Hoërskoolseun sterf, talle ander beseer ná gru-botsing

Hernus Nieuwoudt. Foto: Facebook

ʼn Gr. 10-leerder aan die Hoërskool Klerksdorp is oorlede en talle ander kinders beseer nadat hulle Vrydagaand in ʼn grusame botsing in dié Noordwes-dorp betrokke was.

Hernus Nieuwoudt, sy tweelingsussie, Helouise, en sy jonger sussie, Rilanka (12), was almal saam met drie ander kinders in die voertuig toe die ongeluk gebeur het. Klerksdorp News berig ʼn vragmotor het teen die voertuig gebots en hulle moes met meganiese toerusting uit die wrak gesny word. Volgens die nuusberig is die kinders na die Wilmed Park- en Life Anncron-hospitaal gehaas.

Hernus se pa, Pieter, het vroeg Maandagoggend op sy Facebook-profiel ʼn foto van Hernus gedeel met die woorde “Rus in vrede”. Huldeblyke vir Hernus het op sosiale media ingestroom met talle mense wat hul skok en hartseer oor sy dood uitgespreek het.

Lt.kol. Amanda Funani, woordvoerder van die polisie, het bevestig dat ʼn seun in die ongeluk gesterf het. “Die polisie het aanvanklik ʼn saak van roekelose en nalatige bestuur ondersoek, maar aangesien iemand gesterf het, sal die saak nou na strafbare manslag verander word,” het sy gesê.

Die skoolhoof van die Hoërskool Klerksdorp wou nie Maandag aan Maroela Media kommentaar lewer nie.

Intussen is een van die laerskoolkinders wat in die motor was, Aimeé Janse van Rensburg, in ʼn kritieke toestand in die waakeenheid van ʼn hospitaal in Klerksdorp. Laerskool La Hoff, waar Aimeé in gr. 6 is, het in ʼn inskrywing op die skool se Facebook-blad gesê Aimeé, haar twee maats, Rilanka en Lenike, asook Rilanka se suster, broer en vriend was op pad terug van die Matlosana-winkelsentrum nadat hulle Rilanka se verjaarsdag gevier het toe die ongeluk gebeur het.

Volgens die skool is Aimeé in ʼn geïnduseerde koma in die waakeenheid, terwyl Rilanka ook in die waakeenheid opgeneem is. Lenike is met verskeie breuke in ʼn gewone saal opgeneem.

Maroela Media verneem Hernus se vriend wat saam in die motor was, Marchand Nel, is ook ʼn leerder van die Hoërskool Klerksdorp.

“Rilanka en Lenike is buite gevaar, hoewel Rilanka steeds met verskeie breuke en inwendige beserings in die waakeenheid is. Sy word gereeld wakker en kan met haar familie praat. Aimeé is ook in die waakeenheid en word deurgaans gemonitor.

“Tans is sy redelik stabiel, maar steeds aan die ventilator gekoppel en in die geïnduseerde koma. Helouise is ook buite gevaar en saam met Lenike in die gewone saal,” het Laerskool La Hoff Sondagaand op Facebook geskryf.

Sarita Botha, Aimeé se ouma, het Maandagoggend aan Maroela Media gesê die familie sien in dié stadium nie kans om met die media te praat nie. “Aimeé se toestand is kritiek, maar ons bly glo en vertrou die Here vir wonderbaarlike genesing. Ons ou kleintjie het baie seergekry en die ander kinders het ook seergekry. Dit is regtig ʼn baie tragiese gebeurtenis,” het sy gesê.

“Al wat ons nou kan vra, is: bid net saam met ons. Ons het gebed nou meer as enigiets anders in die wêreld nodig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

44 Kommentare

LK ·

Vreeslik hartseer! Sterkte aan die familie…maaaar 6 kinders in die kar? met bestuurder 7?

Ronel ·

Al ooit gedink aan ‘n 7 seater of ‘ n kombi?
Sterkte aan die familie van die kinders betrokke in die ongeluk, maar veral Hernus se ouers.

