Hoërskool Overvaal: Woedende ouers dreig

Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng, Maandag in die hof (15 Januarie 2018). Foto: ANA

Die ouers van die leerders wat Maandag in Noord-Gautengse hooggeregshof toelating tot Hoërskool Overvaal in Vereeniging geweier is, het ná die hofuitspraak woedend gereageer en onderneem om die skool se akademiese bedrywighede Woensdag tot stilstand te dwing.

Dit kom nadat die hof Maandag in die skool se guns beslis het deur die Gautengse departement van onderwys se opdrag dat 55 Engelssprekende leerders by Hoërskool Overvaal toegelaat moet word ter syde te stel. Die skool het hom tot die hof gewend nadat die departement opdrag gegee het dat dié 55 leerders toegelaat moet word ten spyte daarvan dat die skool aangevoer het daar is nie plek vir nog leerders nie en dat die skool nie die nodige hulpbronne het om Engelssprekende leerders te akkommodeer nie.

Regter Bill Prinsloo het in sy uitspraak gesê as die departement moeite gedoen het, sou hulle besef het dat daar meer as genoeg plek by ander naburige skole is wat die 55 leerders kan akkommodeer.

Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng, het na afloop van die hofverrigtinge gesê sy departement sal teen die hof se uitspraak appelleer. “Laat die konstitusionele hof rassisme wettig verklaar. Laat die konstitusionele hof sê julle is verkeerd om te versoek dat ons kinders saam leer, sing en dans. Ons vra vir niks hier nie. Ons sê laat ons kinders saam sing, dans en studeer. As dit onwettig is, dan moet iemand kom en vir ons sê hoekom,” het Lesufi gesê.

Die woedende ouers van die leerders wat by die skool weggewys is, het in die hof geskree hulle sal die skool toemaak wanneer dit Woensdag vir die jaar heropen. “Weg met rassisme, geen skool Woensdag! Weg met rassisme. Ons is moeg vir die agenda van wit mense!” het hulle in die hof geskree.

Lesufi het aan die ontstelde ouers gesê dit is nie nodig om gewelddadig te raak nie en het hulle verseker dat daar ʼn dag sal kom wat hulle kinders by dié skool sal skoolgaan.

“Ek weet ons is almal emosioneel seergemaak. Ek weet hierdie is ʼn harde terugslag vir ons transformasie-agenda. Dit is ʼn harde terugslag vir ons stryd om ʼn nie-rassige samelewing. Maar soos ek gesê het, ons soek nie wraak nie, ons soek gelykheid. Ek pleit by julle, kom ons doen nie iets wat ons stryd vir ʼn beter samelewing sal ondermyn nie,” het Lesufi gesê onder luide toejuiging van die ouers.

“Ons gaan hou by die voorskrifte van die wet [en] ons gaan hierdie ding heropen. Die skoolbeheerliggaam kom einde Maart tot ʼn einde en hulle het 90 dae om hul nuwe beleid aan ons voor te lê. So dit was maar ʼn kort oorwinning vir diegene wat dink hulle het hier iets reggekry. Die stryd om nierassigheid kan nie deur enigiemand gekeer word nie.”

Werner Human, een van die skool se regsverteenwoordigers, het gesê die skool is geensins rassisties nie, maar die departement het nie die korrekte prosedures gevolg nie.

“Soos in die regter se uitspraak gesien kan word, het die skool ernstige pogings aangewend om te bewys die skool het nie die kapasiteit [om nog leerders in te neem nie]. Daar is bewese tekortkominge aan die departement se kant,” het hy gesê.

Hy het gesê die skool bevorder nie rassisme nie. “Dit is nie wat die skool wil hê nie, dit is wat die skool glo die beste vir die gemeenskap is en vir die leerders wat daarna uitsien om na die skool te kom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Anoniem ·

Groepies moeilikheid makers wat deur onderduimse partye aangehits en voorgesê word! Tsk tsk

Doodgewoon ·

Geagte mnr L.Wat onderwysers wat hul poste in 2017 verloor het?Een van my gekleurde kollegad het haar pos verloor.Die skool moes haar in kennis stel…nie die Dept. nie.Het u die moeite gedoen om te verduidelik?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.