Hoërskool Overvaal: ‘Afrikaans word geboelie’, klagte by polisie ingedien

Twee mense is Woensdagoggend beseer en tien is in hegtenis geneem buite Hoërskool Overvaal in Vereeniging. Foto: Twitter via @Jonisayi

Die VF Plus het Woensdag gesê dit is duidelik dat Panyaza Lesufi, die LUR van onderwys in Gauteng, Afrikaans misbruik as ʼn rookskerm om sy departement se eie onbevoegdheid te verbloem en sodoende rassekonflik veroorsaak.

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, het gesê Lesufi se tirade teen Afrikaans, asook die konstitusionele hof se uitspraak teen Afrikaans rakende die Universiteit van die Vrystaat, bewys dat Afrikaans geboelie word. Die VF Plus meen dit het tyd geword dat Afrikaanssprekendes hul stem dik maak en begin terugslaan.

Hy het gesê die VF Plus het daarom Dinsdag ʼn strafregtelike klag ingedien teen Criselda Makhubela, die onderwysdepartement se streekdirekteur vir Sedibeng-Oos, na aanleiding van die onlangse hofuitspraak in die Hoërskool Overvaal-saak.

“Die klagte is dwarsboming van die gereg, intimidasie en aanhitsing om meineed te pleeg deurdat Makhubela luidens die hofuitspraak die skoolhoofde van die Engelse hoërskole Phoenix en Jan Smuts geïntimideer het om hul beëdigde verklarings te verander deur te sê die skole het nie plek vir ekstra leerders nie terwyl hulle aanvanklik gesê het daar is plek,” het Groenewald gesê.

“Die ANC en EFF se ontwrigtende en skoorsoekende optrede Woensdag by die Hoërskool Overvaal in Vereeniging is onaanvaarbaar. Die VF Plus wil dit duidelik stel dat elke ouer en individu die grondwetlike reg het om hulself en hul kinders te beskerm.”

Groenewald het gesê die EFF en die ANC wil van kinders politieke kanonvoer maak en misbruik om verlore aansien te probeer herwin.

“Die VF Plus is sterk gekant daarteen dat kinders as speelbal vir politieke doeleindes gebruik word. Kinders moet beskerm word om in ʼn vreedsame omgewing hul skoolonderrig te ontvang. Die EFF en die ANC ondermyn die opvoeding van leerders met hul uitlokkende gedrag en stel ʼn swak voorbeeld oor hoe geskille opgelos moet word.”

Hy het afgesluit deur te sê: “Ek doen ʼn beroep op ouers om hul regte met waardigheid te beskerm, maar om nie die reg in eie hande te neem en die slagoffers van kwaadwillige uitlokking te word nie.”

Maroela Media het vroeër berig ʼn betoging buite Hoërskool Overvaal het Woensdag gewelddadig geraak, dermate dat polisiebeamptes skokgranate en rubberkoeëls moet afvuur om die skare uiteen te jaag. Die betoging hou verband met ʼn hooggeregshofuitspraak vroeër die week toe die hof beslis het dat die Gautengse departement van onderwys nie Hoërskool Overvaal kan dwing om die 55 Engelssprekende leerders by die skool in te neem nie.

Die skool het aangevoer hy het nie plek vir nog leerders of die nodige hulpbronne om Engelssprekende leerders te onderrig nie. Lesufi het kort nadat die uitspraak gelewer is, gesê die departement sal teen die hofuitspraak appelleer.

Tien mense is tydens die betoging in hegtenis geneem en twee betogers is beseer.