Ook 'n ma ·

Het jy geweet…..The Toyota Fortuner is a comfortable seven-seater with seating configuration of 2+3+2.

Bid asseblief eerder saam.

Karien Oosthuizen ·

Dit is n SUV met 7 sitplekke. Bid eerder vir hierdie mense asb!

LK ·

Dan is dit nie n kar nie maar Minibus of SUV. (MultiSeating) n motorvoertuig,kar soos genoem is maximum van 5.

Anel ·

LK, daar staan in die berig motor en nie kar nie. Ons ry ook ‘n 7 sitplek SUV maar praat ek so? Nee, ons praat van ons motor of kar. Volgende gaan jy seker wil weet of sy met haar ligte aangery het en watter kleur die motor was?
Moenie onsensitief wees en alklaar regter probeer speel en die arme ma wat bestuur het en haar kind aan die dood afgestaan het, veroordeel nie. Ek weet nie of jy enigsins weet nie maar ‘n ongeluk gebeur baie vinnig. Bid eerder saam vir almal se herstel as om te kibbel oor hoeveel in ‘n kar was.

Vragmotor ·

Vragmotors, taxies en busse ry net soos hulle wil, hoe spoed en druk ander van paaie af, want hulle kan, daar is min tot geen nagevolge nie. Dashcams en GPS logs moet verpligtend wees om skuldiges te vervolg sodat die sterftes op onjs paaie kan afneem.

Bestuurder ·

Ek is n vragmotor bestuurder, en volgens my en my cam footage, is die motoriste ongeduldig, kyk nie, en jaag soos hul wil. Baie maklik om ons elke keer te blameer vir julle onverskilligheid.

Karien Oosthuizen ·

Die mamma wie se seun gesterf het en haar ander 2 kinders is ook in hospitaal. Een in ICU en ander een in n gewone saal. Sy het gebede nodig ! ?

Johan ·

Hoekom net strafbare manslag klag.? Die man kan mos van roekelose en nalatige bestuur OOK aangekla word. Ek ruik n rot en hier gaan iemand waarskynlik weer lig gestraf word, as hy wel gestraf word..

Emma ·

Strafbare manslag is ‘n baie meer ernstige klag en dra dus meer gewig, maar wat maak dit saak, soveel hartseer wat gebede nodig het…

Gesiggie ·

Sterkte aan elke kind, mag Jesus jul gou weer beter maak… en my innige meegevoel aan die prag van n seun se ouers… dit is so hartseer…

Marlene ·

Ons bid dat Die Vader Sy Groot Hande om julle sal vou en dat Hy julle krag sal gee in die bitter bitter moeilike tyd. Die pad is n moeilike pad, maar ons sal saam met julle bid vir groot genade. Moenie julle ore nou uitleen aan alle mense wat allerhande goed vra of sê nie. Die Here ken julle harte en Hy sal vir julle die krag gee. Glo my, die mense wat nie al deur so iets is nie, sal nimmer as de nooit dit kan verstaan nie. Ons bid vir julle en sterkte met die ander kinders en ons bid vir spoedige volkome herstel.

Jacques Swanepoel ·

Ek is in beheer van vervolgings in Klerksdorp en hanteer die saakdossier. Weerhou u asb daarvan om kritiek te lewer of skuldiges uit te wys as u nie weet wat die feite is nie. Gee die polisie geleentheid om AL die feite te versamel. En san sal n ingeligte besluit geneem word rakende n vervolging al dan NIE..

Jacques Swanepoel ·

Ek is in beheer van vervolgings in Klerksdorp en het reeds insae in die dossier gehad. Weerhou u asb daarvan om kritiek te lewer of skuldiges uit te wys as u nie kennis dra van die werklike feite nie. Gun die polisie die geleentheid om hul ondersoek af te handel. Dan sal n ingeligte besluit geneem kan word oor n verdere vervolging.

