Hoërskool gesluit weens vrese oor oproer op Middelburg

Betogings in die Middelburg-gebied het Sondagaand voortgeduur. (Foto: Verskaf)

Die Hoërskool Middelburg op Middelburg in Mpumalanga was Maandag gesluit nadat betogers gedreig het om vanoggend hul protes by die munisipale kantoor voort te sit.

Inwoners is ontstoke oor ʼn onlangse verhoging in heffings en belasting wat die Steve Tshwete-munisipaliteit in werking gestel het. Dit hou nie verband met die sogenaamde shutdown-betogings nie.

Tientalle mense is reeds in hegtenis geneem in verband met betogings wat sedert Woensdag in die omgewing plaasvind.

Johan Stronkhorst, hoof van die Hoërskool Middelburg, sê die skool is langs die plaaslike owerheid geleë en ʼn besluit is geneem om die skool as voorsorgmaatreël te sluit.

Volgens Stronkhorst is groot getalle polisiebeamptes in die gebied sigbaar.

Sommige koshuisleerlinge wat Sondagaand na die skoolkoshuis wou terugkeer, moes omdraai nadat ingange na die dorp versper is. Stronkhorst sê leerders wat reeds by die koshuis is, is veilig.

Die skool sal na verwagting Dinsdag weer sy deure heropen.

Die situasie by die munisipale kantoor was ʼn kort ruk gelede nog rustig. Berigte van voortgesette betogings by Mhluzi is wel ontvang.

Verlede week het betogers die N11 versper, bande gebrand en voertuie met klippe bestook, terwyl daar luidens berigte ook gedreig is om die Mhluzi-polisiestasie af te brand. Vragmotors in die gebied is ook aan die brand gesteek weens inwoners se ontevredenheid met die hoër tariewe.

In ʼn brief wat onder inwoners van die gebied versprei word en glo gestuur is deur die Middelburg Whistle Blowers Consortium, word sekere raadslede van korrupsie beskuldig. Luidens die brief is daar groot ontevredenheid met die munisipaliteit se toekenning van tenders en die beweerde verkoop van erwe vir behuising. Inwoners wat geregistreer het om in aanmerking vir laekostebehuising te kom, wag glo ook al jare lank daarvoor.

Maroela Media het ʼn navraag aan die polisie gerig en wag op terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Ovelia ·

Asb vat alle betogers in hegtenis. Wens hul stop di begogings in ons land

Mariana ·

As daar kompetisie moet wees oor watter land die meeste en geweldadigste betogings het, sal SA loshande wen. Hier betoog hulle oor als en verniel al in hulle pad. En snaaks dat hulle niks oorkom nie, ja soms word hulle in hegtenis geneem en weer net so vrygelaat Betoog is een van SA se groot probleme. Dan sal dieselfde lot wat so betoog net met die volgende verkiesing weer vir die ANC stem en weer die leë beloftes glo en kort na die verkiesing dan begin die betogings van voor af. Wanneer leer hulle iets? Wanneer kom hulle agter dat hul betoog net mooi niks beteken nie, want die vir wie hulle gestem het, stel mie in hulle probleme belang nie, net in hul eie belange. Dom…..

Eugene ·

Hoe op deeske aarde werk mense se verstand as hulle n vragmotor aan die brand steek om munisipale tariewe te verlaag?

Karen ·

Totaal en al onaanvaarbaar. Kinders moet nou die gevolge van dit dra!

Cecilia ·

Ja nou rig hul skade aan wat wie voir gaan betaal?
Ons d belastingbetalers se tariwe klim jaarliks. Ons hou ons bekke en betaal net. Maar hul wil mos als verniet he!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.