Hoërskool Fochville bly Afrikaans

Argieffoto

Argieffoto

Die burgerregte-organisasie AfriForum het ʼn skikking tussen die Gautengse onderwysdepartement en Hoërskool Fochville wat behels dat enkelmedium Afrikaanse onderrig by dié skool kan voortgaan, verwelkom.

Volgens AfriForum is dit ’n oorwinning vir die belange van leerders se reg tot moedertaalonderrig in die land. Die skool en ouerbeheerliggaam is in hulle regstryd deur AfriForum en die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse skole (FEDSAS) bygestaan.

Volgens Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, is die skikking wat deur die hof tot ’n bevel gemaak is, hopelik die laaste hoofstuk van ’n stryd wat in 2012 begin het. Destyds het die Gautengse onderwysdepartement Hoërskool Fochville gedwing om leerders te akkommodeer wat onderrig in Engels verlang, hoewel ander opsies vir onderrig in Engels by ander skole in die omgewing vir die leerders beskikbaar was.

Dit was vir die skool feitlik onmoontlik om die leerders te akkommodeer weens ’n gebrek aan spasie en fasiliteite vir die kinders.

“Die onderwysdepartement het nie geskroom om die kinders as pionne te misbruik in hulle ideologiese stryd teen Afrikaans nie. Daarteenoor het almal betrokke by Hoërskool Fochville uitsonderlike werk gedoen om te verseker dat die kinders op geen wyse benadeel word nie – hulle verdien lof hiervoor,” het Bailey bygevoeg.

AfriForum beskou die insident as net nog ’n voorbeeld van die miskenning van leerders se reg tot moedertaalonderrig en pogings om ’n eentalige Engelse onderrigstelsel op die land af te dwing.

’n Soortgelyke voorbeeld is dié van Laerskool Vela Langa in Upington, wat in Februarie vanjaar deur die menseregteorganisasie Section 27 bygestaan is in ’n suksesvolle regstryd teen die eensydige verandering van die skool se onderrigtaal na slegs Engels.

“Dit is kommerwekend dat die staat aanhou om belastingbetalers se geld wat vir onderrig geoormerk is, aan te wend vir herhaalde onsuksesvolle regsaksies teen gemeenskappe se wense vir onderrig in hulle eie tale,” het Bailey gesê.

“Die departement moet kennis neem van leerders se reg tot en belange by moedertaalonderrig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Freda Parkin ·

Hulle is nie in staat om gehalte skole op te rig nie en daarom sal hulle aanhou om ons skole te roof net soos hulle ons universiteite een na die ander verengels as hulle nie tee gestaan word nie..Dankie vir julle vas. Beradenheid om om te oorwin

Abrie Botha ·

Ek is die skoolhoof van ‘n Afrikaans-medium skool en word jaarliks lastig geval deur die amptenare van GDO om my beheerliggaam te spreek. Hulle (GDO) wil die skool engels maak. Ek beleef dit as teistering, maar ons staan almal by die punt soos nou bewys in die Fochville saak. Mooi so Fedsas en Afriforum.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.