Lesufi het later Woensdag tydens ʼn nuuskonferensie gesê die 55 Engelssprekende leerders wat by Hoërskool Overvaal in Vereeniging weggewys is, is by Riverside High School, net 15 km daarvandaan, toegelaat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

frederik ·

Lesufi moet gestraf word vir wat hy aanspreeklik voor is.
Hoop hy beland in die hof hieroor.
Ook weer die mentaliteitloosheid wat sterk na vore kom.

bgj van der westhuizen ·

wel daar is nie raad vir dom mense nie en nog n bewys dat hulle dit nie kan hanteer dat afrikaanse skool beter doen as die wonderlike engelse skool nie

Willie ·

Ek verneem daar is duisende wat nie kan skool toe kan gaan nie… Nou boelie hulle Afrikaans as rook skerm… Die ANC moet ophou belasting geld verdoesel en skole bou….

Marius ·

Dis regtig moeilik om nie op n lelike manier te wil reageer op wat daar gebeur nie. Ek stem 100% saam dat afrikaners moet begin om hul stemme dik te maak en terug te slaan soos in die berig vermeld. Waneer gaan iemand vir die EFF ordentlik aanvat en n behoorlike les leer. Nie uit n ras oogpunt nie maar uit n gedra jou soos n mens en kry asb n lewe oogpunt.
Dis n skande dat hulle van alles n ras kwessie maak en net bloot daarmee wegkom keer op keer

piper ·

die VF plus dien n klag in. waar is die DA. ek weet nou hoe om volgende jaar te stem.

Stem ·

Ek stem 100% saam. VF lyk my doen dinge en praat nie net nie… Here’s looking at you Afriforum. VF julle het nou net n stem by gekry vir die volgende verkiesing

Jordaan ·

En asb ook klagtes teen die klomp wat gesing het “Afrikaners must die”

James ·

Stuur n klomp afrikaans sprekendes na General smuts en dring daarop aan om daar onderrig te word in afrikaans… “Presies die selfde geval”

Johan ·

Ons kan dankbaar wees vir organisasies soos die VFF+, Afriforum en Solidariteit. Sonder hulle was ons seker al vlugtelinge.

SjN ·

Puik gestel Dr Groenewald, dit is hoekom ons eens pragtige landjie rommelstatus kry.

christa ·

lank lewe Afrikaans. Ons land is weg ge”ja” maar ek sal nie my taal prysgee nie. Ek sal in my taal bedien word al kom die hele bestuur van ‘n besigheid om my te bedien. Waar is die reg om in jou taal bedien te word???? Nou moet almal hulle knie buig voor mense wat wil maak breek soos hulle wil.

Hendrik ·

Ek stem met al die kommetaar. Terwyl die betoging in die “suburbs” voel ek dat daar basies wette oortree is in ‘n gemeenskap waar orde en standaarde is. As daardie brand aan die brandgesteek is moet dit dadelik geblus gewees het deur die polisie wat ‘n brandblusser in die voertuig gehad het. Daar is ook genoeg polisiemanne om te sien dat die betogers ‘n band aan die brand gaan steek en hoekom het hulle dit nie verhoed nie. Alles word lak gehandteer en sulke optredes moet nie geduld word nie!

nell ·

As ek Amerika toe trek en aandring om in Afrikaans onderrig te word, gaan hulle vir my LAG.

Christo ·

Trots op julle oor die aksie wat julle neem Dr Groenewald.

Casper Labuschagne ·

Ek het sopas ‘n halfuur spandeer om verskeie mediaberigte oor Overvaal aanlyn te lees. Enigeen wat slegs na die opskrifte kyk sal die noodwendige gevolgtrekking maak dat Afrikaanse skole rassisties is en vir al die probleme in ons swak onderwysstelsel verantwoordelik is. En in baie gevalle sal daardie indruk voortduur selfs nadat die meegaande berig gelees is. Iewers verloor Afrikaans hierdie oorlog van propaganda.

Dinarie ·

#Criselda and Lusifi must both fall is die enigste tesultsat wat hieruit moet volg.

Nie nakoming van jou mandaat behoort behoorlik gestrsf word. Hulle het salaris intvang terwyl hulle nie hul pligte nsgekom grt nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.