Nettie ·

@Jacques Swanepoel – ditsem! Sê die ‘regters’ hier op hierdie kommentaarblad. Tensy julle dáár was, gesien het wat gebeur het of deel van die ondersoekspan vorm, moenie gevolgtrekkings maak en uitspraak lewer nie.

‘n Jong, onskuldige kind is hier dood en talle ander beseer. ‘n Ma se hart is uit haar borskas geruk. want haar een kind is dood en twee ander ernstig/kritiek beseer, Wees asb. tog bietjie meer menslik en wens die gesinne en oorlewende slagoffers tog vrede, sterkte en voorspoed toe?

Linda ·

Ek het ook gewonder wie die voertuig bestuur het, toe lees ek n ander berig wat se die Moeder van die seun wat oorlede is, het ook baie seer gekry. Weereens besef ek dat sulke ernstige ongelukke gebeur naby mense se woonplek. Sterkte aan almal wat in die ongeluk betrokke was !!!!

Renier ·

Innige meegevoel met die ouers van die seun. Dis werklik hartseer om te verneem dat ‘n jong kind se lewe weggeruk is…

Liendempers ·

Yskoue hande om my hart. Ek het ook n 7 seater en gereeld ry ek met my 2 seuns en hulle maters rond. Ek bid vir almal hier, dis so verskriklik hartseer??

Lollie ·

Baie baie sterkte aan almal betrokke! Ons gebede is met julle en bid vir krag, sterkte en vertroosting!

susan ·

Dis baie hartseer. Sterkte vir al die families. Ek wonder net hoeveel lewens dit nog gaan kos voordat daar iets gedoen gaan word met die roekelose trokdrywers. Ons op dieselfde N12 n saterdagaand omstreeks 8 uur afgedruk van die pad deur n ongeduldige trok drywer wat toe met n helse spoed verder gejaag het .

Andrea ·

Almal kan maar sê wat hul wil oor trokke en motorbestuurders… Groot trokke op die paaie veroorsaak baie van die padongelukke.

Linda ·

Susan, ja hierdie afgelope naweek is 4 van ons land se top scuba duikers oorlede, van Randburg, toe hul van Mosambiek gekom het, en n trok in hulle ingejaag het iewers naby KZN. Trok bestuurders ry te vinnig en het geen respek vir ander pad gebruikers nie

Elvira ·

Bid mense. Bid. Dis nie nou tyd om te redekawel watse motor dit was nie. Die kinders en familie het ons almal se gebede nou dringend nodig.

Andrea ·

Wat n ontsettende tragedie! Eks so bitter jammer oor die pragtige jong seun wat weg is. Sterkte aan sy ouers, familie en vriende. Mag al die beseerdes volkome en vinnig herstel?

Anton ·

Innige meegevoel met die familie. Ek bid dat die Here die familie sal versterk en styf teen Hom sal vashou in die droewige tyd.

Yankee ·

Ek glo aan gebed, maar in so n hartskeurende oomblik gaan geen gebed n lewe terugbring nie!! Ook nie die oneindige seer nie.

Nettie ·

@Yankee ….. Nee, niemand sê gebed gaan ‘n oorledene terugbring nie, want dood is immers dood.

Maar gebed kan mense vertroos, want immer smag die menslike wese na ‘n hoër, meer intelligente wese as die mens self, want hoekom bid mense al eeue lank tot ‘n God/Here/Almagtige Vader/Abba/Jehova, Messias of Allah?

