

Maar heelaas, dood het altyd ‘n oorsaak…mens moet maar na beide kante van dié storie kyk…

Intussen is dit tjoepstil oor die absolute skokkende voorval by Hoër Tegniese Skool Nic Diederichs in Krugersdorp, waar ‘n seun ‘n meisie met die vuis bydam….

Pietie ·

In ons dae het seuns mekaar oor geslaan met vuiste. Konflik is deel van skoolgaan. Al verskil is deesdae hardloop almal FB toe met als.

Elma ·

Lang jare terug toe ek op skool was, was daar min of meer elke pouse n vuisgeveg. Dis net nie met n selfoon afgeneem nie. Seuns het in n sirkel gestaan en “fight fight fight” geskree. Lank lank gelede.

Suzette ·

Ek het 3 seuns en as dat een van hulle was wat onder gelê het, sal ek as ouer eers uitvind wat die storie agter die storie is, voordat ek sal optree. Soms is dit ‘n boelie wat pakslae nodig het en dan sal hul sommer weer les opsê by die huis. Ek is nie ten gunste van so bakleiery nie, en my seuns was ook nog nooit in vuisgevegte nie, maar glo my, hul is boeties en hul kan ook maar goed gaos maak en die ander een die skuldige maak.

Papsak ·

Ja ek stem stel eers goed en mooi ondersoek in hoekom dit gebeur het voor julle monde uit spoel hulle is uit tartend teenoor ons kids hoekom moet ons net altyd stil bly en aanvaar kom se my toe bly uit ons skole uit dan gebeur sulke goed nie

Pieter J ·

Duidelik is die slaner groter en sterker as die outjie op die grond en is hy dus maar net ń boelie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.