Hannelie ·

Baie baie sterkte aan almal wat geraak is in die ongeluk. Sterkte aan die seun se familie. En ek wil net noem, ALLE trokbestuurders is nie ALTYD skuldig nie. Ons weet nie een wie hier die skuldige party is nie. Ek het my broer verloor, as gevolg van ‘n dronk bestuurder wat onder die lorrie ingejaag het. En hulle was altesaam 6 mense betrokke in die ongeluk, my broer en sy mede bestuurder van die lorrie, die 4 mense in die voertuig….en almal het gesterf. So ons moet asseblief nie veralgemeen en altyd die skuld op die lorrie bestuurders pak nie. Soos Jacques Swanepoel sê, hulle is in beheer om inligting in te samel, laat hulle hul werk doen. Kom ons bid eerder vir al die families betrokke.

nannie ·

Baie sterkte aan die familie en ouers van die seun en ander kinders.
Ek lees so deur al die kommentare en besef hier is baie “ondersoek beamptes” van die ongeluk. En hulle geen nie n flenter om wie en wat hul se nie. Besef net asb dat baie van die slagoffers ook hierdie nuus lees.
Dankie mnr Swanepoel vir jou positiewe kommentaar.

Nadia ·

Almal wat so lekker kritiseer oor 5 seats of 7… Julle is seker soooo volmaak en perfek! Ken julle die mense se omstandighede? Die mense het uit die hulle harte duie kindtjie se verjaardaag gaan vier! ongeag hoe hulle daar gekom het!!!! Bid eerder en hou op KRITISEER! As jy niks goed het om te sê nie bly stil! Baie sterkte aan die ouers, maaitjies, Familie en gemeenskap. As dit my kinders was sjoe ek wil nie eers daaraan dink nie. EK bid vir julle.

anoniem ·

Dit was ‘n Toyata SUV met (7seater) vir die wat so aanhou, die pyltjie het het groen geflikker en sy het gedraai en die trok het reg oor die rooi robot gery van die aankomende verkeer se kant af, die maatskappy wie se trok dit is, het klaar die footage op die trok se kamera gekyk en dit wys dat hy verkeerd was

Nadia ·

anonym – baie dankie vir die terug voer. Dit is baie sleg vir die ouers :-( Om te dink al die kidners was gelukkig want wat is nou lekkerder as ‘n onskuldige kinder partytjie! @Hannetjie – dankie vir die kommentaar en dat jy saam stem. En siedaar… ek hoop die mense wat so die ouers kritiseer het sluk hulle self some in!
Ek as ouer doen ook die beste vir my kinders mens verwag nie so tragiese gebeurtenisse nie!

Linda ·

Anoniem, dankie dat jy hier vertel wat gebeur het, het jy gesien hoe lyk daardie Toyota SUV ? Net die Here se genade was daar teenwoordig dat al die passasiers nie gesterf het nie.

ERIKA ·

Linda & Anoniem. Ons het voertuig gesien en dit is ‘n wonderwerk dat almal nie gesterf het nie. Die Vragmotor bestuurder het erken hy is oor rooi lig en die on board camera wys ook hy het nie eers probeer stop nie. Dis ‘n vreeslike hartseer dag vir die ouers wat se kinders so seer gekry of gesterf het. Mense moet net bid en glo en geen slegte kommentaar se nie. Die saak is erg genoeg soos wat dit alreeds is. baie dankie vir almal se gebede ek glo annualize en sarina en die pappas waardeer almal se gebede en bemoediging so baie.

Nonnie ·

Swanepoel, hoekom weet jy nie van die ‘footage’ wat presies wys wie verkeerd was nie???? Nou moet ons almal saam bid vir almal wat in die SUV was.

Juffrou ·

Ek wil graag vir Maroela Media vra om hulle berigte so te plaas dat verwarring nie ontstaan nie…soos om te praat van slegs die kinders en nie na die bestuurder te verwys nie. Mense is van nature geniepsig en soek fout. Skakel asb daardie foute uit deur seker te maak die berig lok nie onnodige kommentaar uit nie. Nou sê almal mekaar sleg oor iets baie onnodig wat vermy kon word.

Chris ·

So verskriklik jammer vir almal betrokke. Dis n baie slegte ongeluk…

My vraag kom Op: waar is Klerksdorp verkeersafdeling? Jy sien hul nerens werk nie en al wanneer hul voertuie beskikbaar is, is wanneer hul inkopies doen of huis toe ry. Wets toepassing in Klerksdorp is lankal nie meer te noem nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.